Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Brande
Uitheemse bome het brande by Knysna aangevuur

Die brande in Knysna in 2017 is veral aangevuur deur dennebome en ander indringers wat meer as twee derdes van die afgebrande gebied beslaan het.

Plantasies van dennebome in die agtergrond en indringing deur wegbreek-dennebome op die Garciapas tussen Riversdal en Ladismith in die Suid-Kaap. Foto: Brian van Wilgen

Dit is die bevinding van navorsing wat in die vaktydskrif Fire Ecology gepubliseer is. Dit is gedoen deur ’n navorsingspan van die Sentrum van Uitnemendheid vir Indringerbiologie (SIB) van die Universiteit Stellenbosch, die Nelson Mandela-Universiteit, Sanparke en die WNNR.

Die natuurlike fynbos en inheemse bome in die gebied is oor die jare toenemend vervang en verdring en die brand was aansienlik hewiger weens die uitheemse bome.

Die navorsers het satellietbeelde van verskillende dele van die gebied voor en ná die brand vergelyk om te bepaal hoeveel biomassa verbrand is. Hulle het bevind die brande was hewiger waar plantasies van uitheemse bome afgebrand het, asook waar uitheemse bome die fynbos binnegedring het, vergeleke met natuurlike fynbos.

Al was die weersomstandighede ekstreem, was dit nie ongekend nie aangesien soortgelyke omstandighede in die verlede ongeveer een dag elke drie jaar voorgekom het.

Die intensiteit van die lang droogte van 18 tot 24 maande wat die brande voorafgegaan het, was egter die ergste nog in die geskiedkundige weerrekord en dit het aansienlik tot die felheid van die brande bygedra.

Prof. Brian van Wilgen, vuurekoloog by die SIB en een van die medeskrywers, sê groot landstreke van natuurlike plantegroei in die Suid-Kaap is stelselmatig vervang met plantasies van Pinus- en Eucalyptus-spesies, met ’n gepaardgaande verhoging in biomassa van amper 4 ton tot 20 ton per ha: “Twee derdes van die gebied wat afgebrand het, was landstreke waar indringerspesies voorkom. Ons resultate wys duidelik dat die beskikbare brandstoflading aansienlik verhoog is in vergelyking met vroeër jare toe die landskap deur natuurlike en beheerde inheemse plantegroei oorheers is.”

Afgebrande plantasie by Harkerville in die Suid-Kaap. Dié foto is ná die 2017-brand by Knysna geneem. Foto: Johan Baard

Daar word bereken dat dennebome meer as 90% van die fynbosplantegroei in die Tuinroete Nasionale Park binnegedring het. Bykomende indringing deur die Australiese Acacia- en Eucalyptus-spesies bedek onderskeidelik ’n verdere 29% en 14% van die gebied.

Van Wilgen waarsku dat soortgelyke brande meer gereeld sal voorkom namate die klimaat van die Suid-Kaap toenemend droër en warmer word en soos wat die omvang van indringerplante toeneem.

“Ons navorsing beklemtoon hoe belangrik dit is om doeltreffende programme te hê wat die verspreiding van uitheemse plante sal beheer, asook ’n heroorweging van die ekonomiese en ekologiese volhoubaarheid van die kommersiële aanplanting van uitheemse indringerplante in gebiede met ’n hoë brandgevaar.”

Meer oor:  Prof. Brian Van Wilgen  |  Knysna  |  Brande  |  Uitheemse Bome
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.