Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Brande
Ouma, man en 3 kleinkinders sterf in vlammehel

Brandweermanne kon Maandagaand die liggaam van ’n man en twee kinders deur die vensters van ’n brandende huis in Meyerton na buite aangee in die hoop dat hulle dalk nog gered kon word.

Die vrou en baba was egter binne-in die vlamme, so verswelg en verbrand dat die ses maande oue babatjie se geslag nog nie amptelik bekend gemaak kon word nie.

“Al vyf mense wat in die huis was, is dood, want ons kon ook nie die man en ander twee kindertjies, ’n meisie van vier en ’n seuntjie van vyf jaar oud, terugbring (na die lewe) nie. ER24-nooddienste het hulle op die toneel dood verklaar, vermoedelik weens rookinaseming,” sê Hannes Steyn, die Midvaal-brandweerhoof.

Een familielid, die ma van die baba en die meisie, het die tragedie oorleef omdat sy in daardie stadium by ’n winkel was.

Die bure het tuinslange oor die mure gegooi, deur die vensters gedruk en die vlamme probeer blus,
Hannes Steyn, Midvaal-brandweerhoof.

Sy het teruggekeer, begroet deur brandweermanne wat die vlamme probeer blus.

“Ons het ’n kapelaan daar gehad, maar die jong vrou was so getraumatiseerd, sy het iewers heen gegaan en ons kon haar nog nie weer opspoor nie,” sê Steyn.

Hy sê bure het die brandweer om 20:43 gebel, nadat hulle op hul veiligheidskameras gesien het die huis langsaan brand.

“Die bure het tuinslange oor die mure gegooi, deur die vensters gedruk en die vlamme probeer blus,” sê Steyn.

Die brandweerspan het om 20:50 by die toneel aangekom.

“Terwyl een groep die brand bestry het, het ander lede die huis ingestorm,” sê Venter.

“Die vlamme was nog nie by die kamers nie, maar daar was baie rook. Die reddingspan het ’n volwasse man in die hoofslaapkamer gevind, asof hy reeds in die bed was. In een van die ander kamers was die seun en dogter. Al drie is deur die vensters na buite aangegee om hulle so vinnig moontlik uit die huis te kry.”

Die voorkant van die woning was egter in ligte laaie.

Die brandweer het ons ontbied. Met ons aankoms kon ons geen naasbestaandes op die toneel kry nie. Die huis was in vlamme verswelg. Drie pasiënte kon uitgekry word terwyl die brand gewoed het, die ander twee is eers ontdek nadat die brand geblus is
Russel Meiring ER24-nooddiens.

Dit is hier waar die baba se lykie op ’n bank in die sitkamer gekry is. Die man se vrou, en ouma van die kinders, is op die sitkamervloer gevind, so asof sy vanuit die gang die vertrek binnegekom het, toe sy ineengesak het.

Steyn sê die man en kinders se ouma is getroud. Die vyfjarige seun is dié van een van haar ander kinders wat sy help grootmaak het.

Die vierjarige meisie en baba is die kinders van een van die ouma se ander dogters. Dié dogter, die baba en die meisie, bly in ’n woonstel langs die hoofhuis. Dit blyk egter dat die dogter haar kinders by hul ouma en stiefoupa gelaat het, terwyl sy winkel toe is.

“Dié dogter het tydens ons reddingspogings teruggekeer. Ons het ’n voornaam, maar nie ’n van of ouderdom vir haar nie,” sê Steyn.

Russel Meiring van ER24-nooddiens sê ook van die oorledenes was so erg beseer dat dit moeilik is om hul ouderdom of geslag te bepaal.

“Die brandweer het ons ontbied. Met ons aankoms kon ons geen naasbestaandes op die toneel kry nie. Die huis was in vlamme verswelg. Drie pasiënte kon uitgekry word terwyl die brand gewoed het, die ander twee is eers ontdek nadat die brand geblus is,” sê Meiring.

Die polisie se forensiese span ondersoek die toneel om die oorsaak van die brand te bepaal.

Meer oor:  Meyerton  |  Ouma  |  Man  |  Huis  |  Huisbrand  |  Sterf  |  Brand
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.