Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Brande
Kyk: ‘Ons waarsku, maar niemand doen iets’

Inwoners van Elandskraal naby Knysna sê hulle het meer as ’n maand gelede al die brandweer in kennis gestel van ’n brand wat in digte bos in die berge bo hul plase smeul, maar niks is ooit hieraan gedoen nie.

Die brand is vermoedelik deur weerlig veroorsaak. Inwoners sê die brand het uiteindelik opgevlam nadat ’n sterk wind Woensdagoggend vroeg begin waai het. Die brand het uiteindelik groot dele van Knysna in puin gelê.

Anton en Anita du Plessis by die murasie van die huis in Elandskraal wat hy self gebou het.Foto: Deon Raath

Dr. Wallace Vosloo, ’n ingenieur van Stellenbosch wat vir Eskom werk, het die afgelope week aan Rapport ’n video gewys wat hy op 27 Mei van die brand geneem het. Die video toon ’n rookpluim en ’n uitgebrande gebied ongeveer so groot soos ’n rugbyveld.

Vosloo het intussen met forensiese presiesheid die oorsprong van die brand met die hulp van weerligdata, satellietfoto’s en weerdata van die outomatiese weerstasie op sy plaas nagevors. Hy het sy verslag aan Rapport beskikbaar gestel.

Daarvolgens het ’n weerligstraal ’n bergagtige gebied 4 km suid van Karatara (en minder as ’n kilometer van sy eie huis af) op 12 April om 15:37 getref. Wallace sê hy glo die brand het sedert dié dag ondergronds in die digte plantegroei gesmeul omdat boomwortels weens die intense hitte van die weerlig aan die brand gesteek is.

Wallace se verslag toon ook dat hy en sy bure verskeie kere sedert hulle van die smeulende brand bewus geword het, die brandweer op Sedgefield daaroor gebel het, maar dat niks daaraan gedoen is nie. Sy outomatiese weerstasie toon dat die wind skielik Woensdagoggend met meer as 20 km/h begin versnel het en noordwes gedraai het. Teen 05:17 daardie dag is sy plaashuis verwoes en het die weerstasie opgehou om data te stuur.

Wallace is oortuig dat dié wind, tesame met lae humiditeit en stygende temperature, bygedra het tot die vinnige verspreiding van die brand.

Sy buurman Anton du Plessis sê hy het Sedgefield-brandweer meer as ’n maand gelede aan die einde van April gebel om die brand aan te meld.

“Hulle kan nie ’n trok hier inkry nie, want die ding (voertuig) was te groot en daar was in daardie stadium ook ’n brand in Mosselbaai. Hulle sê toe die brand is klein en daar is nie vlamme nie en dat dit self sal doodgaan.”

Du Plessis sê hy het uiteindelik ­Wayne Sternsdorf, brandweerhoof op Sedgefield, persoonlik gekontak. Hy het kom kyk en voorgestel dat hulle voorbrande maak, maar uiteindelik het niks daarvan gekom nie.

“Op 31 Mei is ek self na daai kol. Toe sien ek dit smeul en dit beweeg! Kyk, ek kan niemand veroordeel nie. Miskien is die ou (Sternsdorf) se hande afgekap. Dit gaan mos oor hulpbronne. Maar hulle kon tog ’n heli ingestuur het. Hulle kon die kol gaan omdolwe het. Maar daar was zero reaksie.”

Rapport het die afgelope week die bewerings aan Clinton ­Manuel, brandweerhoof vir Sedgefield en Knysna, gestel. Volgens hom is die oorsaak van die brand nog onbekend.

Hy beweer die “smeulende bos” waarna Vosloo in sy verslag verwys, is “destyds deur Sedgefield-brandweer en die brandweer van die Eden-distriksmunisipaliteit uitgesorteer”.

Hy beweer die afgelope week se brand het in ’n “plantasie” naby Elandskraal (in die omgewing van Vosloo se plaas) begin en nie in die natuurlike bos waarna Vosloo verwys nie.

Afgebrande huise in die Knysna Heights-woongebied. Foto regs: Marie Shyre (73, swart trui) se hele huis is in puin gelê. Foto’s: deon raath

Vosloo sê egter hy het intussen satellietfoto’s van Nasa gekry wat Vrydag geneem is en wat duidelik toon dat die rampspoedige brand wel in die gebied begin het waaroor hy en sy bure al ­weke tevore gewaarsku het.

Die foto toon dat die brand windaf uit die gebied in die rigting van Knysna versprei het terwyl die gebied windop daarvan glad nie gebrand het nie.

Vosloo het benadruk dat dié data egter nie voorgee om die enigste bron te wees van wat al die katastrofiese brande op 7 Junie kon veroorsaak het nie.

Meer oor:  Brand
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.