Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Brande
Tafelberg-brand: UK stel nog omvang van skade vas

Die Universiteit van Kaapstad (UK) moet nog vasstel hoeveel skade deur dieverwoestende brand in Kaapstad op sy kampus aangerig is en wat gedoen moetword voordat kampusbedrywighede kan hervat.

Alan Winde, premier van die Wes-Kaap, en JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid van die Stad Kaapstad, het Dinsdag 'n nuuskonferensie gehou.

Volg die jongste verwikkelinge hier.

20 Apr. 19:39:16

UK stel nog skade vas ná brand

Die Universiteit van Kaapstad (UK) moet nog vasstel hoeveel skade deur die verwoestende brand in Kaapstad op sy kampus aangerig is en wat gedoen moet word voordat kampusbedrywighede kan hervat.

Terwyl daar groot skade aan die Jagger-leeskamer, voorheen bekend as die Jagger-biblioteek, aangerig is, het ander geboue ligter daarvan afgekom en het belangrike versamelings die brand oorleef.

Prof. Sue Harrison, adjunkvisekanselier, het Dinsdag gesê ’n gedeelte van die Pearson-gebou is ook beskadig, maar gelukkig is die Bolus-herbarium nie beskadig nie.

Dit is ’n versameling van plantmonsters van die 19de eeu met verskeie Kaapse plante.

“Die skade aan die gebou en die behoefte om dié belangrike versameling te beskerm sal die biologiese wetenskappe en verwante navorsing raak.”

Harrison, ook adjunkvisekanselier vir navorsing en internasionalisering, het ’n beroep op personeel gedoen om eerste op hul veiligheid en welstand te fokus. Sy sê die UK prioritiseer dit om sy navorsingswerk te kan hervat, insluitende op die kampus. - Malherbe Nienaber

Lees meer
20 Apr. 19:30:49

Brandbestryders sit en drink water by die brandweerwaens. Foto: Jaco Marais

20 Apr. 18:19:02

Hulp vir studente ná verwoestende brand

Sakeondernemings het na vore gekom om hulp te bied aan meer as 1 000 studente wat geraak is deur die verwoestende brand in Kaapstad.

Die brand het Sondag langs Philip Kgosana-rylaan uitgebreek en teen die hange van Tafelberg versprei.

Dit is intussen in bedwang gebring. Verskeie geboue is beskadig of vernietig.

David Maynier, Wes-Kaapse LUR vir finansies en ekonomiese geleenthede, sê in ’n verklaring oorweldigende reaksie is ontvang van die regering, burgerlike organisasies en die private sektor.

Hy het veral sakeondernemings in Kaapstad in die toerisme- en gasvryheidsbedryf vir hul hulp bedank, veral met studente van die Universiteit van Kaapstad (UK) wat uit hul koshuise verwyder is.

Danksy pogings deur Fedhasa en Ubuntu Beds het meer as 29 verblyf-ondernemings 560 kamers Sondag beskikbaar gestel aan byna 1 000 UK-studente, en die ondersteuning neem toe. Deurlopende ondersteuning sal verskaf word aan die studente totdat hulle na hul koshuise kan terugkeer.

Lees meer
20 Apr. 18:18:02

Talle mense spring in om 4 000 studente te help voed

Die hulporganisasie Gift of the Givers vaar “baie goed” in sy pogings om kos te verskaf aan 4 000 studente van die Universiteit van Kaapstad (UK) wat Sondag weens die verwoestende brand hul woonplekke moes ontruim.

Die stigter, Imtiaz Sooliman, het gesê hulle verskaf drie maaltye per dag aan die studente, asook twee maaltye per dag aan 160 brandbestryders.

Daarbenewens is pakke met voorraad vir persoonlike higiëne aan die 4 000 studente verskaf.

