
Digte rookwolke van die veldbrand Donderdagmiddag naby Kampsbaai in Kaapstad.
Minstens agt brandweerwaens, 45 brandbestryders, twee helikopters en ’n vliegtuig word ingespan om ’n brand naby Kampsbaai in Kaapstad te bestry.
Jermaine Carelse, woordvoerder van die Kaapstadse nooddienste, het aan Netwerk24 gesê die brand is tans nog nie onder beheer nie.
“Helikopters word ook nou ingespan,” sê hy.
Lede van die Kaapstadse nooddienste asook van die Tafelberg Nasionale Park en Working on Fire bestry tans die brand tussen Bakoven en Kampsbaai net bo Victoria-rylaan.
“Dié pad, sowel as Houghton- en Llandudno-weg, is gesluit weens die brand,” sê Carelse.
Volgens hom is daar tans nog geen eiendom in gevaar nie. “Die publiek sal ingelig word indien die situasie verander, maar tans lyk dit nie asof dit nodig sal wees vir mense om die gebied te ontruim nie,” sê hy.