Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Brande
US: ‘Die brand het in my kamer begin’

“Die brand het in my kamer begin,” sê ’n ontstelde 19-jarige student Dinsdag nadat ’n gedeelte van die vrouekoshuis Huis ten Bosch op die Stellenbosch-kampus afgebrand het.

Een van die kamers is heeltemal in puin gelê. Foto: Jaco Marais

Die brand het Maandag om 19:00 uitgebreek en was teen 20:30 geblus.

“My kamermaat het my vertel wat gebeur het. Ek was in die saal op die grondverdieping vir die aankondiging van die huiskomitee (HK),” sê sy.

“My kamermaat sê daar was ’n ontploffing in die kamer op die derde verdieping. Sy het nie geweet wat aangaan nie en kon niks sien nie. Sy het by die kamer probeer uitkom en het aan iets gevat wat haar hand gebrand het.”

Haar kamermaat het daarna veilig uit die kamer gekom en is Maandagaand vir brandwonde behandel, maar is later ontslaan. Sy sterk glo aan by haar ouerhuis in Kaapstad.

’n Ander student is ook vir rookinaseming behandel, maar is ontslaan.

Ook Jeanri Nel (19), ’n eerstejaarstudent van Ceres, se kamer is in die brand verwoes.

“Al my klere, beddegoed en breekgoed is weg. En natuurlik my skootrekenaar wat op my bed gelê het,” sê Nel, wat bedryfsingenieurswese studeer.

’n Gordyn en ’n pienk laken oor ’n bed is te sien tussen lae puin in een van die kamers. Foto: Jaco Marais
Klere lê nog gestrooi op die vloer nadat kamerkaste vlamgevat het. Foto: Jaco Marais
Die gang in die seksie waar dit gebrand het. Veiligheidsbeamptes bekyk die toneel. Foto: Jaco Marais

Haar ouers, Lizelle en Albie, was Maandag in Stellenbosch om hul dogter by te staan en het vinnig vir haar 'n nuwe selfoonlaaier gaan koop omdat selfs dít in die brand verwoes is.

“Selfs haar eerstejaarshempies is weg. Dit is sulke spesiale goed wat ’n mens graag sou wou hou,” sê Lizelle.

In dieselfde gang as Nel het Yusrah Davids (20) van Kaapstad gebly. Sy is onlangs as die koshuis se onderprimaria vir 2019-’20 verkies. Ook haar kamer is in puin gelê.

’n Lugfoto wat die omvang van die skade wys. Foto: Universiteit Stellenbosch

“Ek is net bly dat almal veilig is. As almal anders versorg is en ’n plek het om te bly, is ek tevrede,” sê Davids. Haar ouers het haar ook Maandag by die koshuis kom oplaai. "Ek is veral bekommerd oor van die meisies wat ver woon en nie al hul besittings sommerso kan vervang nie. My ouers sal self ’n bietjie sukkel om weer vir my alles te koop wat ek verloor het.

“Ek is ook bekommerd oor een van ons inwoners wat van Zimbabwe kom en moontlik haar paspoort verloor het. Ons is nog nie seker of dit wel die geval is nie, maar sy is baie ontsteld.”

Davids en ander koshuisleiers het Dinsdag hope klere uitgesoek en opgevou wat deur weldoeners geskenk is. Toiletware, kos, skoene en komberse is ook geskenk en by die vrouekoshuis Monica afgelaai.

Talle inwoners het Dinsdag vertel hoe hulle Maandagaand omstreeks 19:00 die koshuis moes ontruim en daarna moes toekyk hoe die dak van die woongedeelte in hul koshuis ineenstort.

Heelwat van hulle het nie hul persoonlike items by hulle gehad nie en brille, medikasie, selfone, studentekaarte, skootrekenaars en beursies het in hul kamers agtergebly.

Volgens die US se webtuiste is agt kamers verwoes, asook die dak bo die kamers.

Volgens veiligheidspersoneel op die toneel was dit te danke aan ’n brandmuur, asook die vinnige reaksie van die nooddienste, dat die hele koshuis nie vlamgevat het nie.

Jeanri Nel (19), eerstejaarstudent van Ceres in die Wes-Kaap, vertel wat sy alles in die brand verloor het. Foto: Jaco Marais

Ooggetuies het gesien hoe ’n hommeltuig gebruik word om die brand se omvang te bepaal.

Huis ten Bosch-inwoners sê hulle is nie net besorg oor die skade wat deur die brand aangerig is nie, maar ook die water van die brandweer wat dit probeer blus het. “Sekere mense se kamers was enkelhoogte onder water,” sê ’n inwoner wat anoniem wil bly.

“Natuurlik is al die elektriese goed nou stukkend. En ons het nie eens ’n kans gehad om dit te gaan haal nie.”

Volgens die student en haar vriendin sou die nuutverkose HK Maandagaand aangekondig word en was die meeste van die 164 inwoners van die koshuis saam in dieselfde saal.

“Iemand kom toe ingehardloop en sy skree dat dit brand. Ons het eers gedink dis ’n grap.”

Die inwoners kan om veiligheidsredes nie na die koshuis terugkeer nie. Die vroue is daarna op alternatiewe plekke gehuisves, met baie wat by vriende oorgeslaap en Dinsdag geleende klere gedra het of steeds kaalvoet geloop het.

