Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Brande
Vrae ná twee in brand sterf

Twee weke nadat ’n vrou gesweer het sy sal nooit na haar “evil” kêrel teruggaan nie, het albei in ’n brand in sy huis in Pringlebaai in die Wes-Kaap omgekom.

Peter Brin (sr.) soek na waardevolle items tussen die puin. Foto: Edrea du Toit

Die lyke van Nicola Fox (43) en haar 40-jarige kêrel, Peter Brin, asook sy Maltese poedel, Babbies, is verlede Sondag in die vroeë oggendure in die puin van sy huis aangetref.

Brin se broer, Douglas, meen die paartjie se laaste WhatsApp-boodskappe “kan meer antwoorde gee van hul gemoedstoestand of dalk bekommernis voor die brand”.

Fox het op 19 Januarie in ’n boodskap aan ’n vriendin gesê sy het probleme met haar “eks” (Peter) en het hom op sosiale media en WhatsApp geblok.

Nicola Fox

Die Brin-familie is verslae. Douglas en sy vrou, Natasha, het Donderdag aan Rapport gesê Brin en Fox het hul “issues” gehad, maar vir nou wil die familie rou.

“Ons wag vir die forensiese uitslag,” het Douglas gesê. Volgens hom was sy broer verlede Saterdag by Natasha se 40ste verjaardagparty, wat by sy pa (ook Peter) se huis gehou is. Die twee broers se huise is ’n klipgooi daarvandaan.

Hy sê hy het vasgestel Fox het daardie aand drankies by ’n plaaslike kroeg gedrink voordat sy na Brin se huis is. Brin self is omstreeks 23:00 by die partytjie weg na ’n ander kroeg, waar hy twee whiskeys weggeslaan het. Hy is omstreeks 00:30 huis toe.

Douglas sê Natasha het hom om 02:15 wakker gemaak om te sê iemand het gebel met die nuus dat sy broer se huis brand.

Peter Brin en Babbies.

Douglas het hom daarheen gehaas. Sy broer en Nicola se voertuie het aan weerskante van die huis gestaan. Hy het om die huis gehardloop en gekyk waar hy kon ingaan. By die slaapkamer het hy geroep: “Peter! Peter!” Hy het die voertuie se ruite gebreek om dit van die vlamme af weg te stoot.

Brin en Fox se oorskot is later saam met Babbies s’n in ’n slaapkamer gevind.

Douglas het Donderdag vir Rapport die oorblyfsels van die huis in Ursulastraat wat sy broer met groot sorg gerestoureer het, gewys. Eenkant het hul pa op sy knieë na waardevolle items gesoek. Hy het ’n blikhouertjie met muntstukke gevind.

Douglas het sy broer se lyk uitgeken danksy ’n armbandjie op foto’s van sy oorskot. ’n DNS-monster is van Nicola se ma, Lynne Marriot, geneem om dit met die ander lyk s’n te vergelyk.

Die paartjie was in die hoek van die kamer op die foto vasgekeer. Foto: Douglas Brin

“Peter was laas om 00:46 op sy WhatsApp en Nicola die laaste om 01:30. Hoekom het Babbies nie iets geruik en gevlug nie?

“Mense het al 02:00 gesien die huis brand. Hule sê daar was ’n klapgeluid en toe ’n bol rook.

“Nicola se WhatsApp was halftwee nog aktief. Hoe raak iemand so gou aan die slaap as die huis teen 02:00 al gebrand het? Niemand het enige verdagte motors gesien nie.”

Hy wil die beeldmateriaal van kringtelevisiekameras by die ingang van die dorp aanvra asook dat die inhoud van die Whats­Apps bekom kan word. “Met wie het Peter en Nicky op WhatsApp gepraat en wat het hulle gesê? Iets is net nie reg nie . . .”

Oor die verhouding tussen die twee wou hy slegs sê hulle het ’n “love-hate”-verhouding gehad. “Ons wil nie oor dit uitbrei nie,” het hy gesê en eenkant toe gestaar. “Ons is al deurgehuil.”

Marriot het by navraag gesê albei families is erg geskok en hartseer. Sy sê die bewerings van haar dogter se vriende op sosiale media oor die moeilike verhouding sal die families net “verder vernietig”.

Siyabulela Malo, polisiewoordvoerder, sê die polisie ondersoek die paartjie se dood asook ’n saak van brandstigting.

Meer oor:  Pringlebaai  |  Brand
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.