Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Brande
Pilanesberg hoop reën hou brand in toom

Reën wat sedert Vrydagoggend in die Pilanesberg-natuurreservaat in Noordwes geval het, is baie welkom omdat dit die gevaar verskraal dat brande opnuut kan opvlam.

Johnson Maoka, bestuurder van die reservaat, het gesê die brand wat die naweek in die reservaat uitgebreek en tussen 15 000 ha en 18 000 ha vernietig het, was teen Donderdag heeltemal geblus. “Dit was baie moeilik om die brand te blus omdat die wind gewaai het en dit enige tyd kan draai. Ons hoop die reën voorkom dat brande weer opvlam.”

Die Pilanesberg-natuurreservaat het Vrydagoggend dié foto op sy Facebook-blad geplaas van reën wat geval het ná ’n vernietigende brand vroeër vandeesweek. Foto: Facebook

Die gewilde Mankwe-skuiling het heeltemal afgebrand. Maoka het bewerings ontken dat van die diere in die reservaat beseer is en besig is om te vrek. Hy het ook ontken dat daar nie genoeg hulpmiddels vir brandbestryding in die reservaat is nie en dat voorbrande nie gemaak is as ’n voorsorgmaatreël nie.

“Ons het ’n span van 22 mense van Werk met Vuur wat altyd beskikbaar is wanneer brande uitbreek. Die sowat tien gidse by elk van die lodges en minstens 20 veldgidse help almal ook wanneer brande uitbreek. Ons hoef nie eens te vra nie, hulle daag net op om te help. Ons het in Maart en April voorbrande gemaak, maar ons kan nie al die veld brand nie omdat dit diere se kos is.”

So het dit op plekke in die Pilanesberg-natuurreservaat gelyk nadat ’n brand wat die naweek daar uitgebreek het, tussen 15 000 ha en 18 000 ha vernietig het. Foto: Facebook

Maoka sê personeellede het Sondag deur die nag gespook om die brand te blus. “Maandag en Dinsdag het hulle oral waar dit nog gesmeul en opgevlam het, ook gaan blus. Al die brande was teen Donderdag geblus. Die reservaat was Maandag weer oop.”

Volgens Maoka is nog geen beseerde diere aangemeld nie. “Ons gidse beweeg elke dag die hele reservaat vol. Geen beseerde diere is ook uit ’n helikopter gesien nie.”

Die brand het Saterdag omstreeks 11:00 ontstaan toe ’n inwoner van ’n nedersetting langs Pilanesberg vullis in sy erf verbrand het. “Die wind het die vlamme na die reservaat aangeblaas. Dit het vinnig van die noordelike deel van die reservaat tot in die suidelike deel versprei.”

Benewens die reservaat se eie brandbestryders, het verskeie vrywilligers ingespring om te help om die brand te blus, onder meer ’n brandbestrydingsorganisasie van Buffelspoort. Die maatskappy New Era Packaging het 47 000 liter water geskenk.

Meer oor:  Pilanesberg  |  Brand  |  Reën
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.