Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Brande
UK stel nog omvang van skade vas ná brand
Brandskade aan die Jagger-leeskamer op die Universiteit van Kaapstad se kampus. Foto: Jaco Marais
Verkoolde boeke en ander items in die Jagger-leeskamer van die UK. Foto: Jaco Marais
Digte rook hang Maandag oor die UK se bo-kampus. Foto: Jaco Marais
Die dak van een van die UK se geboue wat deur die vlamme verwoes is. Foto: Jaco Marais

Die Universiteit van Kaapstad (UK) moet nog vasstel hoeveel skade deur die verwoestende brand in Kaapstad op sy kampus aangerig is en wat gedoen moet word voordat kampusbedrywighede kan hervat.

Terwyl daar groot skade aan die Jagger-leeskamer, voorheen bekend as die Jagger-biblioteek, aangerig is, het ander geboue ligter daarvan afgekom en het belangrike versamelings die brand oorleef.

Prof. Sue Harrison, adjunkvisekanselier, het Dinsdag gesê ’n gedeelte van die Pearson-gebou is ook beskadig, maar gelukkig is die Bolus-herbarium nie beskadig nie. Dit is ’n versameling van plantmonsters van die 19de eeu met verskeie Kaapse plante.

“Die skade aan die gebou en die behoefte om dié belangrike versameling te beskerm sal die biologiese wetenskappe en verwante navorsing raak.”

Harrison, ook adjunkvisekanselier vir navorsing en internasionalisering, het ’n beroep op personeel gedoen om eerste op hul veiligheid en welstand te fokus.

Sy sê die UK prioritiseer dit om sy navorsingswerk te kan hervat, insluitende op die kampus.

Volgens Harrison sal brande op die universiteitsterrein en in die omliggende gebied steeds die werksaamhede op kampus raak omdat daar die gevaar van rookinaseming en verdere ontruiming is.

Die skade aan die gebou en die behoefte om dié belangrike versameling te beskerm sal die biologiese wetenskappe en verwante navorsing raak.

“Omdat ons die veiligheid van UK-geboue moet bepaal, vra ons dat alle personeel en studente van die kampus af bly. Ons akademiese geboue sal so gou moontlik heropen en ons sal inligting vir die terugkeer na die kampus uitreik wanneer dit veilig is.”

Prof. Mamokgethi Phakeng, visekanselier, het Dinsdag bekend gemaak dat alle akademiese aktiwiteite tot 23 April opgeskort word.

Geen klasse, toetse of laboratoriumwerk sal plaasvind nie. Sowat 500 studente sal ook ander verblyf benodig.

Die UK het Maandag aangedui dat minstens vier geboue beskadig is, die Jagger-leeskamer, HW Pearson-gebou en die Fuller Hall- en Smuts Hall-koshuis.

Phakeng het toe met ’n besoek aan die kampus gesê die Jagger-leeskamer het waarskynlik die meeste skade gely en dat dit versamelings vir Afrikastudie bevat het wat nie vervang kan word nie. Sy het toe gesê ’n span van die biblioteek gaan die verliese na en kyk wat gered kan word.

Van die versamelings sluit in boeke, pamflette, manuskripte en oudiovisuele opnames en rolprente.

Dit het voorheen as die JW Jagger-biblioteek bekend gestaan en is in die 1930’s gebou en na een van sy grootste weldoeners genoem.

Aanvanklik het dit as die UK se hoofbiblioteek gedien en later is dit in die leeskamer van die Afrikastudie-biblioteek omskep.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.