Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Brande
Reën bring verligting ná brande in Overstrand

Inwoners van verskeie dele van die Overstrand in die Wes-Kaap moes Vrydagmiddag vlug voor die vlamme van veldbrande wat deur ’n stormsterk wind aangeblaas is en talle huise verwoes het.

Inwoners stap in die digte rook op die R43 tussen Gansbaai en Franskraal om perde in veiligheid te bring nadat Franskraal ontruim is.Foto: JACO MARAIS

Teen die aand het reën verligting gebring, maar dit is gevolg deur kragonderbrekings oor groot dele in die gebied. Rukwinde van 94 km/h het voorgekom en ’n windspoed van sowat 60 km/h is ervaar.

Om 18:00 het die brand nog buite beheer gewoed in Franskraal, naby Gansbaai, waar mense uit die dorp verwyder is.

In die Hemel-en-Aarde-vallei is sommige plase, die landgoed Bona Dea en die Camphill-plaasgemeenskap en skool ontruim.

Op Hermanus het die brand teen die berg af versprei tot teen die agterkant van die begraafplaas. Sommige inwoners is toe reeds gevra om hul huise in Hermanus Heights, Fernkloof en Eastcliff te ontruim.

Mense is ook om 15:45 op Bettysbaai aan die berg se kant, bo Clarence-rylaan, gevra om te die gebied te ontruim weens ’n brand wat in die Kogelberg-natuurreservaat woed.

Die Overstrand-munisipaliteit kon teen 19:00 nog nie die omvang van die skade bevestig of sê hoeveel geboue verwoes is nie.

Die kusdorpe in dié omgewing en omliggende dele is sedert die middag in digte rook gehul.

’n Dik rookwolk trek Vrydagmiddag van die Hemel-en-Aarde-vallei af oor na Hermanus toe verskeie brande in die Overstrand gewoed het. Dié foto is van Vermont af geneem. Foto: Anena Burger

Inwoners van die Hemel-en-Aard Estate is ook voorlopig gewaarsku om gereed te maak vir moontlike ontruiming.

Die Grobbelaarsaal, die Gansbaai-toerismekantoor se saal, Sandbaai-saal en Crassula-saal op Bettysbaai is beskikbaar gestel vir mense wat uit hul huise moes padgee.

Die middag was daar ook brande op Hawston en by die Harold Porter- botaniese tuin op Bettysbaai.

In Karwyderskraal het die brand oor die Hemel-en-Aarde-pad, Camphillweg en die pad na die Rotary-uitkykpunt gespring en na die Fernkloof-reservaat versprei.

Die R43 tussen Franskraal en Gansbaai is gesluit, asook die R320 by Hemel-en-Aarde, Mountain-rylaan en Magnoliastraat agter die Hoërskool Hermanus.

’n Inwoner in die omgewing van Franskraal probeer Vrydagmiddag vlamme blus langs die R43 tussen Franskraal en Gansbaai. Sommige inwoners het met waterhouers agter op ’n bakkie gery om met brandbestryding te help terwyl mense Franskraal moes verlaat. Foto: JACO MARAIS
’n Stuk veld by Franskraal, naby Gansbaai, word deur vlamme verswelg nadat ’n brand Vrydagmiddag van Masakhane af versprei het en deur stormsterk winde aangeblaas is. Foto: JACO MARAIS

Die R44 tussen Kleinmond en Gordonsbaai was gesluit en is om 18:00 heropen.

Om 13:00 het die munisipaliteit ’n beroep op inwoners van Franskraal gedoen om onmiddellik die gebied te verlaat weens ’n wegholbrand wat “buite beheer” woed.

Mense kon net troeteldiere, noodsaaklike besittings en medisyne saamneem. Alle ligte en elektriese toestelle in huise moes afgeskakel word, waarna die huis gesluit moes word.

Dik rook van omliggende brande het Vrydagmiddag oor Hermanus se middedorp gehang.Foto: JACO MARAIS

“Vir jou eie veiligheid, verlaat asseblief onmiddellik jou buurt en ry na die huis van ’n vriend of familielid buite die ontruimingsgebied,” lui die opdrag.

Bronne op Gansbaai sê die brand is vermoedelik die gevolg van brandstigting. Onwettige strukture is Vrydagoggend in Masakhane platgevee en die brand het ’n uur of twee daarna in Masakhane uitgebreek, berig Maygene de Wee.

Die R43 tussen Masakhane en Franskraal is reeds Donderdag om 20:15 gesluit weens digte rook en is teen Vrydagoggend 02:00 oopgestel.

Teen 12:00 is dié pad weer gesluit vir verkeer nadat die brand in Masakhane opgevlam het.

In Karwyderskraal het ’n bestaande brand weer opgevlam en ’n nuwe brand het ontstaan.

Intussen is die R44 tussen Gordonsbaai en Rooiels Vrydagoggend oopgestel nadat dit sedert Saterdag weens die brand in die berge by Bettysbaai gesluit was.

Kaapstad se brand-en-reddingsdienste het gesê die brand aan Kaapstad se kant is grootliks in bedwang.

Die Overstrand-munisipaliteit het gewaarsku dat stormsterk wind en reën die aand tot rotsstortings kan lei en dat die grond by dié pad los kan raak, waarna dit weer gesluit sal moet word.

Rookwolke trek Vrydagmiddag agter ’n woonbuurt in Franskraal in die Wes-Kaap voordat inwoners van dié kusdorp die gebied moes verlaat.Foto: SURITA RIFFEL
Inwoners stap Vrydag in digte rookwolke om perde in veiligheid te lei op die R43 tussen Gansbaai en Franskraal nadat Franskraal ontruim is.Foto: JACO MARAIS
Die gloed van die vuur kon Vrydagmiddag gesien word in die digte rook wat oor ’n woonbuurt in Franskraal in die Wes-Kaap gehang het voordat inwoners van dié kusdorp die gebied moes verlaat.Foto: Surita Riffel
Rookwolke van Gansbaai se kant af kon Vrydagmiddag van Kleinmond af gesien word.Foto: Matt Beckett
Meer oor:  Overstrand  |  Brande
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.