Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
COVID-19
Kinders dalk gou ingeënt

Die inenting van kinders teen SARS-CoV-2 kan dalk voor die einde van die jaar in Suid-Afrika begin. 

So het dr. Nicholas Crisp, direkteur-generaal van gesondheid, gesê. 

Die Suid-Afrikaanse Gesondheidsproduktebeheerraad (Sahpra) het onlangs goedkeuring gegee vir die noodgebruik van die Pfizer-entstof vir kinders van 12 jaar en ouer. 

Foster Mohale, woordvoerder van dr. Joe Phaahla, minister van gesondheid, het Dinsdag gesê daar is geen “onmiddellike besluit” om mense onder die ouderdom van 18 jaar by die nasionale inentingsprogram in te sluit nie, maar “konsultasies is aan die gang”.

Intussen het onderwysvakbonde gesê daar is geen manier dat leerlinge verplig kan word om ingeënt te word voordat volwassenes verplig word nie. 

Basil Manuel, uitvoerende hoof van die onderwysersvakbond Naptosa, het gesê sonder die inenting van kinders sal leerlinge steeds moet beurte maak om skool by te woon en skoolsluitings sal ’n groot bedreiging bly. “Die groot vraag is of ons nóg ’n jaar van ontwrigting in die skoolstelsel kan bekostig,” het Manuel gesê. 

Mugwena Maluleke, woordvoerder van die onderwysersvakbond Sadtu, het gesê pleks daarvan dat kinders gedwing word om ingeënt te word, moet die huiwering oor inenting uit die weg geruim word. 

grafika

Omdat ouers hul toestemming sal moet gee vir die inenting van hul kroos, moet die boodskap volgens Maluleke op die ouers gefokus wees. 

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), het gesê hulle sou die inenting van kinders ondersteun as die wetenskap dit voorskryf. 

“Ons weet van ’n hele klomp kinders van 12 jaar en ouer wat siek geword het, hoewel nie dodelik siek nie.” 

Prof. Mignon McCulloch van die Suid-Afrikaanse Pediatriese Vereniging het gesê meer ouer tieners het van die Delta-variant van SARS-CoV-2 siek geword omdat hulle baie soos jong volwassenes daarop reageer. 

Dr. Cloete Jansen van Vuuren, ’n spesialis in oordraagbare siektes, het gesê die rede waarom kinders ingeënt moet word, is om die kans op die oordrag van die koronavirus te verklein. 

“Dit is belangrik om te voorkom dat skole aanhoudend toegemaak moet word. Jy wil ook nie hê dat jou kind siek word wanneer hy eindeksamen skryf en dat hy dit dan die volgende jaar sal moet oordoen nie.” 

Dr. Angelique Coetzee, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (SAMV), verwag dat net kinders met onderliggende siektetoestande eers ingeënt sal word. 

Volgens haar is dit steeds die geval dat gesonde kinders nie so erg siek word soos volwassenes nie omdat kinders ’n sterk natuurlike immuunrespons het. 

“Entstowwe sal egter baie hulp bied aan kinders wat nierversaking, kanker of MIV/vigs het of ’n orgaanoorplanting ondergaan het,” het Coetzee gesê.

Wat gebeur in Westerse lande?

Die Europese medisyne-agentskap het reeds in Mei die Pfizer-entstof vir 12- tot 15-jariges goedgekeur.

Denemarke en Spanje het al die meeste van hul kinders van 12 jaar en ouer ingeënt en in Frankryk het 66% van kinders van 12 tot 17 jaar hul eerste dosis ontvang.

In Duitsland mag kinders van 12 jaar en ouer die inenting kry.

In Swede kom kinders van 12 tot 15 jaar oud slegs in aanmerking vir ’n entstof indien hulle longsiektes, asma of ’n ander onderliggende siektetoestand het.

In Noorweë is die inentings na 12- tot 15-jariges uitgebrei, maar slegs ’n eerste dosis word aangebied. ’n Besluit oor ’n tweede dosis sal later geneem word.

Reguleerders in die VSA en Kanada het reeds in Mei goedkeuring vir die gebruik van die Pfizer-entstof vir kinders van 12 jaar en ouer gegee.

Twee dosisse van die entstof word drie weke uit mekaar toegedien.

Teen die einde van Julie het 42% van 17-jariges hul eerste dosis ontvang en 32% hul tweede dosis. – BBC 

Meer oor:  Nicholas Crisp  |  Joe Phaahla  |  Covid-19  |  Ingeënt  |  Kinders
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.