Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Brande
Suid-Kaapse brande: Toe die bergwind opstaan...

Hulle het nege geliefdes verloor, hul geboreplek is verwoes, maar hulle gaan nêrens – hul voorouers én kinders is nou hier begrawe, skryf Hendrik Hancke.

’n Huilende Angelique Jantjies voor Ben Oelf se afgebrande huis. Foto’s: Deon Raath

Net meer as ’n jaar nadat hy as vrywilliger in Knysna die brande help beveg het, moes Nataniel Oelf Donderdag in Karatara, naby Knysna, saam met die polisie deur roet en as sif vir die oorskot van sy familie.

Nataniel (26) is buitengewoon kalm, amper statig in sy hartseer. Maandag was hy nog ’n pa van drie. Nou van geen.

“Ek dink ons het vandag van my suster se bene gekry. Dalk ook van my kinders s’n,” sê Nataniel laat Donderdagmiddag aan Rapport.

Net buite ’n bibberkoue Buffelsbaai trek hy ’n kombers stywer om hom vas voordat hy versigtig verder praat.

“Die koerante sê agt mense is dood. Dis nie waar nie. Daardie ongebore baba was ’n maand van gebore af. Dis nege mense wat dood is.”

Oupa Ben Oelf (65) het die afgelope Maandag twee keer tevergeefs by brandende huise ingehardloop om familielede te probeer red. Nege het gesterf.

Hy was Maandag op pad werk toe, gesus deur die wete dat die brand in die berg volgens die owerhede “onder beheer” was.

“Ek was so 2 km van Karatara af toe ek vuur sien. Ek bel toe ’n boer, Rob Dormehl, saam met wie ek verlede jaar in Knysna gaan vuur slaan het en sê ek is reg om te gaan veg in Karatara.”

Op pad na Dormehl se plaas, bel hy toe sy pa. “Ek was bekommerd en ek kon hoor my pa ook – die bergwind was ’n groot probleem,” sê Nataniel.

Hy word stil en vir ’n oomblik soek hy woorde in die ysige Suid-Kaapse aand.

’n Teddiebeer, vasgesmelt aan die huis waarin nege mense gesterf het.

“Toe ek weer my pa bel, antwoord een van die kinders . . .”

Sy stem word merkbaar sagter.

“Ek kon die histeriese geskree in die agtergrond hoor toe sy vir my sê die vuur is in die huis.”

Nataniel het hom te fiets na Dormehl gehaas.

“Ek het by hom ingehardloop en gesê my huis brand en my kinders is binne die huis, toe los Rob alles en ons jaag Farleigh toe.”

Angelique Jantjies (50) op die erf waar haar familielede gesterf het.

Van Karatara na Farleigh krul die sowat 4 km grondpad om die “nat draai, die wit draai en dan die lang draai”.

Nataniel en Rob het sy pa en ’n 12-jarige niggie in die straat in Farleigh gekry.

“Hulle was baie deurmekaar van al die rook . . .”

Oupa Ben Oelf (65), patriarg van die familie en ’n tradisionele leier van die Khoisan in die omgewing, vertel verder: “Die Oelfs ken die natuur hier. Ons het geweet daar is probleme toe die bergwind opstaan.”

Hy en sy 44-jarige dogter het begin om al om die huis en buitekamer water te gooi. Die brand was toe al in die plantasie, reg langs die enkelstraat-bosboudorpie Farleigh met sy 26 huise, toe Ben sy kleindogter by die bure gaan soek.

Die laaste huiswerk.

“Ek het net deur die tuinhekkie gehardloop toe ek die eerste kool sien val – reg langs die huis oorkant. Toe ek daar kom, was die vuur klaar deur ’n venster in die huis.”

Sy kleindogter was nie daar nie. “Ek het haar drie keer geroep, maar daar was niks nie, toe hardloop ek terug.”

By sy huis gekom, was die brand daar ook. “Die agterkant van my huis was aan die brand. Daar was nie tyd vir eiendom red nie, ons moes uit!”

Daar was agt mense in sy huis: Ben se dogter (44), haar kinders van twee en 12, sy seun Simea se 21-jarige meisie wat agt maande swanger was, haar 13 maande oue dogtertjie, en Nataniel se drie dogtertjies van vyf en drie jaar en 11 maande.

“Ek het vir hulle gesê ons moet pad op hardloop en laag hou vir die rook. Die wind was rof, ons kon van al die rook amper niks sien nie en die vlamme was oral.”

Sy seun Simea het vroeër ’n karbattery gaan haal en toe die familie uithardloop, het hy deur die digte rook daarmee aangekom. Hy wou weet waar sy swanger meisie was.

“In die groot deurmekaar kon ons haar nie sien nie. Ek hardloop toe by die huis in om haar te soek, maar sy was nie daar nie. Die rook was so erg binne ek kon nie eens my eie agterdeur kry toe ek wou uit nie.”

Hy leun vorentoe oor die tafel en benadruk elke lettergreep met ’n handbeweging:

“My eie agterdeur kon ek nie kry nie.

“Simea het my kom haal. Hy het my lewe net daar gered,” sê Ben.

Die bad wat was. In Farleigh het 13 van die piepklein bosboudorpie se 26 huise die afgelope Maandag afgebrand. Foto: Deon Raath

Toe hulle buite kom, was die ander agt nie meer daar nie.

“Ek het gedink hulle het na my geluister en pad op gehardloop.”

Sy oë blink.

“Ek weet nie wat hulle gedink het nie. Miskien was dit die rook, miskien was dit die deurmekaar of die bang, maar hulle het na die brandende huis oorkant die pad gevlug. Hulle almal is daar dood.”

Nataniel kyk met sagte oë na sy pa.

“Ek het Maandag my suster, my drie kindertjies, my alles verloor, maar ek het vir my pa gesê dis oukei. Ons het almal alles gedoen wat ons kon. Dis oukei,” sê Nataniel.

Vir ’n oomblik is hy stil.

“Van die 26 huise in Farleigh is 13 afgebrand, maar ons gaan nêrens heen nie. Dis ons geboreplek, die plek waar ons voorouers begrawe is en nou ook die plek waar ons kinders dood is. Ons wil ’n monument hier oprig – en bly sal ons hier bly.”

* Die familie het gevra dat hul gestorwe familielede se name verswyg word uit respek vir die oorledenes.

Meer oor:  Angelique Jantjies  |  Nataniel Oelf  |  Karatara  |  Knysna  |  Suidkaap  |  Brand
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.