SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Brande
Proffies help veldbrand by sterrewag blus

Plaaslike sterrekykers, onder wie professore van die Universiteit van die Vrystaat (UV) en ’n Amerikaanse doktor, het Sondag ingespring om te help keer toe ’n veldbrand die Boyden-sterrewag met sy historiese teleskope en museum buite Bloemfontein bedreig het.

So lyk die gebied rondom die Boyden-sterrewag buite Bloemfontein nadat ’n veldbrand Sondag deur die gebied gewoed het. Foto: Verskaf

Die brand het tussen 16:00 en 17:00 uitgebreek en in ’n stadium baie naby aan die houtkoepel, wat die reuse-teleskoop met ’n spieël van 1,52 m huisves, gekom.

Dit is die derde grootste teleskoop in Afrika.

Die sterrewag het sewe teleskope, wat ’n sonteleskoop insluit.

Dawie van Jaarsveldt, ’n dosent in fisika aan die UV, was van die eerste mense op die toneel en sê die vlamme was baie naby aan die koepel.

“Ons kon die vlamme net-net keer. Dit het bitter naby aan die groot koepel gekom. Die vlamme was hoog en warm. Gelukkig was daar water, want die vorige dag was daar niks nie.

“Ek het groot geskrik. Die boere in die omgewing het ook kom help. Dit het oor ’n groot gebied gebrand. Dit is net genade van God dat dit nie erger was nie,” sê hy.

Volgens Van Jaarsveldt is geen geboue in die brand beskadig nie.

Dr. Richard Gray van Amerika wat met die gesogte Fullbright-beurs by die sterrewag navorsing doen, sowel as proff. Matie Hoffman en Pieter Meintjes van die departement fisika by die UV, het ook gehelp om die vlamme te blus.

Dawie van Jaarsveldt hou die waterpyp vas terwyl prof. Pieter Meintjes, hoof van astrofisika by die Universiteit van die Vrystaat, die vlamme blus. Foto: Verskaf
Brandweermanne Sondag op die toneel buite die Boyden-sterrewag buite Bloemfontein waar ’n veldbrand gewoed het.Foto: Verskaf
Vlamme van ’n veldbrand woed Sondagmiddag naby die Boyden-sterrewag buite Bloemfontein.Foto: Verskaf
Prof. Matie Hoffman, dosent aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), slaan Sondag vlamme dood wat die Boyden-sterrewag buite Bloemfontein bedreig het. Foto: Verskaf

Braam van Zyl, afdelingsoffisier van die Mangaung-brandweer-en-reddingsdiens wat sterrekunde as ’n stokperdjie beoefen, sê hulle het drie voertuie en sowat tien brandbestryders op die toneel gehad.

Volgens hom het die brand in die omgewing van Maselspoort begin en na die sterrewag, wat op ’n kopie geleë is, versprei.

Die brandbestryders, wat lede van Werk met Vuur (WoF) en boere van die Mockesdam- en Glen-omgewing ingesluit het, het hulle eers omstreeks 22:00 onttrek.

“Genadiglik was daar water. Die brandkrane by die sterrewag is regstreeks aan die pompstasie by Maselspoort gekoppel en daar was die heeltyd geen water nie.

“As daar nie Sondag water was nie, sou daardie plek afgebrand het. Dit sou ’n groot verlies gewees het,” sê hy.

Die oorsaak van die brand is nog onbekend.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.