Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Brande
Meisie in brand met mes aangeval

’n Tienermeisie het ná ’n brand in haar gesin se woonstel in Bloemfontein ontsnap, maar het buite die woning aan meswonde beswyk.

Die Kagande-gesin: Terry en sy vrou, Cindy, by hul seun, Isiah, en haar dogter, Jade. Foto: Facebook

Jade Leonard (17) se halfbroer, Isiah (14), haar pa, Terry Kagande (56), en ma, Cindy (50), is ook Donderdagoggend in die tragedie by die woonstel in Willows dood. Jade was ’n matriekleerling aan die Eunice High School.

Die jongste verwikkeling is dat vuuraanstekers op die beddens gekry en brandstof op twee plekke deur polisiehonde uitgeruik is, sê Braam van Zyl, afdelingsoffisier van die Mangaung-metro se brandweer-en-reddingsdiens, berig Netwerk24.

Van Zyl sê die voorlopige ondersoek dui op brandstigting.

Daar is voorheen bespiegel dat die brand veroorsaak is deur ’n gasverwarmer wat ontplof het.

Toe Nicky van Niekerk (50), ’n buurman by die Soetehoop-woonstel, Donderdagoggend besef daar is ’n brand het hy ’n tuinslang gegryp en die vlamme begin blus. Van Niekerk en sy gesin het omstreeks 05:00 glasstukke gehoor breek. Hy het opgestaan en by hul woonstel uitgekyk toe hy rook sien.

Hy sê al die binnedeure van die Kagandes se woonstel, sowat drie woonstelle van waar hy af woon, was gesluit. Die Kagandes se drieslaapkamerwoonstel is een van nege op die perseel.

Die Kagande-gesin het in een van dié woonstelle gewoon. Foto: Jana Smit

Retha van Niekerk (51), Nicky se vrou, sê sy het pas die ketel aangeskakel toe sy harde gille hoor.

Van Niekerk is voor om die woonstel en Retha agterom.

Toe sien Retha rook in die woonstel se kombuis. “Ek het geroep en geklop, maar daar was geen antwoord nie.”

Van Niekerk het ’n brandslang gegryp terwyl ’n ander inwoner die kraan oopgedraai het.

“Ek het begin spuit, maar die vlamme en die rook het vinnig versprei,” sê Van Niekerk.

Sy dogter, Nico­lene (25), het gesien hoe Jade uit die woonstel kom en op die gras gaan lê.

“Sy het nie meer krag gehad nie. Ek kon sien sy is beseer.”

Jade het steekwonde aan haar lyf gehad en haar keel was oopgesny. Sy het baie bloed verloor voordat sy voor haar gesin se woonstel inmekaargesak en dood is.

Die brandweer moes eers die vlamme in die woonstel blus voordat die res van die gesin se lyke verwyder kon word. Isiah het ook meswonde opgedoen.

Frikkie van Dyk, hoof- maatskaplike werker van Engo in die Mangaung-distrik wat ook hier woon, sê die gesin het in Januarie 2020 ingetrek. Die woonstelle is op die perseel van Ons Kinderhuis in Victoriaweg.

Die kinderhuis verdien ’n inkomste deur die woonstelle te verhuur.

“Dit was altyd ’n huis vir die kinders en is ’n paar jaar gelede in wooneenhede omskep.”

Van Dyk sê die gesin het goeie verhoudings met ander mense op die perseel gehad.

“Die kinders was vriende met ons kinders en met die ander huurders se kinders.”

Van Dyk sê die brandweer was baie vinnig op die perseel.

Nicolene sê die rook het so vinnig versprei dat mense in die ander woonstelle van hul besittings uitgedra het.

Volgens van Zyl het die brandweer om 05:40 ’n oproep ontvang en was hulle om 05:45 op die toneel.

“Met ons aankoms het rook uit die woonstel geborrel en een mens het buite die woonstel gelê. Die brandweermanne het nog drie mense in die woonstel gekry.

“Aangesien dit ’n misdaadtoneel is, gaan die polisie se forensiese spanne van Pretoria ’n deeglike ondersoek kom doen.”

Polisiebeamptes was gister steeds op die toneel om leidrade te versamel. Daar is geen tekens van gedwonge toegang tot die woonstel nie en die polisie ondersoek ook ’n moordsaak.

Kol. Thandi Mbambo, woordvoerder van die Vrystaatse polisie, het gesê hulle volstaan daarby dat die polisie moord en brandstigting ondersoek, en dossiere vir navrae en nadoodse ondersoeke geopen het.

Meer oor:  Jade Leonard  |  Cindy Kagande  |  Bloemfontein  |  Brand  |  Gesin  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.