Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Brande
Tafelberg-brand: UK stel nog omvang van skade vas

Die Universiteit van Kaapstad (UK) moet nog vasstel hoeveel skade deur dieverwoestende brand in Kaapstad op sy kampus aangerig is en wat gedoen moetword voordat kampusbedrywighede kan hervat.

Alan Winde, premier van die Wes-Kaap, en JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid van die Stad Kaapstad, het Dinsdag 'n nuuskonferensie gehou.

Volg die jongste verwikkelinge hier.

20 Apr. 13:08:26

15 kry behandeling, 11 strukture in brand beskadig

Nege inwoners is met asemhalingsprobleme weens rookinaseming na die hospitaal geneem ná die brand op Tafelberg wat sedert Sondagoggend woed, sê die Kaapstad-metro in ’n verklaring.

Daarbenewens is ses brandbestryders behandel vir beserings wat hulle opgedoen het gedurende die meedoënlose stryd teen die vlamme.

Die metro se jongste inligting dui aan 11 strukture is die afgelope drie dae beskadig of vernietig.

Dit sluit in: twee huise in die Rosebank-omgewing, ses onderwysgeboue op die kampus van die Universiteit van Kaapstad (UK), twee erfenisgeboue, waaronder Mostert se Meul en die Jagger-biblioteek van die UK, en een restaurant by die Rhodes-gedenkteken.

Intussen is die brand grotendeels onder beheer.

Die wind het oornag aansienlik bedaar en helikopters het die vuurlyne sedert die vroeë oggendure met water gespuit.

Anton Bredell, minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning in die Wes-Kaap, sê die gevaar is nog nie heeltemal verby nie.

“Ons eerste prioriteit is dat al die vuurlyne heeltemal geblus moet word. Brandbestryders sal die betrokke gebiede oor die volgende paar dae aanhou monitor totdat ons honderd persent seker is dat die vuur dood is.”

Hy sê daar sal ook skadebepalings gedoen word en sodra die brand geblus is, sal die ondersoek na die oorsaak van die brand gedoen word.

20 Apr. 12:42:20

Gift of the Givers gryp in om maaltye te voorsien

Gift of the Givers het Dinsdag gesê hulle maak goeie vordering daarmee om 4 000 studente van die Universiteit van Kaapstad (UK) drie keer per dag van maaltye te voorsien.

Imtiaz Sooliman van Gift of the Givers sê 160 brandbestryders word ook daagliks van maaltye voorsien en die studente wie se onderskeie koshuise ontruim is, ontvang ook pakkies met produkte vir hul persoonlike higiëne.

Die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie (KSUT) het gevra vir maaltye vir 290 studente wie se koshuis as 'n voorsorgmaatreëls ontruim is, het Sooliman bevestig.

"Die UK-raad het bystand gevra vir ses tot sewe dae. Gegewe die omstandighede tans, dink ons dit sal nog langer duur."

20 Apr. 12:31:06

Beskuldigde bly in aanhouding

Frederick Mhangazo (35), ’n Tanzaniese burger, bly in aanhouding nadat hy Dinsdagoggend in die landdroshof in Kaapstad verskyn het op aanklagte van brandstigting.

Mhangazo word daarvan beskuldig dat hy ’n oop vuur gemaak het in dieselfde omgewing as die beginpunt van die wegholbrand wat die Kaap sedert Sondag teister.

Hy is omstreeks 20:10 in Philip Kgosana-rylaan deur ’n wetstoepasser van die stad aangekeer nadat ’n lid van die plaaslike buurtwag gesien het hoe drie mense ’n vuur op die berg maak, waarna die owerhede ingelig is.

Twee van die drie mense het daarin geslaag om die owerhede te ontduik.

Die saak teen Mhangazo is tot 28 April uitgestel.

Hy bly in aanhouding tot sy volgende verskyning.

Niemand anders is nog in hegtenis geneem nie.

20 Apr. 11:53:02

Inwoners kan terugkeer ná ontruiming

Inwoners van Kaapstad wat sedert Sondag hul huise moes ontruim weens die dreigende wegholbrand op Tafelberg, kon deur die loop van die nag na hul huise terugkeer.

Intussen is die Kaapstad-metro se sentrum vir rampbestuur besig met gesamentlike skadebepalings ten einde met herstelwerk aan die paaie en ander infrastruktuur te begin.

“Die vasteafvalbestuurseenheid is geaktiveer om die vullis te verwyder,” lui ’n verklaring van die metro.

“Die elektrisiteitsafdeling het vasgestel dat daar geen groot skade aan die mediumspanning-infrastruktuur is nie, maar kragdrade na geboue is egter beskadig.“

Intussen neem die omgewingsgesondheidsdiens deurlopende watermonsters by die Molteno-reservoir om te verseker dat as van die brand nie die watergehalte beïnvloed nie.

“Die rampbestuureenheid wil die gemeenskapspolisiëringsforums (GPF) bedank vir hul hulp met die ontruiming. Dit is duidelik dat die samewerking tussen almal ’n groot impak het.”

 

Inwoners van Vredehoek moes in die vroeë oggendure van Maandag hul huis ontruim. Foto: Gallo Images

20 Apr. 11:46:16

Foto: Jaco Marais

20 Apr. 11:45:59

Foto: Jaco Marais

20 Apr. 11:45:47

Foto: Jaco Marais

20 Apr. 11:45:38

Foto: Jaco Marais

20 Apr. 11:37:06

Helikopters ingespan om laaste vlamme te blus

Helikopters wat help om die laaste vlamme van die brand te blus is bo Tafelberg gesien.

Weens die sterk wind wat Maandag gewaai het, kon helikopters nie gebruik word nie, maar is tans ontplooi om water op die vuur te gooi.

Foto: Verskaf

20 Apr. 10:40:27

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.