Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Brande
KYK: Vlamme verswelg 6 000 ha, maar raak nie aan huise

“Klim in die kar en ry!”

Dit was die woorde van George Ferns aan sy vrou, Christa, toe vlamme Woensdag in die vroeë oggendure gedreig het om hul huis in ’n landgoed naby Rustenburg in Noordwes te verswelg.

“Ek het net die rooi vlammemassa naby ons huis gesien, dit was verskriklik,” het Christa later Woensdag vertel. “Die geluid van bome wat kraak en die geweldige spoed van die vuur in die wind was vreesaanjaend.”

Volgens Christa is dit ’n “wonderwerk” en danksy gemeenskappe in die Rustenburg-omgewing wat almal gehelp het om die vuur te blus, dat die brand nie een van die huise in die Utopia Nature-landgoed vernietig het nie. “In 2012 het 13 eenhede afgebrand en ons het toe gesê nooit weer nie.”

Inwoners van die Buffelspoortvallei-omgewing het benoude oomblikke beleef toe die vlamme tot teenaan hul huise gewoed het. Geen huise het afgebrand nie. Foto: Verskaf

Christa, ’n trustee van die landgoed, was Woensdag nog pootuit nadat sy deurnag betrokke was by die reëlings met die brandbestryding. “Ons moes in ’n stadium ’n klomp mense uit hul huise in die landgoed verwyder en na huise neem waar nie (onmiddellike) gevaar was nie.”

Die brand het vanaf die Magaliesberge na onder meer ’n reservaat en van daar na Utopia, plase en ander landgoedere in die omgewing versprei. Dit het reeds Maandag op die berg by Owen Sutton se Mountain Sanctuary Park digby Utopia begin.

“Ons weet nie wat die brand veroorsaak het nie,” het Sutton Woensdag gesê. “Ek en my span by die park het dit Maandagoggend om 11:00, toe dit nog net hier was, begin bestry. Die wind het egter later opgekom en die vlamme na plase in die omliggende omgewing aangeblaas.”

Mense in die omgewing het sedertdien onverpoos gespook om die vlamme te blus teen die mag van die wind en droë toestande ná die winter. Hulle het ook voorbrande gemaak om die verdere verspreiding van die brand te probeer keer. Inwoners van Utopia het selfs tuinslange en sproeiers ingespan. “Ons het verbete geveg,” sê Christa.

So het die brand in die Buffelspoortvallei-omgewing naby Rustenburg gewoed. Foto: Verskaf

Sutton sê daar is baie wilde diere in sy park en hulle is nog besig om vas te stel hoeveel van die diere in die brand gevrek het. “Die brand het ook pyplyne beskadig.”

Die Rustenburg-munisipaliteit se brandbestryders was ook daar om die brand te help bestry, maar volgens ’n inwoner van Utopia het hul water opgeraak. “Hulle het toe gery om nog water te gaan haal, maar nooit weer teruggekom nie.”

Daan Meyer, hoof van brandbestryding in die Buffelspoortvallei sowat 40 km van Rustenburg waar die brand gewoed het, sê hulle kon die brand Maandagnag by Utopia stuit, maar dit het Dinsdagoggend weer opgevlam, berg-af beweeg en na plase en ander landgoedere in die omgewing versprei.

Meyer sê tientalle mense van so ver as Rustenburg en Kroondal het kom help om die brand te bestry. “Woensdagoggend teen 03:00 was die vuur geblus.”

Die vlamme het van die Magaliesberge na plase en landgoedere in die omgewing versprei. Foto: Verskaf

Meyer, wat met sitrus en beeste in die omgewing boer, skat ’n gebied van sowat 6 000 ha het gebrand.

“Die skade moet nog beraam word, maar niemand is beseer nie, geen huise het afgebrand nie en geen plaasdiere het gevrek nie. Van die boere se sitrusbome het gebrand en pypleidings is beskadig. Een boer skat hy het sowat R50 000 se skade gely, en ’n ander het sowat R20 000 se verlies gely.”

• David Magae, woordvoerder van die Rustenburg-munisipaliteit, sê dit was besonder moeilik vir hul brandbestrydingseenheid om by die bergagtige dele in te kom. “Hulle moes by die hoofpad wag vir watertoevoer. Ons het intussen verskeie ander brand-oproepe uit ander gebiede gekry. Ons het nie genoeg hulpbronne gehad om al die brande te bestry nie.”

Meer oor:  Huise  |  Brand
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.