Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Brande
Vrystaat steier onder veldbrande

Derduisende hektaar weiveld, huise, vee en wild is sedert Maandag in veldbrande in die Vrystaat vernietig terwyl winderige toestande Dinsdagoggend steeds brande voortgedryf het.

Johann Breytenbach van die Vrystaatse sambreelbrandvereniging (FSUFPA) sê die grootste brand, in die Suid-Vrystaat, het Dinsdag oor ’n front van 60 km en wyer as 50 km in die Xhariep-distriksmunisipaliteit gewoed en na die Mangaung-gebied versprei.

Hy sê minstens 50 000 ha veld het reeds hier in die slag gebly, maar hulle sal later deur die dag ’n meer akkurate syfer van die omvang van die skade gee.

Groot dele van die Suid-Vrystaat het van Maandag onder verwoestende veldbrande deurgeloop en baie boere het al hul weiding verloor. Die foto is tussen Tierpoort en Edenburg geneem. Foto: Verskaf

Breytenbach sê vog sal Dinsdag met die kouefront wat oor die binneland inbeweeg die brandbestryders se taak effens vergemaklik.

Brande by Edenburg en Tierpoort, suid van Bloemfontein, woed steeds en spanne van Working on Fire (WoF), boere en ander grondeienaars werk saam om die skade te beperk.

Twee brande het begin by Koffiefontein en Petrusburg en van daar af verder versprei toe wind dit aangedryf het.

’n Kragpaal wat in die sterk wind omgeval het, het volgens inligting die een brand veroorsaak, terwyl die ander een moontlik by ’n stortingsterrein begin het.

Dr. Kobus Loubscher, ’n boer van Edenburg, sê sy hele plaas is in die brand vernietig en van sy wild het van die plaas af gevlug. Hy kon sy vee na veiligheid neem.

“Die vuur was so erg, ons kon niks doen nie en het besluit om eerder net daarop te konsentreer om ons diere te red,” sê ’n emosionele Loubscher.

Loubscher sê die weiveld, wat vanjaar ongelooflik mooi en in ’n goeie toestand was, is nou vernietig.

Hy sê boere moet dringend voer aankoop of skenkings ontvang vir hul diere.

Boere by Bultfontein was Dinsdagoggend besig om die skade te bepaal nadat veldbrande ook in die gebied tussen Bultfontein en Brandfort ontstaan het.

Meer oor:  Vrystaat  |  Vee  |  Weiveld  |  Huise  |  Veldbrande
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.