Lees die hele berig hier.
20 Apr. 17:21:16

Skenkings stroom in. Foto: Jaco Marais

20 Apr. 16:00:14

Dié paaie steeds toe

’n Aantal paaie is nog gesluit om stormwaterdreine ná die brand te herstel, het Maxine Bezuidenhout, die Kaapstad-metro se woordvoerder oor verkeer, gesê.

Die paaie wat steeds gesluit is, is: Die M3 in- en uitgaande tussen Hospitaaldraai en Rhodes-rylaan; Philip Kgosana-rylaan inkomend by Hospitaaldraai; Prinses Ann-laan tussen Hoofweg en die M3; en Woolsack-rylaan tussen Hoofweg en die M3.

20 Apr. 15:47:41

KSUT-studente ontruim nie weens brand

Die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie (die KSUT) sê terwyl die wegholbrand teen Tafelberg gewoed het, het hy sy studente die geleentheid gebied om van die rook af weg te kom, maar niemand het nie.

“Ons was bekommerd oor studente in die KUST-koshuise in die Distrik Ses-, Mowbray- en Observatory-gebiede,” lui ’n verklaring.

“Die gesondheid en veiligheid van personeel en studente met asemhalingsprobleme wat direk of indirek geraak is, byvoorbeeld deur die rook, was ons bekommernis.

“Personeel met asemhalingsprobleme is toegelaat om hul werkstasies te verlaat en van die huis af te werk terwyl daar voorbereidings getref is vir studente, wat, indien hulle geraak is, na ander kampusse sou verhuis.

“Kamers op ons ander kampusse is beskikbaar gestel vir studente wat verkies om te trek, maar geen student het die diens benodig nie.”

Prof. Chris Nhlapo, visekanselier, het saam met lede van sy bestuurspan al die KSUT-koshuise en -kampusse besoek om die situasie te beoordeel.

“Gesondheids- en veiligheidsbeoordelings het bepaal dat die luggehalte aansienlik verbeter het. Ons is dankbaar vir elkeen se besorgdheid oor nie net studente van die Universiteit van Kaapstad nie, maar ook studente van die KSUT."

Die paaie vanaf Philip Kgosana-rylaan na die uitgaande N2 wat weens die brand gesluit was, is weer oopgestel. Motoriste sal egter steeds van 'n alternatiewe roete gebruik moet maak vir die M3-afrit vanaf die N2, inkomend en uitgaande, wat steeds gesluit is.

20 Apr. 13:46:15

Metro soek beeldmateriaal van oorsprong van brand - Ané van Zyl

Die Kaapstad-metro kyk nou na beeldmateriaal van kringtelevisiekameras wat Sondag in die omgewing van Philip Kgosana-rylaan geneem is om inligting in te samel oor hoe die verwoestende brand teen Tafelberg begin het.

Inwoners van die omgewing wat private kringtelevisiekameras het wat na die straat wys, word gevra om die beeldmateriaal beskikbaar te stel, het JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekerheid, Dinsdag op ’n mediakonferensie in die Roelandstraat-brandweerstasie gesê.

Videomateriaal van die metro se eie kringtelevisiekameras word ook gefynkam.

Smith het gesê verskeie foto’s en video's van die brand toe dit in die beginstadium was, is reeds ingedien. Volgens Smith is dit moeilik om te glo dat ’n brand so klein kon begin en soveel skade kon aanrig.

Hy het gesê dié foto’s en video's sal bestudeer word om die windspoed en windrigting te bepaal toe die brand begin het, asook om ’n tydlyn te bepaal oor hoe die brand versprei het.

“Die persoon wat in hegtenis geneem is, blyk nie veel met die oorsprong van die brand te doen te hê nie. Hy is gesien waar hy ’n sekondêre vuur maak. Ondersoek sal ingestel word of dit vir kosmaak-doeleindes was. Dit was nietemin roekeloos en die gereg moet nou sy beloop neem.”

Alan Winde in die beheerkamer. Foto: Jaco Marais

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.