Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Brande
‘Toe het die lug skielik oranje geword ...’
Graham Night (52), wie se huis in Clarency-rylaan op Bettysbaai omstreeks 14:30 vlamgevat het, was besig om goed uit die huis te verwyder en die volgende oomblik was die vlamme “op die huis”.Foto: Jaco Marais.

“Die lug het skielik oranje geword en ek het net vlamme gesien,” vertel een van die talle inwoners van Bettysbaai wat Vrydag vir hul lewe moes vlug toe die weeklange brand by dié kusdorp deur ’n wind van byna 100 km/h in ’n inferno verander is.

Graham Night (52), wie se huis in Clarency-rylaan omstreeks 14:30 vlamgevat het, sê hy was besig om goed uit die huis te dra en die volgende oomblik was die vlamme “op die huis”.

Night kon sy pitbull-hond, Shea, red en hy en nog familielede het in ’n motor gespring en weggejaag.

Graham Night (52) kyk na sy huis wat heeltemal verwoes is. Die voertuie het ook uitgebrand. Foto: Jaco Marais
Dié huis op Bettysbaai het ook Vrydagmiddag aan die brand geslaan.Foto: Jaco Marais
Net gloeiende stompe was Vrydagmiddag sigbaar van nog een van die huise op Bettysbaai wat afgebrand het. Tussen 20 en 30 huise is in die geheel of gedeeltelik verwoes in die brand Vrydagmiddag. Foto: Jaco Marais

Die wind het so erg gewaai dat dit die agterruit van die motor uitgewaai het, sê Night.

“Daar was geen brandweer nie, niemand nie. Mense het mekaar gehelp om van die vlamme te ontsnap,” volgens Night.

Die verwoeste eiendom op Bettysbaai het Vrydagaand herinner aan ’n armageddon-toneel met uitgebrande motors en tientalle huise wat heeltemal of gedeeltelik afgebrand het.

Van die huise was steeds in vlamme, terwyl reën begin uitsak het. Dit het darem gehelp het dat die vlamme nie verder rondspring op hul pad van vernietiging nie.

Van die berigte wat ontvang is, is dat tussen 20 en 30 huise heeltemal of gedeeltelik afgebrand het.

Asof die brand op Bettysbaai nie erg genoeg was nie, het nog ’n brand ook vroeër Vrydagmiddag op Franskraal ontstaan en die hele dorp moes ontruim word.

Die Overstrand-munisipaliteit het bevestig dele van Bettysbaai is ontruim, Franskraal moes ontruim word asook plase en inwoners in die omgewing van Karwyderskraal (Camphill, Bona Dea, plase onder by Hemel-en-Aarde, dele van Northcliff en Eastcliff, Fernkloof asook Hermanus Heights).

Buiten die brand, het die stormsterk wind ook vernietiging op Bettysbaai gesaai. Foto: Jaco Marais

Dele van die R44 was Vrydag gesluit. Mense is Vrydagmiddag opdrag gegee om die paaie te vermy in die omgewing van Franskraal, Bettysbaai en Karwyderskraal sodat noodvoertuie maklik kan rondbeweeg. Buite Franskraal het inwoners hul perde na veiligheid in die pad af gelei.

Die Grobbelaarsaal (Hermanus), Gansbaai-toerismekantoor se saal, Sandbaai-saal en Crassula-saal (op Bettysbaai) is as bymekaarkomplekke gebruik vir mense wat hul huise moes ontruim.

Nog een van die huise wat in die brand op Bettysbaai vernietig is. Foto: Jaco Marais

Teen die aand het reën verligting gebring, maar dit is gevolg deur kragonderbrekings oor groot dele in die gebied. Rukwinde van 94 km/h en ’n windspoed van om 60 km/h is oor die Overstrand heen ervaar.

Op Hermanus het die brand teen die berg af versprei tot teenoor die agterkant van die begraafplaas. Sommige inwoners is toe reeds gevra om hul huise te ontruim.

Die Overstrand-munisipaliteit kon teen 19:00 nog nie die omvang van die skade en hoeveel geboue verwoes is, bevestig nie.

Die kusdorpe in dié omgewing en omliggende dele is deur die middag in digte rook gehul.

Franskraal-brand

Om 13:00 het die munisipaliteit ’n beroep op inwoners van Franskraal gedoen om onmiddellik die gebied te verlaat weens ’n wegholbrand wat in daardie stadium “buite beheer” gewoed het.

Mense is beveel om net troeteldiere, noodsaaklike besittings en medisyne saam te neem. Alle ligte en elektriese toestelle in huise moes afgeskakel word, waarna die huis gesluit moes word.

“Vir jou eie veiligheid, verlaat asseblief onmiddellik jou buurt en ry na die huis van ’n vriend of familielid buite die ontruimingsgebied,” was die opdrag.

Meer oor:  Graham Night  |  Wes-Kaap  |  Bettysbaai  |  Huise  |  Verwoesting  |  Brande  |  Vuur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.