Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Brande
Sakeman van VSA help Knysna se brandslagoffers

Meer as 45 slagoffers en hul gesinne wat geraak is deur die verwoestende brande in Knysna in Junie 2017, het nou toegang tot elektrisiteit danksy ’n Amerikaanse sakeman se vrygewigheid.

Die Fred Alger-brandverligtingstrust van die sakeman Fred Alger het R13 200 betaal vir die aansluitingsheffing van elektrisiteit vir 48 brandslagoffers en hul gesinne in Witlokasie in Knysna.

Velile Waxa, raadslid vir Wyk 4 by die Knysna-munisipaliteit (links) en Mkhuseli Mankayi, ’n begunstigde van Witlokasie wie se huis geëlektrifiseer is danksy hulp van die Amerikaanse sakeman, Fred Alger.

Die Knysna-munisipaliteit sê in ’n verklaring Alger is tans in Kaapstad gesetel, maar Knysna lê hom na aan die hart omdat sy lewensmaat in Knysna gebore en getoë is. Die paar het plaaslike vriende, Jill en Colin Mathiesen, gevra om die geld namens hulle te administreer en te versprei.

Alger het verlede jaar $100 000 geskenk aan die slagoffers van die Knysna-brande toe hy van die verwoesting te hore gekom het. Volgens die munisipaliteit is verlies en trauma aan hom bekend omdat sy broer, neef en die hele personeelkorps van die Fred Alger Investment Firm met 9/11 gesterf het toe die Twin Towers in New York ingetuimel het. Op 65 moes hy sy sakeonderneming weer opbou. Vandag is dit van die ondernemings wat die beste in Wallstraat presteer.

Sedert die Knysna-brande het die trust reeds families, individue, skoliere en kleinsakeondernemings bygestaan.

Die begunstigdes van Witlokasie sê hulle is opreg dankbaar vir die hulp. Hulle kon die afgelope Kersfees veilig deurbring en hul kinders kon sonder ’n gesukkel vir die nuwe skooljaar voorberei.

Volgens ’n inwoner, Mkhuseli Mankayi, was dit voorheen ’n stryd om ’n paraffienstoof en kerse te gebruik. Hy is baie dankbaar, want nou kan hy sy televisie en yskas gebruik.

Nog ’n begunstigde, Azola Sikontya, het vertel sy familie was ’n lang tyd sonder elektrisiteit.

“Ons kan nou die kinders behoorlik help met huiswerk, hul skooluniforms stryk en ook hul kos vir die volgende dag voorberei.”

Velile Waxa, raadslid vir Wyk 4 en voorsitter van die komitee oor beplanning en geïntegreerde menslike nedersettings, het Alger vir die elektrifisering van die huise bedank en gesê sy vrygewigheid laat hom klein voel.

“Danksy jou goedhartigheid kon die families ’n mooi Kersfees hê, maar belangriker: Jy het gesorg dat hulle die nuwe jaar op ’n goeie en positiewe noot begin.”

Meer oor:  Brandslagoffers  |  Knysna-Brande  |  Sakeman  |  Liefdadigheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.