Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Brande
Minstens 50 000 ha suid van Bfn brand af
Die brand Maandagaand op die plaas Leeuwberg van adv. Colin Steyn. Foto: Verskaf

Sowat 50 000 ha weiveld is al die afgelope maand suid van Bloemfontein deur brande vernietig. Die laaste brand in die gebied was Maandagaand op Leeuwberg, die plaas van adv. Colin Steyn (59).

’n Gedeelte veld in ’n woonbuurt in Bloemfontein het ook Dinsdag gebrand.

Vlamme waar jy kyk. ’n Groot brand het op die plaas Leeuwberg van adv. Colin Steyn uitgebreek. Foto: Verskaf

Cobus Coetzee, boer en ondervoorsitter van Koppies Kraal-landbou, asook die voorsitter van die brandkomitee vir die gebied, sê die afgelope maand gaan dit woes suid van Bloemfontein waar ’n motor wat op die N1 aan die brand geraak het sowat ’n maand gelede die veld op ses plase tussen Bloemfontein en Reddersburg laat afbrand het.

“Maandag omstreeks 20:00 het Leeuwberg van adv. Steyn begin brand en ons het Dinsdagoggend tot 03:30 gesukkel om die brand daar te blus.”

Hy sê die vreeslike winde jaag die vlamme aan.

Die brand Dinsdag in Heuwelsig in Bloemfontein. Foto: Verskaf
Donker rookwolke hang Dinsdag oor Heuwelsig in Bloemfontein. Foto: Verskaf

“Die brand wat Maandagaand begin het, het beslis gegaan oor beeste of vee wat gesteel word. Veld word aan die brand gesteek om die aandag weg te lei. Ons het van die beeste teruggekry.

“Dit was nie Steyn se beeste nie, maar wel beeste van ’n buurplaas. Daar word nou vee getel om te probeer uitvind wat presies weg is. Nadat ons aanvanklik die brand in bedwang gehad het, is dit weer twee keer aan die brand gesteek. Drade is geknip en platgedruk,” sê Coetzee.

Hy sê “dinge is half teen ons, maar ons probeer ons bes”.

Die vlamme in Heuwelsig was baie na aan Hennie Potgieterstraat in Bloemfontein. Foto: Verskaf

Dave Fourie van Bloemdal en voorsitter van sektor ses van die Leeuwberg Landelike Stigting (Bloemdal, Kelly’s View, Kwaggafontein en Ferreira), sê baie van die brande aan die suide van Bloemfontein is weens mense se eie nalatigheid, terwyl brandstigting ook voorgekom het. Daar was in die laaste tyd ook gevalle waar foutiewe kragpale tot brande gelei het.

“Die brande put die boere geestelik en finansieel uit. Al die brande het groot skade veroorsaak.”

Hy vermoed ook daar kan brandstigting betrokke wees by die brand wat op Leeuwberg begin het.

Brande het drie keer op die plaas Leeuwberg van adv. Colin Steyn ontstaan. Foto: Verskaf

Nadat ons die brand Maandagaand geblus het, was ek ’n halfuur by die huis toe ek gebel word omdat daar ’n tweede brand ontstaan het. Net daarna was ek weer net vir 45 minute by die huis toe ’n derde brand ontstaan het.”

Hy sê hulle het ook Dinsdagmiddag inligting gekry van die brand in Heuwelsig in Bloemfontein, een by die hoenderplaas Sonop tussen die Bultfontein- en Dealesville-pad en by die plaas Zuurfontein in die Jagersfontein-distrik.

“Die wind was baie erg Dinsdag. Met so ’n wind sukkel jy om ’n brand te blus,” het hy gesê.

Steyn het gesê hulle sou eers Dinsdagaand weet of daar vee op die buurplase weg is en hoeveel.

Braam van Zyl, afdelingshoof van die Mangaung-metro se brandweerdienste, sê die koppie tussen Genl. Dan Pienaarrylaan, Lucas Steynlaan en Hennie Potgieterstraat in Bloemfontein het ook gebrand.

Daar was twee brandweervoertuie van die metro Dinsdag wat gehelp het om die brande in Heuwelsig te blus. “Die wind was geweldig sterk en ons was maar ’n bietjie bekommerd,” het hy Dinsdag omstreeks 16:00 gesê.

Meer oor:  Leeuwberg  |  Plase  |  Weivelde  |  Brande  |  Veldbrande
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.