Yusrah Davids (20) van Kaapstad staan met ’n sak goed wat geskenk is. Davids is onlangs as die onderprimaria van Huis ten Bosch vir 2019-’20 verkies. Foto: Jaco Marais

Dinsdagoggend het die vroue ontbyt geëet by die Dagbreek-manskoshuis en om 10:00 is ’n vergadering gehou waar alle inwoners vrae kon vra en inligting oorgedra kon word.

Personeel van die Universiteit Stellenbosch (US), onder andere prof. Arnold Schoonwinkel, viserektor vir onderrig en leer, het vir inwoners gesê hulle sal ten minste tot Sondag alternatiewe verblyf moet gebruik, hetsy by vriende en familie, of verblyf wat die universiteit sal beskikbaar stel.

Talle vroue was Dinsdag bekommerd oor hul akademiese verpligtinge aangesien verskeie Dinsdag toetse sou aflê, maar nie meer boeke het nie of nie by hul boeke kon uitkom nie.

Schoonwinkel het die vroue gerusgestel en gesê hy het reeds die dekane van die verskillende fakulteite versoek om Huis ten Bosch-inwoners van sekere verpligtinge te verskoon omdat hulle dit nie tans kan nakom nie.

Karen Swart, inwonende hoof van die koshuis, wat ook in die koshuisgebou woon, het inwoners probeer gerusstel en gesê alles in hul vermoë word gedoen om almal so gou moontlik te huisves.

Sielkundiges van die US was ook by die vergadering teenwoordig en het gevra dat elke student wat alles verloor het, dadelik met hulle moet gaan praat. Die groep is Dinsdag laatoggend na ’n beradingsessie met sielkundiges.

Ná die vergadering het talle tranerige studente op hul selfone met hul ouers gepraat.

Intussen was die koshuis steeds net vir versekeringsassessors en bou-inspekteurs oop wat die skade moet bepaal en polisiebeamptes het die deure bewaak.

Molawazi Mthethwa (links) en Asemahle Dyosi (19), wie se kamers ook in puin gelê is. Foto: Jaco Marais

Die vroue kan voorlopig etes by die Heemstede-vrouekoshuis oorkant die pad eet en studente wat halaal-etes eet kan skuins agter Huis ten Bosch, by Metanoia-koshuis gaan eet.

Volgens Susan van der Merwe, US-woordvoerder, is die geraamde koste van die skade nog nie bekend nie.

“Die brand was Maandagaand en die assessor was Dinsdag op die terrein. Dit is nie moontlik om in hierdie vroeë stadium enige kosteramings te maak nie,” sê sy.

“Ons weet ook nog nie wat die brand veroorsaak het nie.”

Ek en my kollegas wil die inwoners en leiers van Huis ten Bosch prys vir hul dapperheid tydens hierdie noodgeval.

Prof. Wim de Villiers, US-rektor, sê in ’n verklaring hy is verlig en dankbaar dat al die studente veilig is.

“Ons opregte dank aan die Stellenbosch-nooddienste wat ons te hulp gesnel het en verskillende vorme van bystand tydens die brand verleen het,” sê De Villiers.

“Ek en my kollegas wil die inwoners en leiers van Huis ten Bosch prys vir hul dapperheid tydens hierdie noodgeval. Omdat daar gereeld brandoefeninge in die US-koshuise gehou word, het Huis ten Bosch-inwoners vinnig en rustig gereageer toe die brandalarm geaktiveer is.”

Gesie van Deventer, burgemeester van Stellenbosch, het die brandweer en reddingsdienste van Stellenbosch geprys. “Die vinnige optrede van ons brandbestryders het verseker dat alle studente veilig ontruim en die brand vinnig onder beheer gebring is,” sê sy in ’n verklaring.

“ ’n Bemanning van 16 dapper brandbestryders en agt voertuie het binne minute ná die oproep op die toneel opgedaag en die brand is omstreeks 21:14 heeltemal geblus. Die professionele en uitstekende optrede van ons brandbestryders het lewensverlies en skade aan ’n baie geskiedkundige gebou van baie emosionele waarde vir baie studente en alumni verhoed.”

Huis ten Bosch brand ’n 2de keer

Sulita Nel de Beer, wat tussen 1988 en 1991 in die koshuis gewoon het, sê sy kan nie glo dat die koshuis vir die tweede keer gebrand het nie. Die eerste keer was in 1983.

“Ek het dit geniet om onlangs die koshuis se 80-jaar-herdenking by die koshuis by te woon en dit was vir my so mooi om te sien hoe pragtig die koshuis oorgedoen is.”

De Beer sê sy was hartseer om te hoor van die brand Maandagaand en sê sy het baie mooi herinneringe van haar tyd daar.

“In my tyd het hulle ons verskriklik laat brandoefeninge doen – soms in die middel van die nag. Hulle was baie paraat ná die eerste brand.”

Volgens die koshuis se webtuiste het dié brand op 9 September 1983 teen 04:30 begin nadat ’n verwarmer in ’n student se kamer bedlinne laat vlam vat het.

Ongeveer 50 meisies, byna ’n derde van die inwoners, het al hul boeke, aantekeninge, klere en persoonlike besittings verloor wat in hul kamers was.

Enkele dae ná die brand het die boupersoneel met opruimingswerk begin en teen middel November was die dak – wat heeltemal verwoes was – weer op.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.