Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Brande
Omvang van brandskade raak nou duidelik
Die verwoesting ná die Knysnabrand het talle inwoners dakloos gelaat. Foto: Deon Raath

Die omvang van die skade van die verwoestende brand in Knysna en Bitou begin duidelik word.

Alan Winde, Wes-Kaapse LUR vir ekonomiese geleenthede en toerisme, beraam dat die skade net aan eiendom in Knysna en Bitou tussen R2 miljard en R4 miljard beloop.

Dit is net die geld wat deur versekeringsmaatskappye uitbetaal sal moet word.

Daarby moet nog die skade aan infrastruktuur ingereken word. Dié beramings word nou gedoen.

Dit blyk die skade aan byvoorbeeld kraglyne by Brenton-on-sea sal sowat R30 miljoen beloop.

Die Wes-Kaapse regering het reeds R75 miljoen bewillig vir die herstel van skade in die Wes-Kaap. ’n Deel daarvan sal in Knysna en Bitou bestee word aan skade aan onder meer munisipale infrastruktuur, gesondheidsdienste, skole en landbou.

Hy sê die private sektor het ook reeds geld beskikbaar gestel wat vir slagoffers gebruik kan word. Meer as R70 miljoen is al deur private maatskappye bewillig. Van die groot banke is daarby betrokke.

Die Knysna-stadsraad het Donderdag op ’n raadsvergadering besluit ’n aparte rekening moet geskep word waarin mense geld kan inbetaal.

Die plan is dat ’n oorsigkomitee saamgestel word waarby lede van die private sektor betrokke is. Dit is om te verseker dat verantwoording gedoen kan word oor die aanwending van die geld.

Chris Botha (links) van Avbob, Memory Booysen, burgemeester van die Eden-distriksmunisipaliteit, Keith Terblanche van Avbob en Khayalewthu Lose, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdienste van die Eden-stadsraad, by die ontvangs van die geld. Foto: Eugene Gunning

* Intussen stroom hulp en bydraes steeds in vir slagoffers.

Die begrafnisdiensmaatskappy Avbob het Vrydag R500 000 geskenk aan die Eden-distriksmunisipaliteit.

Memory Booysen, Eden se burgemeester, het met die ontvangs van die geld gesê elke sent tel.

“Dit gaan ’n groot verskil maak aan die pyn en lyding van mense. Dit sal vir die beste doel aangewend word.”

Hy het benadruk dat Knysna erger deurgeloop het as Bitou en die geld sal dus in verhouding aangewend word.

Hulle moet nog besluit hoe dit spesifiek gebruik sal word.

Volgens Booysen was daar voor verlede week se brande in die Eden-gebied ook ander brande. Daar was ook brande in Kannaland en Hessequa en slagoffers daar sal ook gehelp word.

Die munisipaliteite van Knysna en Bitou het afsonderlike rekeninge om slagoffers te help. Hulle ding nie met mekaar mee nie. “Waar hulle nie kan help nie, sal Eden help. Dit sal afhang van die behoeftes.”

Keith Terblanche, streeksbestuurder van Avbob in die Suid-Kaap, het gesê die maatskappy glo in sulke tye moet die korporatiewe sektor betrokke raak.

“Daar is ’n goeie rampbestuurspan en ons weet die geld sal op die regte wyse op die regte plekke vir die regte mense aangewend word."

Meer oor:  Knysna  |  Nou  |  Raak  |  Brandskade
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.