Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Brande
Vlamme gryp 1 000 huisies

In die taxi op pad huis toe Donderdag het Msozo Magwaza die rookwolke van ver af oor Masiphumelele sien hang.

Msozo Magwaza het alles verloor, waaronder haar Kersinkopies vir haar en haar twee seuns. Foto: Edrea du Toit

Toe sy net ná 16:00 uitklim, het sy besef haar ergste vrese is bewaarheid: Haar sinkhuisie in Wetlands Blok B was saam met honderde ander in ligte laaie.

Haar moed het tot in haar geel sandale gesak, sê die 42-jarige huiswerker gisteroggend tussen die verfrommelde sinkplate: Al haar Kersinkopies – kos en klere vir haar en haar twee seuns – is deur die vlamme verswelg.

Sowat 1 000 strukture in die Kaapse plakkerbuurt is in puin gelê en sowat 4 000 inwoners ontheem.

Die enorme brandskade in Blok B en C in Masiphumelele. Foto: Stad Kaapstad

Eenkant skud Zikhona Ntshatsha net haar kop, steeds in ongeloof. Sy sou môre na die Oos-Kaap vertrek het met geskenke vir haar familie. “Alles is nou weg. Dis baie sleg,” mompel sy.

Masie Kafile (27) werk as ’n bakker in Kommetjie. Sy sê sy het aangehardloop gekom na ’n vlammehel wat haar huis “gegryp” het.

Volgens Felicity Purchase, burgemeesterskomiteelid vir vervoer, het mislukte grondroofpogings blykbaar die brand veroorsaak. “Mense het die bos riete aan die verste kant aan die brand gesteek, presies by ’n plek waar die munisipale beamptes en voertuie nie maklik sou kon uitkom nie.”

Die Rooimiere hou wag oor die verwydering van beskadigde boumateriaal.

Volgens Jermaine Carelse, woordvoerder van die Kaapstadse brandweer, is toegang tot die brand verhinder omdat die strukture so naby mekaar gebou is. Dit, tesame met ’n stormsterk wind, het die vuur makliker laat versprei.

“ ’n Groot hindernis was egter die misdadige elemente wat brandweerpersoneel verhinder het om hul werk te doen. Op ’n sta­dium wou hulle selfs die brandslange sny, beskadig en moes ons die hulp van die polisie inderhaas ontbied.”

Saterdag met Rapport se besoek aan die buurt het wetstoepassers van die Stad Kaapstad en die Rooimiere wag gehou terwyl beskadigde sinkplate op die rye lorries gelê het.

’n Gemeenskapswerker, Ramona Lamb, wat haar Kersgeskenke vir Masiphumelele vir die brandslagoffers gegee het. Foto’s: Edrea du Toit

Volgens Purchase het inwoners Vrydagnag weer probeer om die stuk grond te beset, daarom is die Rooimiere ingeroep.

Dit het gelyk of daar ’n oordeelsdag in die buurt was, met myle van verwoesting en hope opgefrommelde sinkplate en die reuk van rook en nat grond in die lug. Hier en daar het mense tussen die rommel na iets bruikbaars gesoek of sinkplate weggedra.

Purchase het by die Living Hope-sentrum gehelp om die hope skenkings van inwoners van die vallei en die naburige kusdorpe te koördineer.

“Dis nie die eerste brand hier nie. Ons strukture en stelsels het net met dié brand in werking geskop.”

Oorkant die Vishoek-Kommetjie-pad het Joffy Mills van die Care Company en nog vrywilligers kospakkies uitgedeel aan brandslagoffers, waar hulle in rye gestaan het om te registreer vir bystand met boumateriaal.

Ramona Lamb, ’n gemeenskapswerker van Ocean View, het deur die jaar Kerspakkies vir Masiphumelele ingesamel wat nou dringend nodig was vir brandslagoffers.

Volgens Purchase gaan die buurt nou platgestoot word, waarna pale vir elektrisiteit en waterpunte aangebring gaan word.

Dan Plato, burgemeester van Kaapstad, het Donderdag aangedui hy sal ’n plaaslike ramp in die gebied verklaar om materiaal vir noodverligting te kan kry.

Hy het gesê weens die regering se besnoeiing van begrotings kan die stad nie meer ekstra dienste soos die sogenaamde starter kits vir brand- en vloedslagoffers buite verklaarde rampgebiede voorsien nie. Die stad het dit meer as ’n dekade gedoen.

Malusi Booi, burgemeesterskomiteelid vir menslike nedersettings, sê die nasionale departement van menslike nedersettings het die behuisingsfonds aan alle provinsies drasties besnoei weens hul swak finansiële situasie.

“Die stad gaan voort om te vra dat voorwaardelike toelaes nie gesny word nie en ander oplossings nasionaal gesoek word.”

Meer oor:  Masiphumelele  |  Brande
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.