Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Brande
KYK: Stropers stig glo brand by lodge by Krugerwildtuin

Gewapende mans het veldwagters van die Mpumalanga-agentskap vir Toerisme en Parke (MTPA) slegs enkele dae voor ’n verwoestende brand in ’n luukse lodge aangeval.

Minstens 80 mense sit nou sonder werk nadat stropers die Bongani Mountain Lodge Sondagaand aan die brand gesteek het.

Steffen Schneier, direkteur van die Bongani Mountain Lodge, het Woensdag by navraag gesê die lodge is Sondag met opset aan die brand gesteek.

“Die brand het groot skade aangerig,” het hy in ’n verklaring gesê.

Groot skade is aangerig in ’n brand by die luukse Bongani Mountain Lodge in Mpumalanga. Foto: Verskaf
Toeriste wat binnekort die Bongani Mountain Lodge in Mpumalanga sou besoek, sal nou ander reëlings moet tref nadat dié lodge Sondag in ’n brand beskadig is. Foto: Verskaf
Die Bongani Mountain Lodge wat aan die suide van die Krugerwildtuin grens, is Sondagaand in ’n brand beskadig. Die vermoede bestaan dat dit moontlik stropers was wat die lodge aan die brand gesteek het Foto: Verskaf

Dié luukse lodge grens aan die suide van die Krugerwildtuin en is in die Mthethomusha-wildreservaat van sowat 8 000 hektaar. Dit is ook deel van die aha-groep vir hotelle en lodges.

Schneier sê in die verklaring die moeilikheid het egter reeds Vrydag begin toe ’n man, ’n vermeende stroper, naby die reservaat doodgeskiet is.

“Die saak word ondersoek. Die veldwagters het egter ontken dat hulle by enige skietgeveg betrokke was. Later Vrydagaand het ons noodkrete van die veldwagters gehoor dat ’n groep gewapende mans hulle aanval. ’n Skietgeveg het uitgebreek en het amper die hele nag geduur.

“Die veldwagters het Saterdag teen 05:00 laat weet hul ammunisie is op en dat hulle skuiling soek,” lui die verklaring.

Hy sê die lodge se bestuurder het die polisie van die situasie in kennis gestel. “Die polisie was hier, maar het nie by die skietgeveg betrokke geraak nie,” sê Schneier.

Ons is een van die lodges wat die meeste mense in diens kon neem. Nou sit ons met minstens 80 werkers waarvoor ons weens die brand nie meer werk het nie.

Kholofelo Nkambule, woordvoerder van MTPA, het Vrydagaand se voorval aan Netwerk24 bevestig.

“Ons spanne op die grond werk saam met die polisie om vas te stel wat gebeur het. Ons wag dat die ondersoek afgehandel word voordat ons verdere besluite neem,” het sy gesê.

Schneier sê in sy verklaring die lodge het Sondagaand kort voor die brand waarskuwings uit die gemeenskap ontvang dat ’n brand beplan word. “Ons het die polisie ingelig dat so situasie moontlik kan wees,” sê hy.

Volgens hom het ’n groep gewapende mans eers die reservaat se hek, wat sowat 7 km van die lodge af is, aan die brand gesteek voordat hulle na die lodge beweeg en dit ook geteiken het.

Een van die luukse chalets in die Bongani Mountain Lodge in Mpumalanga. Foto: Facebook

Daar was geen gaste in die lodge toe die brand Saterdag uitgebreek het nie. Alle werkers is ook veilig ontruim.

“Ons is een van die lodges wat die meeste mense in diens kon neem. Nou sit ons met minstens 80 werkers waarvoor ons weens die brand nie meer werk het nie,” sê Schneier.

Ruzandri Stoltz, bemarkingsbestuurder van die aha-groep vir hotelle en lodges, het Woensdag gesê dit is met groot hartseer dat hulle van die verwoestende brand verneem het. “Die saak word ondersoek,” sê sy.

Sy sê die aha-groep sal nou in kontak wees met gaste en toeroperateurs wat besprekings by die lodge gehad het.

Brig. Leonard Hlathi, provinsiale woordvoerder, het nie op navrae gereageer nie.

Meer oor:  Stropers  |  Bongani Mountain Lodge  |  Krugerwildtuin  |  Brand
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.