Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Brande
Meer brande, sterftes, skade

Die gevaar van vernietigende brande én die gepaardgaande lewensverlies het die afgelope jare toegeneem, onder meer omdat brandweerdienste nie behoorlik onderhou word nie.

Drie brandweermanne het die afgelope week gesterf toe hulle verwoed probeer het om die brand op die 23ste en 24ste verdieping van die Bank of Lisbon-gebou in Johannesburg te blus. Foto: Gallo Images

So bekommerd is die land se grootste versekeraar, Santam, oor die toename in brandskade die afgelope agt jaar dat hy ’n projek begin het om brandweerdienste in die platteland te ondersteun.

Ook Mutual & Federal het in sy jongste jaarverslae gemeld dat sy uitgawes weens brandskade toegeneem het.

Volgens die Fire Protection Association of Southern Africa (FPASA) was die totaal van eise vir brandskade in Suid-Afrika R3,1 miljard in 2016 en R2,7 miljard in 2015.

In baie dorpe waar munisipaliteite weens geldtekort en
korrupsie nie in behoeftes kan voorsien nie, is daar beswaarlik enige amptelike brandweerdienste oor.

Die dienste wat wel daar is, word in baie gevalle deur gemeenskappe self gefinansier.

Volgens John Lomberg, hoof van kliëntebelange by Santam, het klimaatsverandering en die droogte beslis bygedra tot die toename in brandskade die afgelope jare.

Die vlamme neem toe.

“Maar dit het ook vir ons duidelik geword dat plaaslike munisipaliteite sukkel omdat brandweerstasies nie oor die nodige werkende toerusting beskik nie.

“Baie brandweermanne se opleiding is ook nie voldoende nie.”

Santam het in 2012 die P4RR-projek begin en ondersteun tans 29 munisipaliteite oor die land heen. Sy mikpunt is om teen 2020 by 53 munisipaliteite betrokke te wees.

“Hoewel ons tot dusver nog net op gebiede buite die metro’s gefokus het, is dit nou vir ons duidelik dat metrogebiede ook probleme het met brande,” sê Lomberg.

Hulle werk saam met die Universiteit Stellenbosch se departement van brand-ingenieurswese-navorsing (FireSUN).

Dr. Richard Walls, hoof van dié department, beaam dat brandskade die afgelope tien jaar toegeneem het, en nie net omdat daar meer brande is nie.

“Daar is ook ’n styging in die omvang van skade en die aantal mense wat beseer word of selfs sterf,” sê hy.

Volgens Walls is Suid-Afrika uniek wat brande betref omdat ons moderne naas ou geboue én in sommige gevalle naby informele nedersettings het.

“Ons fokus baie op informele nedersettings in ons navorsing omdat daar baie van dié soort brande in ons land is en dit veral ook baie aggressief is en vinnig versprei,” sê hy.

Colin Deiner, direkteur van rampbestuur in die Wes-Kaap, sê hulle het in die afgelope vyf jaar R50 miljoen bestee om brandweerstasies op te knap, toe te rus en werkers beter op te lei.

“Ons is ook betrokke by die P4RR projek en as deel daarvan installeer ons brandverklikkers in informele nedersettings.

“Ons het al meer as 5 000 verklikkers geïnstalleer,” sê hy.

Volgens Morné Mostert, hoof van plaaslike regering by AfriForum, spring AfriForum-buurtwagte gereeld self in om brande te blus.
suzanne.venter@rapport.co.za

Meer oor:  Santam  |  Brand
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.