Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Brande
KZN-lodge brand af in weghol-veldbrand

’n Luukse familie-lodge is Sondag in ’n verwoestende veldbrand in die Eston-streek in KwaZulu-Natal tot op die grond afgebrand.

Niemand is in die voorval by die Gwahumbe Lodge en Spa beseer nie.

Die vuur het Sondagoggend vroeg sowat 16 km vanaf die lodge ontstaan is deur sterk winde in die rigting van die lodge gedruk.

Miljoene rande se skade is aangerig aan die lodge wat net meer as ’n kwarteeu oud is.

Volgens Terry Tedder, brandbeskermingsbeampte van die Richmond Brandbeskermingsvereniging, is uiterste toestande ervaar met winde van tot 60 km/h.

Charl Fick het Sondag dié foto geneem van die Gwahumbe Game en Spa Lodge se perde terwyl hulle na veiligheid gebring is, terwyl die wegholveldbrand wat die lodge in puin gelê het deur stormsterkwinde op die agtergrond nader woed. Foto: Charl Fick

Verskeie brande het oor ’n gebied van duisende kilometers uitgebreek in onder meer Thornville, Richmond, Camperdown, Eston en Mid Illovo.

Eston en Mid Illovo is die ergste geraak, waar nagenoeg 2 000 ha se suikerrietplantasies, houtplantasies en grasveld verbrand is, sê Tedder.

“Daar is baie verhale van wonderwerke. Van huise wat deur grondeienaars en hul werkers gered kon word, terwyl ander met hul troeteldiere moes ontruim en teruggekeer het met die besef dat die grasperke net tot by hul huis gebrand het en geen verdere skade aangerig is nie,” sê Tedder.

Die meeste boere en huiseienaars was Dinsdag nog besig om vas te stel hoeveel skade aangerig is.

Shanon MacKenzie, huidige eienaar van die lodge nadat sy dit by haar ouers oorgeneem het, sê daar is regdeur die dag en tot laat in die nag sy aan sy met die plaaslike gemeenskap geveg om die lodge te red.

Ongelukkig het die brand alles in sy pad verwoes, sê sy.

Ten spyte daarvan dat die plaaslike gemeenskap saam met werknemers en eienaars van die Gwahumbe Game en Spa in die Eston-distrik teen die brand geveg het, het die brand die oorhand gekry. Feitlik al die geboue van die lodge is in puin gelê. Al die weiding vir die lodge se wild is ook vernietig.

Sy het haar dankbaarheid uitgespreek teenoor almal wat gehelp het om die gaste en personeel van die lodge na veiligheid te bring. Kliënte wat plek bespreek het, sal binnekort gekontak word om verdere reëlings te tref.

“Die belangrikste is dat al ons personeel veilig is en dat hul verblyfplek gered kon word. Ons het die meeste van ons getraumatiseerde personeellede intussen huis toe gestuur,” sê MacKenzie.

Maandagoggend het MacKenzie en haar familie vroegoggend saam met natuurbewaarders in die veld gegaan om seker te maak die wild op die plaas is veilig. “Teen die middaguur het dit geblyk dat die verlies aan dierelewens minimaal was. Ons kon die meeste van ons diere op die plaas opspoor,” sê MacKenzie.

Gwahumbe is 26 jaar gelede gestig deur haar ouers, wat die reservaat self ontwerp en gebou het op gerehabiliteerde plaasgrond. Deur die jare het die lodge al baie werk gedoen ter bevordering van natuurbewaring en was ook al gasheer vir die BBC-televisiereeks Top Gear en Gordon Ramsay se National Geopgraphic reis-en-kook-program UnCharted.

’n Beroep is gedoen op die publiek om die lodge en ander boere in die omgewing by te staan wat nou deur ’n massiewe weidingstekort in die gesig gestaar word.

• Ike Phaahla, woordvoerder van die Krugerwildtuin, het Dinsdag by navraag gesê dit is nog onseker wat tot die ontstaan van die brand by die restaurant van die Berg-en-Dal-ruskamp in die wildtuin gelei het.

Dele van die eetsaal en grasdak is in die brand beskadig, het Ischke van Eeden berig.

“Die ondersoek is nog nie afgehandel nie, en dit sal nog ’n wyle wees voordat ons antwoorde het,” het Phaahla by navraag gesê.

Só het die lodge voor die brand gelyk. Foto: Gwahumbe Game en Spa

Meer oor:  Gwahumbe Lodge En Spa  |  Kzn-Lodge  |  Terry Tedder  |  Shanon Mackenzie  |  Afbrand  |  Veldbrand  |  Brand
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.