Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Brande
Vordering met heropbou van Knysna en Bitou
'n Argieffoto van een van die huise wat in die vernietigende veldbrand in Knysna afgebrand het.

Meer as twee maande nadat verwoestende brande groot skade aan dele van Knysna en Plettenbergbaai aangerig het, is die herstelproses aan die gang.

Die Garden Route Rebuild Initiative, ’n buitengewone komitee waarby die Wes-Kaapse regering en verskeie munisipaliteite in Eden betrokke is, is reeds hard aan die werk.

Luidens ’n verklaring wat deur Alan Winde, Wes-Kaapse LUR vir ekonomiese geleenthede, uitgereik is, is daar die afgelope twee weke aan verskeie kwessies aandag gegee.

Daar is onder meer besluit dat die Knysna- en Bitou-munisipaliteit die munisipale koste wat verband hou met bouwerk sal laat vaar vir mense wie se eiendomme vernietig is.

Op die oomblik word eiendomswaardasies hersien en dit beteken dat van die slagoffers minder eiendomsbelasting in die toekoms kan betaal.

’n Ondersoek na sakeondernemings in Knysna wat vernietig is, is ook 98% afgehandel.

Alan Winde Foto:Verskaf

Die nasionale rampbestuursentrum het die brande as ’n provinsiale ramp geklassifiseer. Dit baan die weg sodat meer hulpbronne beskikbaar gestel kan word.

Daar is ook besluit om nog 90 lede van die organisasie Werk met Vuur in die gebied beskikbaar te stel. Hulle sal help met die stabilisering van hellings wat aan grondstortings blootgestel is.

388 mense in Knysna is voorts verlede maand gehelp sodat hulle toegang tot dienste van die staat kry, soos die verkryging van nuwe identiteitsdokumente en afskrifte van geboortesertifikate wat in die brande verwoes is.

'n Argieffoto van een van die huise wat in die vernietigende veldbrand in Knysna afgebrand het.

Die uitdaging om strukture wat van asbes gemaak is te verwyder, geniet ook aandag.

’n Lys van geakkrediteerde maatskappye wat asbes kan verwyder, is opgestel en sal beskikbaar gestel word.

Die komitee is bekommerd oor die onwettige storting van asbes in Bitou en Knysna. ’n Beroep word op die publiek gedoen om enige onwettige storting van asbes by 081 556 9374 in Knysna en by 086 124 8686 in Bitou aan te meld.

Om asbes te verwyder is duur en daarom het die komitee ’n versoek aan die nasionale rampbestuursentrum gerig vir finansiële bystand vir die verwydering daarvan.

In die verklaring verwys Winde ook na wat in die komende weke verwag kan word.

Dit sluit in dat die Knysna- en Bitou-munisipaliteit hul vereistes vir die indiening van bouplanne sal finaliseer.

Die huidige regulasies met betrekking tot bouplanne is in 2011 gefinaliseer. Sou dit nou streng toegepas word, kan dit beteken dat vorige bouplanne herontwerp moet word. Dit kan weer ’n impak hê op die goedkeuringstydperk.

In die dae wat kom, sal die departement van maatskaplike ontwikkeling ook die proses voltooi om te kyk na die behoeftes van 2 000 huishoudings wat deur die brande geraak word.

Die Knysna-munisipaliteit sal ook help om vergaderings te fasiliteer tussen die departement van arbeid en sakeondernemings wat reeds werkers moes aflê of dit binnekort sal moet doen.

Meer oor:  Alan Winde  |  Knysna  |  Bitou  |  Knysna-Brande  |  Brande  |  Herstel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.