Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
COVID-19
OORSIG: 3 699 nuwe infeksies; nóg 300 sterftes

Dit is dag 537 van die nasionale inperking wat weens die Covid-19-pandemie afgekondig is.

Hier is die jongste syfers:

Hier is die jongste verwikkelinge:

14 Sep. 21:02:51

Kapenaars neem pandemie nie ernstig op

Die feit dat die getal nuwe SARS-CoV-2-infeksies en Covid-19-sterftes daal, is geen rede waarom inwoners van die Kaapstad-metro hul waaksaamheid ten opsigte van gesondheidsprotokol kan verslap nie.

“Almal wil terugkeer na normaal, maar om dit reg te kry, moet almal hul deel doen om veilig te wees,” sê Zahid Badroodien, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdienste en gesondheid, in ’n verklaring.

Verlede week is 4 405 nuwe gevalle en 269 sterftes in die metro aangemeld vergeleke met 6 211 nuwe gevalle en 401 sterftes die vorige week.

Badroodien sê die piek van die derde vlaag is verby, maar dit lyk asof mense nou alle versigtigheid oorboord gooi.

Lees meer
14 Sep. 20:17:46

Transvaco-trein bring entstof na mense in Gqeberha

Transnet se Transvaco-trein, wat as ’n Covid-19-inentingsentrum bedryf word, het Dinsdag sy deure vir die inwoners in die Nelson Mandelabaai-metro geopen.

Net meer as 23% van die metro se bevolking van ouer as 18 jaar is reeds teen die virus ingeënt en die Oos-Kaapse gesondheidsdepartement is hoopvol dat die trein die inentings ’n hupstoot sal gee.

“Nie net sal dit help om soveel as moontlik mense in te ent nie, dit sal ook verligting bring vir ons hardwerkende gesondheidswerkers wat van die eerste dag af in die voorste linies teen virus veg,” het Nomakhosazana Meth, LUR vir gesondheid in die Oos-Kaap, Dinsdag by die verwelkoming van die trein op die Swartkops-treinstasie gesê. - Cara-Lee Dorfling

Lees meer
14 Sep. 20:02:54

14 Sep. 19:44:08

14 Sep. 19:10:03

Jongste syfers

Daar is die afgelope 24 uur 3 699 nuwe infeksies aangemeld. Dit bring die totaal op 2 864 534 te staan. Die positiwiteitskoers is 8,4%

In dieselfde tydperk was daar 300 sterftes, wat die sterftesyfer opstoot tot 85 302.

Inentings

Daar is die afgelope 24 uur 217 752 inentings gedoen. Die totale inentings tot dusver is 14 922 954.

Altesame 10 860 605 individue is tot dusver ingeënt.

14 Sep. 15:54:59

14 Sep. 15:12:30

Minder virusgevalle in Wes-Kaapse skole

Minder as 600 nuwe Covid-19-gevalle is die afgelope week onder skoolleerlinge en onderwysers in die Wes-Kaap aangemeld.

Kerry Mauchline, woordvoerder van Debbie Schäfer, Wes-Kaapse LUR vir onderwys, het by navraag gesê 521 nuwe gevalle is van 6 tot 13 September (die afgelope naweek ingesluit) onder skoolleerlinge aangemeld en 85 nuwe gevalle onder onderwysers.

Van 30 Augustus tot 6 September was daar 830 nuwe gevalle onder leerlinge en 133 onder onderwysers. Volgens Mauchline het hulle verwag dat die getal nuwe gevalle by skole gaan afneem soos die derde vlaag begin taan.

Dit was ook die tendens met die twee vorige vlae.“Terwyl baie gevalle deur skole aangemeld word, beteken dit nie noodwendig dat die virus by die skool opgedoen is nie,” sê sy. – Jackie Kruger

Lees meer
14 Sep. 14:51:58

Engeland het 'plan B' vir die winter

Nuwe inperkings, waaronder die verpligte dra van maskers, entstofpaspoorte en om van die huis af werk, is alles dinge wat Engeland in die Europese winter kan instel as deel van sy "plan B" om die pandemie te beheer.

Sajid Javid, minister van gesondheid, het Dinsdag gesê die land se gesondheidstelsel gaan waarskynlik weer weens Covid-19 "onder onhanteerbare druk" verkeer en die regering het reeds 'n "plan B" om vir enige gebeurlikheid gereed te wees. – SkyNews

14 Sep. 13:17:18

Brittanje vra aanvullende dosisse vir kwesbares

Die Britse regering het Dinsdag aanvullende dosisse van die Covid-19-entstof aanbeveel vir mense wat kwesbaar is of 50 jaar en ouer is.

Die land se gesamentlike komitee oor inentings en immunisasie het gesê dit verkies Pfizer se entstof vir die aanvullende dosis of ’n halwe dosis van Moderna se entstof.

Prof. Jonathan Van-Tam, Engeland se mediese adjunkhoof, het Dinsdag gesê entstowwe het 112 000 lewens gered en 24 miljoen Covid-19-gevalle verhoed.

Die komitee se prof. Wei Shen Lim het gesê: “Die hoofdoel van die program is om die beskerming te verleng en ernstige siektegevalle te verminder soos wat ons die kouer maande nader.”

Boris Johnson, premier, gaan Dinsdag ’n mediakonferensie hou om die land se benadering tot die pandemie vir die winter aan te kondig. Die regering het reeds aangedui dit gaan planne skrap dat entstofpaspoorte nodig sal wees om by nagklubs in te gaan en sal inperkingsmaatreëls as ’n laaste uitweg gebruik. – Reuters

Lees die volledige berig hier.
14 Sep. 12:23:51

Entstofpaspoort: Besluit ‘kom binne weke’

Digitale Covid-19-inentingspaspoorte is dalk binnekort Suid-Afrikaners se voorland as die kabinet sy sin kry.

So het Mondli Gungubele, minister in die presidensie, Dinsdagoggend op ’n nuuskonferensie op die eerste dag van ’n driedaagse regeringslekgotla by die Uniegebou in Pretoria gesê.

Suid-Afrika se ekonomiese herstelplan, sowel as die Covid-19-pandemie en die nasionale inentingsprogram, “wat tans gebiedend noodsaaklik geword het om ons ekonomie te laat herleef”, sal hoog op die agenda wees. – Llewellyn Prince

Lees die volledige berig hier.
Meer oor:  3De Vlaag  |  Koronavirus  |  Vlak 2  |  Inentings  |  Delta-Variant  |  Verpligte Inenting  |  Covid-19  |  Virus-Variante
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.