Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Brande
Langebaan-brand: Vrae oor brandweer se reaksietyd

Daar is vrae oor die reaksietyd van die Saldanhabaai-munisipaliteit se brandweer wat van Vredenburg moes kom om die brand Woensdagoggend by die Driftwoods-restaurant in Langebaan te blus.

Jaco Kotzé, ’n onafhanklike raadslid (Saldanhabaai-inwonersalliansie) van die Saldanha-munisipaliteit, het Donderdag gesê hy is self na die toneel toe hy besef daar is ’n brand.

Daar was kommer dat die brand na die omliggende geboue sou versprei terwyl daar gewag is vir die brandweerwa om van die Vredenburg-brandweerstasie na Saldanhabaai te kom.

Kotzé sê met ’n gewone voertuig neem dit tussen 20 minute en 30 minute om van die een na die ander dorp te ry.

Die brand Woensdagoggend by die Driftwoods-restaurant in Saldanha. Foto: Skermgreep/Facebook

Die brandweer bedien Vredenburg, Hopefield, St. Helenabaai, Paternoster, Saldanha en Langebaan.

Vantevore was daar ’n voertuig in Saldanhabaai met ’n watertenk van 800 liter. Plaaslike munisipale beamptes is geleer om ’n brand te hanteer totdat die groter brandweerwa van Vredenburg af kan kom, sê Kotzé.

Hy sê dat hy Woensdagoggend die rook gesien het. Met sy aankoms by die Driftwoods-restaurant het daar mense rondgestaan en foto’s geneem. ’n Vrou het gesê sy het reeds die brandweer gebel.

Kotzé sê daar is ’n klein munisipale vragmotor met ’n watertenk van 600 liter wat gewoonlik gebruik word om rioolpype skoon te spuit. Dié water is noodgedwonge gebruik om te keer dat die brand nie versprei nie.

“Die groot kommer is die reaksietyd van die brandweerwa vanaf Vredenburg. Daar woon nou ongeveer 9 500 mense in Langebaan. Elke minuut tel in die geval van ’n brand,” sê Kotzé.

Ethne Lawrence, woordvoerder van die Saldanhabaai-munisipaliteit, het by navraag gesê dit is waar dat die brandweerstasie in Vredenburg geleë is.

Die raad het besluit om ekstra brandtoerusting te koop sodat die eerste reaksie-eenhede brande kan blus terwyl hulle op die groter brandweerwa wag.

Lawrence sê die Weskus-distriksmunisipaliteit en die Saldanhabaai-munisipaliteit het voorheen ’n ooreenkoms gehad om brandweerdienste te verskaf.

Hierdie ooreenkoms is op 30 Junie 2017 beëindig en die Saldanhabaai-munisipaliteit het hierna met verskeie projekte begin, insluitende die aankoop van bykomende voertuie, die aanstel van bykomende brandweerdienspersoneel en twee satelliet-brandweerstasies is in Tabakbaai en Hopefield gebou.

Daar is R6 miljoen in die nuwe boekjaar begroot om ’n brandweerstasie by die Saldanha-lughawe te bou sodat brand- en nooddienspersoneel vinniger toegang tot ander dorpe kan kry en die reaksietye verkort kan word.

Meer oor:  Langebaan  |  Brand  |  Brandweer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.