Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Brande
KYK: So lyk skool in Zonnebloem ná brand

Was dit nie vir die leerlinge van die Holy Cross Rooms Katolieke Laerskool in Zonnebloem nie, het onderwysers en nooddienste nie so gou gereageer toe vlamme in die skool se biblioteek uitgebreek het nie.

Die ingang van die ou gedeelte van die skool, wat byna 100 jaar oud is, wat Donderdagmiddag in die brand verwoes is.Foto: Ané van Zyl

“Meneer, juffrou! Daar kom rook by die dak uit!” het die laerskoolkinders geskree terwyl hulle pouse gehou het, vertel André Thomas, woordvoerder en onderwyser by die skool.

“Alles het so vinnig gebeur. Die manlike onderwysers het dadelik seker gemaak dat al die kinders weg van die brand was en die onderwyseresse het die kinders bymekaargemaak en koppe getel,” vertel Thomas oor die oomblikke nadat hul agtergekom het die dak bo die skool se biblioteek brand.

’n Meisie in gr. 7 het na een van die onderwysers gehardloop en gesê haar jonger boetie van vyf jaar oud is nog vermis.

“Ek en een van my mede-onderwysers, Edwin Chemo, het saam met ’n paar ander by die skoolgebou ingehardloop om die seuntjie te gaan soek,” vertel Thomas.

“Meneer Chemo was eerste by die deur, maar dit was gesluit. Hy het so hard as wat hy kon met sy skouer teen die deur gestamp om dit oop te kry. Sy skouer was later vol bloed,” sê Thomas.

Stukke papier uit die kinders se skoolboeke is in die puinhope sigbaar. Die houtpanele teen die mure het ook uitgebrand.Foto: Ané van Zyl

Die groepie manlike onderwysers het die vyfjarige in ’n hoekie in een van die klasse gekry. Die vertrek was vol rook.

Al die kinders is veilig na buite en die onderwysers het die vlamme met brandblussers probeer blus. Thomas sê die nooddienste was gou op die toneel om by hulle oor te neem.

“Dit was so warm dat die vensters gebars het. Ek het later besef my T-hemp is geskroei,” sê Thomas.

Daar is tussen 400 en 500 leerlinge in die skool, waarvan talle arm is. Thomas sê dat verskeie kinders daagliks honger skool toe kom.

“Ons het ’n voedingsprogram by die skool wat elke dag vir die honger kinders kosgee. ’n Gedeelte van die kombuis waar die kos gemaak is, het ook gebrand,” sê Thomas.

Hy het die gasbottels in die kombuis ontkoppel en weggeneem van die hitte om ’n gasontploffing te voorkom.

Die dak van die klaskamers het ineengestort.Foto: Ané van Zyl
Een van die brandblussers wat teen die muur van die ingangsportaal hang. Die onderwysers kon dié brandblusser nie gebruik nie.Foto: Ané van Zyl

Behalwe vir die kombuis en drie klaskamers, het die skool se biblioteek ook in die slag gebly. Die biblioteek is onlangs opgeknap en met nuwe boeke toegerus. Daar was ook sowat 40 rekenaars wat in die slag gebly het.

“Ons harte is gebreek oor die biblioteek. Ons sou dié week die nuwe biblioteek vir die leerlinge gewys het. Nou is dit alles weg,” sê Thomas.

Die skoolhoof, Nomthandazo Zweni, sê daar is verskeie items wat die skool nou nodig het. Dit sluit in tafels en stoele, boeke, rekenaars, ’n klavier om die een te vervang wat uitgebrand het, rugsakke vir die kinders wat hul eie sakke in die klas moes agterlaat tydens die brand en kos vir dié wat honger skool toe kom.

Nog ’n onderwyser by die skool, Milton Emmett, sê dit is wonderlik om te sien hoe die gemeenskap saamstaan ná die tragedie. “Ons het reeds skenkings van die gemeenskap ontvang. Selfs mense wat ons nie ken nie, het bygedra,” sê Emmett.

Die skool was Vrydag oop en verskeie maatskaplike werkers was daar om met die leerlinge te gesels ná die traumatiese ervaring.

André Thomas, woordvoerder en onderwyser by die skool, kyk na een van die dakbalke wat geval het nadat almal veilig uit die gebou is. Foto: Ané van Zyl
Die vensters van die kerk wat baie naby aan die gebou staan wat verwoes is, het ondanks die vreeslike hitte niks oorgekom nie.Foto: Ané van Zyl

Meer oor:  Skade  |  Brand  |  Skool
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.