Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Brande
Slagoffers van Knysna-brande gekwel oor beloofde hulp
’n Huis in Belvidere, Knysna, wat in die brande op 7 Junie vernietig is. Foto: Eugene Gunning

Slagoffers van die Knysna-brande in Junie vanjaar is gefrustreerd oor die gebrek aan inligting oor wanneer die beloofde hulp aan hulle ’n werklikheid gaan word.

Hoewel hulle baie dankbaar is vir die hulp wat hulle ontvang, is daar nie altyd tasbare tekens van hulp wat hulle in staat sal stel om vir die toekoms te beplan nie.

Die Garden Route Rebuild Initiative, ’n buitengewone komitee waarby die Wes-Kaapse regering en verskeie munisipaliteite in Eden betrokke is, het vroeër vandeesweek aangedui dat verskeie kwessies die afgelope twee weke aandag geniet het.

Alan Winde, Wes-Kaapse LUR, het ook in ’n verklaring verwys na verskeie aangeleenthede wat in die komende weke aandag sal kry.

Ewan Seton van Brenton-on-Sea sê daar kom nie regtig regstreekse finansiële hulp van die munisipaliteit af nie.

Die departement van binnelandse sake het onlangs slagoffers gehelp om nuwe identiteitsdokumente te bekom.

“Mense is ongelukkig. Daar is nie regstreekse kommunikasie nie. Mense weet nie of hulle regtig gehelp gaan word nie.

“Ons is dankbaar vir die hulp. Maar mense is gefrustreerd met die munisipaliteit. As daar dan hulp kom, moet dit aan die mense gekommunikeer word.”

Quentin Haman, wat op ’n plaas naby Knysna gewoon en sy onderneming daar bedryf het, sê elke dag word dit net ’n bietjie moeiliker.

Hy en sy ma het die meeste van hul besittings verloor.

Alan Winde Foto: Verskaf

Hy sê hy wys nie vingers nie en is baie dankbaar vir alle hulp wat hulle ontvang. Hulle kom egter te staan voor bepaalde uitdagings. Volgens hom voel baie mense dieselfde.

“Ons verwag nie geskenke nie. Ek het al vorms ingevul om hulp te ontvang, maar kry nie terugvoer nie. Ons kan nie vooruit beplan nie. Ons weet nie wat gaan gebeur nie. Daar is voorstelle vir hulp, maar ons hoor niks nie. Ek weet dinge kan nie oornag gebeur nie.”

Vriende help hom en hy het al byvoorbeeld ’n mikrogolfoond ontvang.

In dié stadium is verblyf ’n groot probleem. “As dít opgelos is, sal ’n groot bekommernis uit die weg geruim wees.”

Hy het verpligtinge wat hy moet nakom. Mense bel hom en vra wanneer gaan hy betaal. Dan moet hy eers verduidelik wat gebeur het.

Hy bly egter positief. “Ek vra net inligting sodat ek vooruit kan beplan.”

Struan Law van Belvidere sê hulle ontvang hulp, maar dit is baie min. “Ons het alles verloor. Ons kry hulp, maar wat gaan daarna gebeur? Ons vra nie geskenke nie en is dankbaar vir die hulp. Met die oog op die toekoms wil ons net weet wat aan die gang is.”

Volgens hom was daar baie sprake van hulp kort ná die ramp, maar dit lyk of dit stadig verminder.

Baie van die gereedskap wat hy vir sy werk gebruik het, is in die brand verwoes en moes vervang word.

Alan Winde se reaksie

Winde sê hy verstaan die mense se frustrasies. “As hulle probleme het, moet hulle na vore kom sodat ons weet wat dit is en dit aandag kan kry. Ons wil help.

“Hulle moet kontak maak met die munisipaliteit en die plaaslike rampbestuur.”

Volgens Winde is daar ná die ramp baie skenkings van mense aan die slagoffers gegee. Dit het gewissel van komberse, matrasse en beddens tot kos.

Mense se woonplekke is in die brand beskadig en die herstelwerk moet aandag kry. Van hierdie mense het in informele nedersettings gewoon. Ander het in staatshuise gewoon. Daar is ook wat in huise gewoon het wat in private besit was. Sommige was verseker en ander nie.

Die vraag is wat die staat kan doen.

“Die staat het dadelik ná die ramp geld beskikbaar gestel om die infrastruktuur te herstel. Die geld moes ook betaal vir die gebruik van helikopters om die brande in bedwang te bring. Die heropboufase is nou aan die gang.

“Van die mense is depressief, wat te verstane is, want hulle het alles verloor. 

“Ek is jammer as die proses stadig verloop. Ek sal graag wil sien dat dit vinniger gebeur. Dit is egter ingewikkeld en ’n klomp geld is betrokke. ’n Voorbeeld daarvan is asbesstrukture wat verwyder moet word.

“Van die geld is ook deur die private sektor ingesamel en die staat het geen beheer daaroor nie.”


Meer oor:  Knysna  |  Knysna-Brande
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.