Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Brande
So kan jy boere help wat deur brande geraak word

Die brande wat duisende hektare landbougrond in die Wes-Vrystaat en Noord-Kaap vernietig het, het AfriForum genoop om platgeslane boere by te staan.

Mense landwyd wou ook weet hoe hulle die boere kan help.

Henk Maree, woordvoerder van AfriForum se Boks vir ’n boer-projek, sê dit is deel van verskeie inisiatiewe wat in samewerking met organisasies soos die Caring Daisies, TLU SA en Agri Noordwes begin is om boere in die Wes-Vrystaat te help.

“Ná die verwoesting wat die brande daar veroorsaak het, kan ’n mens nie anders nie as om alles in jou vermoë te doen om hulle te help. Die skade is onbeskryflik groot.”

So kan jy 'n boer help met 'n noodboks. Foto: Verskaf

Maree sê ’n geraamde 130 000 ha het reeds op plase afgebrand.

“Dit is ongelooflik. Ons het die laaste twee dae gebruik om boere en die gebied te besoek.”

Hy sê die AfriForum-span het die gebied ook uit ’n vliegtuig besigtig om die omvang van die skade te bepaal.

“Die boere het ons hulp nodig. As daar lede van die publiek is wat ’n boks wil pak vir ’n boer, of vir sy familie, doen dit asseblief. As jy voel jy het nie tyd om ’n boks te pak nie, maak asseblief ’n bydrae van R300.”

Maree sê AfriForum sal toesien dat hulle die nodige vir die boere uit finansiële skenkings aankoop.

Hy sê daar is veral ’n groot vraag na voerskenkings.

“Ons het net regtigwaar in hierdie stadium hulp nodig. Ons doen ’n beroep op instansies wat dit op die hart het om te help en die boere by te staan. Ons het almal se hulp nodig om ’n noemenswaardige verskil te maak.”

Die brande by Boshof op die grens van die Noord-Kaap en die Vrystaat het Vrydagoggend voortgewoed. Foto: Andreas van Rooyen
Die brande by Boshof het Donderdagaand buite beheer gewoed. Foto: Andreas van Rooyen
Die brande by Boshof. Foto: Andreas van Rooyen

Maree het ook gevra dat Suid-Afrika vir die boere bid.

“Bid asseblief dat die reën kom en dat die veld vinnig sal herstel.”

Vier mense is Donderdagaand vir brandstigting in hegtenis geneem nadat hulle in Jan Kempdorp in die Noord-Kaap op die Vrystaatse grens opgemerk is, berig Cheréne Pienaar.

Dit is nie dieselfde mense wat laat Donderdag na bewering ’n brand gestig het op ’n plaas in die nabygeleë Boshof nie, sê Frederik van Zyl, veiligheidskoördineerder van Vaalharts Landbou.

Die brande in die gebied het Vrydag omstreeks 04:30 steeds voortgewoed. Sterk wind van tot 25 km/h en hoë temperature is vir Vrydag en die naweek vir die gebied voorspel en bemoeilik die pogings om die brande onder beheer te bring.

Klik hier vir die verskillende AfriForum-aflaaipunte in jou dorp of stad om noodbokse vir boere te skenk: https://afriforum.co.za/vrystaat-brande/

Meer oor:  Afriforum  |  Brand  |  Boere
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.