Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Brande
Ouma sterf toe spoghuis in Pretoria brand
Brandweerlede het tot laat gestoei om die laaste vlamme te blus. Foto: Tshwane-nooddienste

’n Ouma van 75 jaar oud is dood en haar geliefdes met “letterlik die klere aan hul lywe” agtergelaat toe hul reuse-grasdakhuis in Pretoria Maandag in ’n siedende inferno vernietig is.

Marchant Els van Bull Security het ’n vensterraam met ’n byltjie oopgekap om by die brandende huis in Heskethrylaant, Moreletapark, Pretoria, in te kom toe hy hoor iemand is binne vasgekeer.

In desperate pogings om te help het bure met spuitende tuinslange nader gehardloop.

Die dak het egter “soos strooi” begin ineenstort en selfs die Tshwane-nooddienste se brandweerlede kon nie waag om in te gaan nie.

“Die brandweer was gou hier. En hulle het hulle baie goed van hul taak gekwyt. Daar was net niks wat iemand kon doen nie,” het van die bure later vertel, oë steeds rooi van die rookbolle wat ’n blok ver gesien kon word.

Die brand het vermoedelik net ná 09:00 uitgebreek. Dit blyk dat die ouma (en skoonma van die huiseienaar) in daardie stadium alleen tuis was.

Niemand is seker wie alarm gemaak het nie, maar Els was een van die eerstes op die toneel.

“Toe ek daar aankom, het dit gelyk asof die brand net begin spoed optel het. Daar was verskriklik baie rook en die grasdak het vlamgevat,” vertel hy.

Hy het in daardie stadium nie geweet het dat die vrou binne vasgekeer is nie, maar het tog na die huis gehardloop.

Die motorhek het bly halfpad oop en toe gaan, maar die voordeur en -hek, asook die vensters wat hy kon bereik, was toe.

“Een van die bure het met so ’n klein byltjie aangekom. Ek het iemand hoor sê hulle dink die eienaar se ma is in die huis," sê Els.

“Net toe het ons beheerkamer oor die radio dit bevestig. Toe vat ek die byltjie en doen maar wat ek kan om by die huis in te kom.”

Hy het met mag en mening aan ’n houtvensterraam en diefwering begin kap. Tussendeur het hy geroep, maar daar was geen antwoord uit die huis nie.

Uiteindelik kon hy deur die venster ingaan.

Inwoners het met tuinslange en elke denkbare hulpmiddel skouer aan skouer met nooddiensbeamptes gewerk in ’n poging om die vlamme in bedwang te kry. Niemand kon egter die 75-jarige vrou in die huis betyds bereik nie. Foto: Tshwane-nooddienste

“Dit was pikswart van die rook. Ek was in ’n kamer – dit het gelyk soos ’n kind s’n. By die kamerdeur was net vlamme.”

Die rook en hitte was so verstikkend, Els moes sy kop onder ’n laken op die bed druk in ’n poging om asem te kry.

Dit was nutteloos.

Iemand het ’n tuinslang deur die venster aangegee. Els het ’n baadjie wat op die bed gelê het, nat gemaak en om sy neus en mond gedraai. Só kon hy by die kamerdeur uit tot by die voordeur vorder.

Hy kon niemand in daardie gedeelte vind nie en die oorweldigende vlamme en rook het hom weer na buite gedwing.

Teen dié tyd het die vlammehel hom en al die helpers “heeltemal gekeer om die huis in te gaan”.

Charles Mabaso van die Tshwane-nooddienste sê hulle is omstreeks 09:30 ontbied.

Met die brandweer se aankoms was die huis in vlamme gehul en die dak het plek-plek ineengestort.

“Brandweerlede is ingelig dat daar moontlik ’n 75-jarige vrou binne vasgekeer is, maar kon nie suksesvol by die huis ingaan nie,” verduidelik hy.

Intussen het die hitte by die huis van 392 m² so intens geraak dat die brandweer nog drie aangrensende huise teen die vlamme moes beskerm. Ook ’n nabygeleë lapa het gedeeltelik begin brand, wat hulle moes blus.

Verskeie brandweerwaens en ander noodvoertuie moes op die toneel help en drie gemeenskapslede, een veiligheidsbeampte en ’n brandweerlid moes stuurstofbehandeling vir rookinaseming ontvang.

Dit was eers nadat die ergste vlamme geblus is dat die oorledene se lyk in die huis gevind kon word.

Teen 16:00 het die laaste brandweerlede hul waterpype begin oprol.

Brandweerlede is ingelig dat daar moontlik ’n 75-jarige vrou binne vasgekeer is, maar kon nie suksesvol by die huis ingaan nie.

Op die sypaadjie het die huiseienaar gestaan, soms driftig emosioneel. Twee jong kinders in hoërskoolklere het ’n entjie verder snikkend met hul rûe na die huis gestaan voordat hulle later traag nader gestap het.

Inwoners van die straat het begin help opruim.

Een het vertel hoe beïndruk sy met die brandweer en die gemeenskap was.

“Weet jy, nog voordat hierdie brand geblus was, het die mense wiele aan die rol gekry. Daar is slaapplek vir die familie gereël en geld word ingesamel.”

’n Man het bygevoeg: “Die mense het alles, alles verloor. Die skoolklere wat die kinders aan het... dis wat hulle oor het.”

• Die oorsaak van die brand is nog onbekend.

Meer oor:  Moreletapark  |  Brand
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.