Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Brande
‘Ons sal opstaan uit die as’

Dit was asof ’n oordeelsdag Wuppertal verlede Sondag getref het, sê Jurie van Rooi, opsiener van dié historiese Morawiese sendingdorpie diep in die Sederberge.

Onderstraat, Wuppertal.

Hy het pas uit Kaapstad teruggekom toe dit gebeur. “Ek het ’n vrou by Langbome gaan aflaai. Toe ek omdraai, nog ’n sigaretjie wou aansteek, toe sien ek die gloed. Toe brand vier rye huise op die terrasse. Mense huil en hol dié kante toe. Ek agterna.”

Toe alles verby is, het 53 van die dorpie se 113 huise, ’n koshuis, winkel, slaghuis, toerismekantoor, die Lekkerbekkie-restaurant en die pastorie in puin gelê.

Hy moes toe kies: my huis of my skape... Agt dragtige ooie het doodgebrand.

Van Rooi sê hy het toe maar op ’n koppie gaan sit. Later het hy verneem sy huis en sy kruidenierswinkel het in die slag gebly. Sy huis het hy herbou nadat ’n brand op Kersdag 1948 sewe huise in die dorp in puin gelê het

“Ons sal opstaan. Ons is maar ons. Die Morawiese president was hier op Wuppertal. Toe vra hy: Wat nou? Toe sê ek hom van Job wat gesê het dat as hy die goeie van die Here kan vat, hoekom nie ook die slegte nie?

“Ek is orraait, ek is net nie aanhou orraait nie.”

Die huise op die terrasse Foto: Julian Jansen

Met Rapport se besoek Vrydag was Wuppertal verlate, want talle ontheemdes het tydelik by familie in Kaapstad of die omgewing ingetrek. Die water en krag is nog afgesny.

By die skool het voertuie pal aangekom om donasies af te lewer. Magueretha Kainda, wat die skenkings koördineer, het ontsteking van haar voete opgedoen in die vyf dae waarin die hulp “soos ’n lopende kraan water van oral oor die Wes-Kaap” ingestroom het.

Jurie van Rooi (78) Foto: Julian Jansen

Oor hoe die brand by die ingang van die dorp begin het, sê inwoners, is daar twee gedagtes: dat kwajongens wat heuning uit ’n byenes wou haal die brand gestig het óf dat jongmanne zol geswaai en dat “droë donkiedrolle” toe brand geslaan het.

Neil Zimri sê ’n plantasie palmbome het in die stormwind soos ’n reusekettie kole in die dorp rondgegooi.

Wonderbaarlik het die kerkgebou niks oorgekom nie.

Wesley April en die ongeskonde bordjie in sy afgebrande huis.

“Die Maandag, toe praat ons Wuppertallers nie. Ons huil net,” sê Waldo Hanekom. Hy het sy rietdakhuis wat oom Kam, sy oupa, gebou het, verloor. Net die Dover-stoof kan weer gebruik word.

Sy broer Kevin was op sy huis se dak met ’n emmer water toe hy sien hoe die vlamme sy skape nader. “Hy moes toe kies: my huis of my skape . . . Agt dragtige ooie het doodgebrand.”

Die dorsvloer se huisie het eerste afgebrand.

Dit was ’n wekroep vir elke Wuppertaller. “Daar staan die kerk nog. Ek dink die Here wil daardeur sê: ‘Kom na my Kerk.’ ”

Wesley April sê hy gaan sy oupa se huis herbou, maar dié keer sit hy ’n sinkdak op. Tussen die uitgebrande huise staan drie ongedeerd. Almal het sinkdakke.

Ongeskonde: Die Morawiese kerkgebou uit 1830. Foto’s: Julian Jansen

Maar nie almal in Wuppertal het die vermoë om weer van voor af te begin nie.

Ná beraadslaging tussen provinsiale regeringsdepartemente, kerkleiers en Erfenis Wes-Kaap is besluit om die beskadigde geboue te sloop. Tydelike strukture met basiese geriewe gaan op die rugbyveld opgerig word. ’n Gebou sal tydelik as koshuis dien.

Nie almal kan voor begin nie.

Die grond waarop die dorpie staan, behoort aan die Morawiese kerk en die staat kan nie op kerkgrond bou nie. Daarom is ’n stuk grond neffens Wuppertal uitgewys waar die behuisingsowerhede binne die afsienbare toekoms permanente huise vir die dakloses wil bou.

Wuppertal gaan opstaan uit die as. Maar of dié dorpie sy unieke karakter gaan behou, bly ’n ope vraag.

Meer oor:  Wuppertal  |  Brand
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.