Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Brande
Petrusburg se stadsaal ‘in roet en as’

’n Drama het hom Donderdagnag in Petrusburg in die Vrystaat afgespeel toe die dorp se historiese stadsaal, wat in 1920 opgerig is, tot op die grond afgebrand het.

“Omtrent alles is tot roet en as verkool,” sê Dina Venter, ’n jarelange inwoner van Petrusburg wat reg langs die stadsaal bly.

Sy sê die oorsaak van die brand is nog nie bekend nie.

In ligte laaie. Petrusburg se historiese stadsaal wat in 1920 gebou is, brand tot op die grond af.

Met die munisipale waterkrane wat toegedraai was, het boere van oraloor met bakkies, sleepwaentjies en waterspuite gekom om die verterende vlamme met plaas- en boorgatwater te probeer blus, maar dit was tevergeefs.

“Die munisipale water word die afgelope paar jaar saans om 21:00 toegedraai vanweë die droogte en pype wat snags lek. Die water word eers soggens aangesluit.”

Venter sê versoeke aan Letsemeng- munisipale amptenare om die water aan te sluit om die brand te help blus, het geen gehoor gehad nie.

Petrusburg se historiese stadsaal wat in 1920 gebou is, brand Donderdagnag af.

Die brandweerdienste van die Mangaung-metro kon ook nie kom help nie “omdat die vlamme toe al in die dakkappe was”.

“Buurtwaglede het vergeefs die boere probeer help om die vuur te blus. Teen middernag is die vlamme tot die gebou beperk.

“Die dak het ingetuimel en die vloer het ingeval.

“Van die klavier het ook net mooi niks oorgebly nie. Alles is nou net ’n pikswart verbrande murasie.”

Venter sê oudleerlinge van die Hoërskool A.J.C. Jooste in Petrusburg kom die naweek van heinde en ver na die skool se reünie vir alle oudleerlinge.

“Nou moet hulle in die swart verbrande ruïne van die stadsaal kom vaskyk.”

Petrusburg se stadsaal in ligte laaie.

Sy sê sy het Donderdagaand om 22:00 gesit en TV kyk en met tye rook geruik en iets hoor ontplof.

“Maar dan het dit weer stil geraak. Die brand het aan die westekant van die stadsaal uitgebreek wat nie deur ons gesien kan word nie.”

Sy sê haweloses in die omgewing steek gereeld bloekombome aan die brand.

Venter sê mense het hulle later kom opklop oor die brand en spreiers op die grasperk gesit sodat die vuur nie na hulle kant versprei nie.

Vrydagoggend was daar nog vlamme in ’n vertrek waar dokumente vir die verkiesing en skoolboeke gestoor is.

So lyk die Bloemfonteinse stadsaal nou ná die brand van 21 Junie 2017. Herstelwerk begin vandeesweek.

Venter sê oudskoliere wat die naweek kom reünie hou, het almal herinneringe aan rolprente wat hulle hier kom kyk het, sokkies wat daar gehou is, en trou-onthale.

“Soveel mooi herinneringe is nou tot niet.”

* Die Letsemeng- munisipale kantoor in Koffiefontein, waaronder Petrusburg val, is vier keer vir kommentaar gebel, maar niemand het die telefoon geantwoord nie.

* Ao. Lepile Molhoke, bevelvoerder van die polisie in Petrusburg, sê die polisie ondersoek die saak. “Ons weet nie in die stadium wat die brand veroorsaak het nie.”

* Herstelwerk aan die Bloemfonteinse stadsaal, wat op 21 Junie 2017 afgebrand is, het vandeesweek begin. Dié stadsaal is tydens ’n staking van die munisipalewerkersvakbond Samwu afgebrand.


Meer oor:  Stadsaal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.