Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Brande
‘Regering moet ingryp ná brande in Vrystaat’
Boere probeer Dinsdagoggend die vlamme van ’n wegholveldbrand keer wat oor groot dele van die Wes-Vrystaat woed. Verskeie brande het minstens 100 000 ha weiding tussen Boshof, Hertzogville en Bultfontein verwoes. Foto: Mlungisi Louw

Die VF Plus gaan van Thoko Didiza, minister van landbou, eis dat die regering geldelike bystand aan die brandgeteisterde boeregemeenskap in die Wes-Vrystaat verleen.

Vrystaat Landbou sê in een van die ergste brande tot dusver dié seisoen en die afgelope paar jaar, is sowat 100 000 ha in die distrikte Boshof, Dealesville en Hertzogville verwoes. Honderde stuks vee en wild het gevrek en selfs huise is afgebrand.

Dinsdag laat is brande ook op Brandfort en Senekal aangemeld. Die brande het ook tot by Warrenton en Jan Kempdorp in die Noord-Kaap gewoed.

’n Jong boer, Tewie Nel (28), wat Maandagmiddag gehelp het om die brand by Hertzogville te blus, is erg gebrand en in ’n kritieke toestand in die Life Rosepark-hospitaal in Bloemfontein. Hy word vir derdegraadse en tweedegraadse brandwonde, asook rookinaseming, behandel.

Nel was een van talle boere wat reeds dae lank spook om die vlamme te keer nadat betogers die brand gestig het deur buitebande en ’n stuk veld buite die dorp aan die brand te steek.

Die DBV het Dinsdag laat nog plase by Hertzogville en Boshof besoek om beeste en skape wat ly, van kant te maak.

Dr. Nico Hendriks, veearts op Hertzogville, sê 200 beeste moes op drie aangrensende plase doodgeskiet word omdat hul brandwonde te erg was. Nog ’n boer het 12 jong stoetbulle so verloor. “Rooibokke, blesbokke, swartwildebeeste en meer as ’n duisend skape is op ander plase geskiet.”

’n Springbok vlug oor die swartgeskroeide aarde buite Boshof in die Vrystaat vir die vlamme van ’n veldbrand wat hier woed. Minstens 100 000 ha is reeds tussen Hertzogville, Boshof en Bultfontein afgebrand nadat brande die naweek deur betogers met brandende bande buite Hertzogvillle begin is. Foto: Mlungisi Louw

Dr. Jack Armour, operasionele bestuurder van Vrystaat Landbou (VL), sê van die brande is deur betogers gestig wat blykbaar oor swak dienslewering betoog het. Die erge hitte en sterk wind wat die naweek in die Vrystaat geheers het, het die situasie ook verder bemoeilik.

VL het R100 000 uit sy rampfonds vir brandstof vir vervoer beskikbaar gestel. Mense dra landwyd reeds tot die fonds by.

Armour sê Vrystaat Landbou verwelkom dit dat die polisie ’n saak van brandstigting ondersoek en beskuldigdes aangekeer is.

“Ons kan nie toelaat dat boere en plaaswerkers se lewe weens misdadige aktiwiteite soos brandstigting verder in die huidige omstandighede op die spel geplaas word nie.”

Jan van Niekerk, die VF Plus se leier in die Vrystaat, sê die skade is regstreeks weens swak regering. Dit is onaanvaarbaar dat boere self of hul versekering daarvoor moet pa staan.

Hy sê die ANC se onvermoë om die Tokologo- plaaslike munisipaliteit te regeer het tot skade van miljoene rande in die boeregemeenskap hier gelei. Ontevrede inwoners van Tokologo het uit protes ’n watertenk aan die brand gesteek, waarna duisende hektaar weens wegholveldbrande verwoes is.

Tewie Nel (28), ’n boer van Hertzogville, het erge brandwonde opgedoen in die veldbrand wat buite die dorp woed.

“Kommersiële én opkomende boere het voor die brande reeds grootskaalse verliese gely weens die meerjarige droogte, sowel as die huidige swak ekonomiese klimaat. Hierdie boere kan nie bekostig om sonder enige regeringshulp te herstel van die miljoene rande se skade weens die brande nie.”

Die VF Plus het in ’n brief aan die Vrystaatse LUR vir samewerkende regering, Thembeni Nxangisa, versoek dat ’n volledige assessering so gou moontlik gedoen word om die omvang van die skade te bepaal en dat die gebied tot rampgebied verklaar word.

“Die skade wat die boeregemeenskap ly, is weens die mislukte ANC-regering en ingrypings van die provinsiale regering in die betrokke munisipaliteit wat misluk het. Dit sal daarom gepas wees dat amptenare wat tot inwoners se ontevredenheid bygedra het, ook aan die pen moet ry.”

Die VF Plus eis dat die provinsiale departement van samewerkende regering dringend by Tokologo ingryp om die algehele gebrek aan dienslewering te beredder om enige verdere protesaksie te verhoed.

**Kol. Thandi Mbambo, woordvoerder van die polisie, het bevestig dat ses mense Maandag op Hertzogville vir openbare geweld en opsetlike saakbeskadiging in hegtenis geneem is. Dit is naas die 11 wat Sondag vir dieselfde misdrywe aangekeer is.

Al 17 verdagtes het Dinsdag in die landdroshof op die dorp verskyn. Hulle is op borgtog van R1 000 vrygelaat, hoewel sewe nie die borgtog kon betaal nie en in aanhouding sal bly totdat hulle weer op 5 November in die hof moet verskyn.

• Geldelike bydraes kan gedoen word aan Vrystaat Landbou se rampfonds.

• Voer- of brandstofskenkings is ook welkom. Daarvoor kan ’n e-pos aan elize@vslandbou.co.za gestuur word.

’n Hartverskeurende gesig. ’n Paar honderd beeste, meer as 1 000 skape en talle stuks wild het in die verwoestende veldbrande in die Wes-Vrystaat doodgebrand. Die brande het by Boshof, Hertzogville en Dealesville gewoed. Hier lê doodgebrande beeste in die swartgeskroeide veld. Die DBV het Dinsdag van plaas tot plaas gery om diere wat erg verbrand het, van hul pyn te verlos. Foto: Mlungisi Louw
Brande woed Dinsdagoggend naby Boshof in die Wes-Vrystaat. Teen die middag is reeds sowat 100 000 ha weiding in die distrikte Boshof, Hertzogville en Dealesville afgebrand. Foto: Mlungisi Louw

Meer oor:  Thoko Didiza  |  Tewie Nel  |  Hertzogville  |  Vrystaat-Brande  |  Brande  |  Veldbrande  |  Vrystaat Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.