Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Brande
Twee boere beseer toe hulle veldbrand probeer blus

Twee boere van die Kroonstad-distrik is Donderdag in die hospitaal opgeneem nadat hulle in ’n veldbrand beseer is.

Mof Myburgh is ernstig beseer en in die waakeenheid in die Netcare Kroon-hospitaal opgeneem. Hy is Donderdagaand na die Milpark-hospitaal in Johannesburg oorgeplaas.

Burnie Staal het brandwonde aan sy arms, hande en gesig opgedoen. Staal se dogter, Blanche-Mari, sê haar pa was besig om ’n veldbrand te blus. Die bakkie se enjin het gestol en hy is deur vlamme oorval.

Verwoestende veldbrande, soos dié een suid van Harrismith, het die afgelope week groot stukke weiveld in die Vrystaat verwoes. Minstens drie boere en ’n jong seun is in die brande beseer.Foto: Verskaf

Staal en Myburgh het volgens inligting saam die brand bestry.

Die brand het volgens Mossie Mostert langs die Smaldeel-pad, ongeveer 8 km van Kroonstad, uitgebreek. Mostert sê die terrein is onbegaanbaar en dit is moeilik om ’n brand daar te beheer.

Die sterk wind het die brand vinnig laat versprei en die vlamme het oor die dubbelpad tussen Kroonstad en Welkom versprei.

Boere van die omgewing het die brand in bedwang gebring, maar teen Donderdagmiddag laat het die veld weer begin brand.

Dawid Steenkamp is Sondag buite Vredefort beseer toe hy tydens ’n veldbrand met ’n skotteleg ’n brandbaan wou maak en deur vlamme oorval is. Hy het brandwonde aan sy hande opgedoen, maar reeds uit die hospitaal ontslaan.

Verskeie veldbrande het Woensdag en Donderdag verwoesting in die Vrystaat gesaai weens die winderige toestande wat geheers het terwyl ’n kouefront in aantog was.

Johan Breytenbach, hoofbestuurder van die Vrystaat se sambreelbrandbeskermingsvereniging (FSUFPA), sê veldbrande het groot skade in die provinsie veroorsaak.

In die Heilbron-omgewing het drie middelslag-veldbrande en ’n groot veldbrand Woensdag binne ’n radius van 50 km uitgebreek.

Dit is nie seker hoeveel weiveld die week vernietig is nie. Drie brande die afgelope naweek het 13 000 ha vernietig.

Meer oor:  Burnie Staal  |  Mof Myburgh  |  Kroonstad  |  Boere  |  Veldbrande
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.