Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Brande
Verlies by UK-bib nie so groot soos verwag

Biblioteekwerkers, argivarisse en akademici is verheug dat die skade ná die brand by die Jagger-biblioteek op die Universiteit van Kaapstad (UK) se kampus nie so groot is as wat aanvanklik gedink is nie.

Sedert herwinningsoperasies vandeesweek begin het, is vasgestel dat die vlamme en water nie oral binnegedring het nie, sê Clive Kirkwood, ’n argivaris, in ’n verklaring deur die UK.

’n Bouplan wat nat geword het, word oopgerol om dit te laat uitdroog in die hoop dat dit behoue kan bly. Foto: Jaco Marais

“Sommige stoorplekke in die biblioteek langs die vernietigde leeskamer is nie geraak nie. Ook nie die grootste stoorplekke van die gebou nie,” sê hy.

“Baie water het wel na die ondergrondse vlakke deurgesypel en moes uitgepomp word. Dit is waar oudiovisuele en kontemporêre fotografiese argiewe gestoor is.

“Daar sal wel aan sekere versamelings waterskade wees en ons wil dringend iets daaraan doen. Daar is veral kommer oor versamelings argitekstekeninge.

Bokse en kratte met dokumente word uit die biblioteek gedra. Foto: Jaco Marais

Die boekstoor van die Afrikastudies-versameling wat moontlik nie deur die brand geraak is nie, bevat die meeste boeke wat as Afrikaanse literatuur, Afrika-literatuur en geskiedenis gekatalogiseer is.

“Daar was egter groot waterskade en weens die ligging van die boekvoorraad reg agter die Jagger-leeskamer, kon ons nog nie daar inkom om presies vas te stel wat die skade is nie,” sê Kirkwood.

“Die deel van die biblioteek waar die boeke oor kuns, argitektuur en Engelse letterkunde gehou word, het die brand vrygespring en daar is ook nie waterskade nie. Ons moet dit egter so gou moontlik uit die gebou verwyder.

“Van die oudste staatspublikasies word ook daar gehou. Die volledige stel Suid-Afrikaanse en Afrika-tydskrifte is ook ongedeerd.

Mense van die maatskappy DK Conservators, probeer van die planne red. Foto: Jaco Marais

In die afdeling vir skaars boeke is daar moontlik minimale waterskade, maar dié boeke moet dringend uit die ondergrondse kamers verwyder word om verdere skade te voorkom.

Kirkwood sê verskeie spesiale versamelings en argiewe wat buite die perseel gestoor word, is nie geraak deur die brand en water nie.

Dit sluit in ouer en dikwels skaars Afrikastudieboeke, sowel as pamflette, wat as ’n argief beskou word.

Die hele versameling harde kopieë van UK-proefskrifte; asook ou eksemplare van die koeranttitels wat in die spesiale versameling gehou word, hetsy permanent of vir vyf jaar, het ook behoue gebly.

Die dak van die biblioteek wat vernietig is. Foto: Jaco Marais

Hy sê die kosbare spesiale versamelings wat in die Jagger-biblioteek gehou word, het egter skade gekry.

“Die brand in die leeskamer, wat in 2012 gerestoureer is, het alles vernietig, ook die oorspronklike meubels uit die 1930’s en moderne toerusting en rekenaars.

“Sommige verliese aan inligtingsbronne is onherstelbaar. As argivaris is ek bekommerd oor die verlies aan die institusionele rekords wat verband hou met die skenking en administratiewe geskiedenis van elke individuele argiefversameling.

“Gelukkig was ’n databasis wat dié noodsaaklike inligting bevat, amper voltooi.

Die Jagger-biblioteek se leeskamer is heeltemal in puin gelê. Foto: Jaco Marais

Prof. Nigel Penn van die UK se geskiedenisdepartement sê die biblioteek was ’n besonder indrukwekkende struktuur, soortgelyk aan ’n katedraal.

“Dit was ’n plek van oordenking. Jy kon die boeke ruik, deur die tydskrifte en dokumente blaai en dit alles indrink,” het hy Vrydag op ’n vergadering vir belanghebbendes oor die biblioteek gesê.

Hy hoop die gebou sal weer tot sy oorspronklike glorie gerestoureer kan word.

Alles uitgedra, bekyk

Vrydag was dit ’n miernes van bedrywigheid soos boeke, dokumente en ander artefakte uit die beskadigde gebou verwyder is.

Die voorportaal van die Jagger-biblioteek met ’n besonderse mosaïekvloer wat Suid-Afrika se nasionale blom en dier uitbeeld. Foto: Twitter

Baie van die dokumente wat behoue gebly, maar nat geword het, is in kratte gelaai en uitgedra. Al die dokumente is in houers gepak, waarna dit opgeteken is en na ander geboue verskuif is.

Die dokumente is nie opgestapel nie, maar in enkel lae verpak om hul te beskerm.

Pick ’n Pay het kratte geskenk waarin die delikate en onvervangbare akademiese hulpbronne verpak en gestoor kon word tot kundige restourasiewerk aan die materiaal kon begin.

Die leeskamer voordat dit Sondag totaal vernietig is. Foto: Twitter

Die groep het Vrydagoggend 2 000 kratte by die UK afgelewer.

Ujala Satgoor, hoof van die UK se biblioteke, sê in ’n verklaring dit is ’n hartseer tyd, maar hulle word getroos deur die hulp wat uit alle oorde kom “sodat toekomstige geslagte verder kan baat vind by die kennis van dié wat voor hulle gekom het”.

Die items wat verwyder word, sal vir koelopberging gestuur word, waarna ’n intensiewe en wetenskaplike proses van herstel sal begin.

Meer oor:  Universiteit Kaapstad  |  Clive Kirkwood  |  Biblioteek  |  Verlies  |  Brand
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.