Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
COVID-19
Albei ouers sterf: 'Pa, dis oukei, gaan na Mamma toe'
Frikkie (75) en Maureen Cronjé (72) is weens die koronavirus saam in die hospitaal opgeneem en het slegs dae ná mekaar gesterf. Hulle was 51 jaar getroud en was onafskeidbaar. Foto: Verskaf

“Pa, dis oukei, jy kan maar na Mamma toe gaan.”

So het Charleen Page van Kimberley en haar suster, Carlene Henning van die Strand, Saterdagaand hul pa getroos, wat weens die koronavirus om sy lewe geveg het.

Frikkie Cronjé (75) het die volgende oggend die stryd verloor, net dae ná sy vrou, Maureen (72).

“Dit is nie wat ons wou gehad het nie, maar hy was moeg baklei en gebroke ná my ma se dood,” het ’n hartseer Page Maandag gesê.

Haar ouers is op 31 Augustus saam in die Helderberg-hospitaal in Somerset-Wes opgeneem.

Page sê haar suster het die virus onder lede gehad, maar het slegs vir twee dae ligte simptome ondervind.

Daarna het haar ouers, wat by haar suster gewoon het, siek geword.

“Hulle het die Sondag begin hoes en toe het dit ál slegter gegaan. Hulle wou nie hospitaal toe gaan nie, maar het teen die Dinsdagaand ingestem.” Haar ouers, wat nie ’n mediese fonds gehad het nie, is in die staatshospitaal opgeneem.

Dit is nie wat ons wou gehad het nie, maar hy was moeg baklei en gebroke ná my ma se dood.

Page het uit Kimberley telefonies met haar ouers gekommunikeer.

“Hulle was baie deurmekaar. As ons met hulle gepraat het, het ons nie verstaan wat hulle sê nie.”

Sy het op 2 September ’n oproep van haar ma ontvang.

“Al wat sy gesê het was: ‘Kom, my kind, kom.’ ”

Intussen het Henning ook haar ma gebel.

“Sy het ’n bietjie gelag en gesukkel om te praat. Die dokter het gesê sy is baie moeg,” sê Henning.

Die susters sê hul pa was maar moeilik en het kort-kort die suurstofmasker van sy gesig getrek.

“Ons het nog op 3 September in ’n video-oproep met hom gesels en hy was so bly,” sê Page.

Hulle kon nie met hul ma, wie se toestand ernstig versleg het, praat nie.

Die dokter het Henning gebel en haar meegedeel haar ma se organe was besig om in te gee.

Page het dadelik ’n buskaartjie gekoop, maar is op pad na Kaapstad deur haar suster ingelig dat hul ma oorlede is.

“Al wat ek kon doen, was om my trane af te vee.”

Sy het die volgende oggend toe sy in Bellville van die bus afklim haar “baie hartseer” suster vertroos.

“Ek was die sterk een en het haar getroos en nog gesê een van die dae is ons pa weer by die huis.”

Cronjé is op 5 September na die Brackengate-Covid-hospitaal oorgeplaas.

“Die gesondheidswerkers het ons daagliks oor sy toestand op die hoogte gehou en ons ook op die ergste voorberei.”

Al wat ek kon doen, was om my trane af te vee.

Cronjé het geweet dat sy vrou gesterf het.

“Hy was verpletter en siek. Hy moes so alleen gevoel het en ons kon nie by hom wees nie.”

Haar ouers was 51 jaar getroud. “Die skok was vir hom te veel.”

Die susters het Donderdag weer in ’n video-oproep met hul pa gepraat.

“Hy was opgewonde om met ons te praat, maar teen Vrydag wou hy nie meer gesels nie. Ons het toe video’s gemaak en vir hom gestuur.”

Hy het slegs na die video’s van sy kleinkinders, Shane (18) en Amelia (9), gekyk.

“Verder wou hy niks hoor nie.”

Cronjé het Sondag om 07:10 sy stryd teen die virus verloor.

Page en Henning het hul ouers as liefdevol beskryf en sê hulle het wonderlike kinderjare gehad.

Cronjé het 30 jaar vir die poskantoor in die Strand gewerk en Maureen was ’n huisvrou.

“Pa was die een wat ons alles toegelaat het, terwyl Ma die streng een was wat ons met die houtlepel grootgemaak het,” sê Page.

Hul ma was ’n bobaaskok en Kersfees was hul hartstye.

“Dan het ons aan Ma se kos weggelê dat jy vir twee weke versadig was.”

Page en Henning is verpletter.

“Hierdie virus is wreed. Ek het ’n haat in my en wil niks meer van Covid hoor nie. Dit is ’n bitter seer. Ons kan nie ophou huil nie.

“Hoekom albei ons ouers?”

Hul pa was ’n hardwerkende man en hul held.

“Die seerste is dat ons nie eens hul hande kon vashou nie. Ons kon hulle ook nie gaan uitken nie.”

Sy weet haar pa sou nie sonder haar ma kon voortgaan nie.

“Ons wou ook nie hê hy moes ly nie. Jy verwag elke oomblik dat hulle by die voordeur gaan instap, maar niemand kom nie, die huis is ’n leë dop.”

Henning kry swaar.

“Sy kan dit nie aanvaar nie. Ek baklei teen elke traan en huil my hart uit op ’n stil plekkie,” sê Page.

Sy voel niemand verdien dié pyn nie.

Meer oor:  Charleen Page  |  Koronavirus  |  Covid-1
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.