Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Brande
‘Ons soek nie blink affêre . . .’

Ontheemde Wuppertallers wil met alle mag teruggaan na die erwe waarop hul huise voor die Oujaarsbrand was.

Dirk van Rooy

’n Reusebrand het twee dae voor Nuwejaar die historiese dorpie met sy 1 500 inwoners getref.

Altesaam 53 historiese rietdakhuise op die terrasse, asook ’n koshuis, die Lekkerbekkie-restaurant, Louis Leipoldt-museum, toerismekantoor, slaghuis en die pastorie het in die slag gebly. Die meeste huise, wat grotendeels deur bejaardes bewoon word, was nie verseker nie.

Hernice Heyns, ’n prediker en geskiedskrywer wie se huis afgebrand het, sê daar is “geen manier” waarop hy ’n huis op enige ander plek gaan bou as daar waar syne gestaan het nie. “Ek wag angstig vir die verwydering van bourommel sodat ek kan begin. Ek kan onomwonde verklaar Wuppertal gaan in alle glorie op dieselfde boupersele herrys. Ons is baie trots op ons erfenis.”

20 m.: Die skatting van die skade.

Ouma Magdalena (Tietie) Titus (79), wat in 1969 saam met ander inwoners in die fliek Katrina gespeel het, se huis het gelukkig nie afgebrand nie, sê Dirk van Rooy (73). Hyself was nie so gelukkig nie.

Van Rooy woon tans by familie in Blue Downs naby Eersterivier. Dié gewese bouer en opsiener het geslaap toe die brand toeslaan. “Man, toe gryp ek net my ID. My huis is nou net ’n murasie. Ek sal teruggaan, maar na die perseel waar my huis was.

“Die meeste van die 53 sê hulle wil nie meer rietdak hê nie. Riete is skaars en kos R2,50 ’n bos. Ek hoor die staat wil permanente huise bou. Ek soek net nie blink dakke, klein huisies nie. My oë is sommer seer.

Elizabeth Snygans (79) en haar kleindogter Alanah. Foto’s: Julian Jansen

“In die 1980’s wou hulle HOP-huisies hier oprig. Toe seg ons: Steek die jaart net groter uit. Toe val dié saak deur die mat. Daai huisies sou die effek van die dorp verander het! Ons soek nie blink in Wuppertal nie.

“Ons wil terug terrasse toe, al ons oues. Almal het al so gesê wat ek ná die brand ontmoet het. Die erfbelasting van R11,60 is vir ons goed.”

Van Rooy sê watervoorsiening moet verbeter word. “Daar was voorheen ’n brandfonds, maar die water was te min en die pype is gesteel.

“Wuppertal het net ’n 90 mm-waterpyp uit die berge en die druk is baie laag. Hoe bestry jy ’n brand soos nou? Ons is broek om die inkels gevang. Ons ontwikkel ook te stadig. Die kerk sal moet sy kant bring, anders kan daar botsings kom.”

Van Rooy sê die Morawiese Kerk en die staat moet die inwoners ken in die beplanning om die dorpie te herbou. “Ons wil sien waar die donasies se geld gaan. Dit moet nie in die kerk se boeke gaan nie. ’n Komitee moet gestig word.”

Elizabeth Snygans (79) wil teruggaan na haar erf. Sy woon tans by familie in Ravensmead naby Bellville.

“Maak weer my huisie t’rug, my stoof ook.” Sy bars in trane uit. “Ek het hoop dat Wuppertal weer soos van ouds sal staan, maar jy weet, die jongspan het mos sy eie kop se ding.”

Godfrey Cunningham, die president van die Morawiese Kerk in Suid-Afrika, het die afgelope week aan Rapport gesê dis nog te vroeg om te sê presies hoe die proses om die dorp te herbou gaan verloop. “Daar is verskillende staatsdepartemente betrokke en bepaalde regulasies moet nagekom word. Verskillende moontlikhede word oorweeg en ons word gelei deur diegene wat direk getref is, want elkeen se omstandighede is uniek.”

Hy sê baie van die sendingstasies se historiese gegewens is ook daarmee heen. “Al die registers vir doop, konfirmasie, sterftes en huwelike is uitgebrand en ons moet probeer om van die inligting weer terug te kry.”

Hy sê egter hy is oortuig dat Wuppertal “weer in sy glorie herstel sal word deur die hulp van die Here”.

Die skade word voorlopig op sowat R20 miljoen geskat.

Cunningham sê Wuppertal is ’n nasionale kultuurhistoriese bate vir die land. “Die dorp is die grootste aantrekkingskrag vir oorsese besoekers en ’n groot finansiële inspuiting vir toerisme en daarom mag die karakter van Wuppertal nie verlore gaan nie.”

  * Lees ook Pieter Malan se rubriek in Stemme.

Meer oor:  Wuppertal  |  Brandskade
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.