Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
COVID-19
Nie ingeënt? 'Kry vir jou 'n ander dokter'

’n Internis van Mbombela sê hy is dankbaar dat hy 43 van sy pasiënte wat huiwerig was, kon oortuig om hulle teen Covid-19 te laat inent, nadat hy besluit het om nie meer oningeënte pasiënte by sy praktyk te behandel nie.

Dr. Tafara Machiri se kennisgewing dat hy nie meer oningeënte pasiënte sal behandel nie.

Dr. Tafara Machiri het ’n kennisgewing by die ingang na sy spreekkamer aangebring wat lui: “Dokter sal nie pasiënte sien wat nie teen Covid-19 ingeënt is nie.

“Ek sal niemand dwing om die entstof te neem nie, maar ek sal nie toelaat dat mense aanhou om dood te gaan aan ’n siekte wat voorkombaar is nie. U lêers sal na ’n dokter van u keuse oorgeplaas word.”

Machiri is op sosiale media daarvan beskuldig dat hy oneties optree. Hy het aan Rapport gesê dié boodskap is bedoel vir 51 van sy pasiënte, wat vir hom soos familie is en wat geweier het om die inenting teen Covid-19 te kry.

“Hulle is nie net my pasiënte nie, maar ook my vriende. Ek ken hulle al meer as 20 jaar.

“Hulle is almal in hul laat 50’s of ouer.”

‘Die derde vlaag was absolute hel.’

Machiri sê die kennisgewing is nie op die res van die land gemik nie. “Ek het dit spesifiek vir dié groepie pasiënte by my spreekkamer opgesit wat op die derde vloer in ’n gebou is.”

Iemand het ’n foto van die kennisgewing geneem en dit op WhatsApp versprei.

“Ek het vyf van my pasiënte in die tweede vlaag aan Covid-19 verloor. Hulle was vir my soos familie en het hulself nie laat inent nie. Ek het die kennisgewing uit frustrasie opgesit om van my pasiënte te oorreed om hulself te laat inent.”

Dit blyk die kennisgewing het sy doel gedien.

Volgens Machiri het 43 van die 51 pasiënte hulle laat inent.

“Hoekom moet ek verskoning vra vir die kennisgewing as dit moontlik gehelp het om mense se lewe te red? Die kennisgewing was ’n boodskap aan my pasiënte om hulself te laat inent. Dit was beslis nie ’n dreigement nie.

“Ek kan jou verseker ek sal nooit iemand wegwys wat in nood verkeer nie.”

Machiri sê mense moet elke moontlike taktiek gebruik om vriende en familie te oorreed om hulle te laat inent.

“Toe my broer geweier het om dit te doen het ek vir hom ’n lysie gestuur van al die goed wat ek by hom gaan erf as hy sou sterf. Ek het sy vrou heel bo aan die lys gesit. Hy was woedend en het my uitgekryt as die Taliban. Ek het toe vir hom gesê hy is ’n selfmoordbomaanvaller.

“Hy is steeds kwaad vir my, maar het hom intussen laat inent.”

Machiri sê die emosionele uitdaging om pasiënte met Covid-19 aan die lewe te probeer hou en om vriende te verloor wat hulself nie laat inent nie, raak te veel.

“Ek het pasiënte wat dodelik siek is, begin uitvra oor hul inentingstatus en hulle moreel veroordeel oor hul keuses. Dit is skrikwekkend as jy as dokter besef jy het ’n gebrek aan empatie en deernis vir sekere van jou pasiënte. Ek kan myself egter nie help nie.

“Ek raak geïrriteerd wanneer ek in die vroeë oggendure wakker gebel word deur pasiënte wat dodelik siek is en gehospitaliseer moet word.

“Ek weet die kans is baie groot dat hulle nie ingeënt is nie, want al die Covid-19-pasiënte wat tans hier in die hospitaal se eenhede vir intensiewe en hoë sorg behandel word, is nie ingeënt nie.”

Machiri sê hy sien nie kans vir die vierde vlaag nie. “Die derde vlaag was absolute hel.”

Dr. Cloete van Vuuren, infeksiesiekte-spesialis en hoof van interne geneeskunde by 3 Militêre Hospitaal in Bloemfontein, sê ’n dokter het net soveel reg as ’n pasiënt om te besluit hulle kom nie oor die weg nie. “ ’n Dokter is nie verplig om ’n pasiënt in die normale gang te behandel nie, solank dit nie ’n noodgeval is nie en die pasiënt genoeg tyd het om by ’n ander geneesheer uit te kom.”

Hy sê ook Machiri se houding teenoor oningeënte pasiënte is verstaanbaar. “Mense wat nie ingeënt wil word nie se houding is verstommend. Hulle sê so what as hulle moet doodgaan, totdat hulle jou middernag bekommerd bel en vra jy moet help omdat hulle na hul asem snak.

“Die familie wat nie ingeënt is nie wil dan hul geliefde by die hospitaal besoek wat op sterwe lê. Ons kan nie bekostig om ons personeel bloot te stel wat veronderstel is om onverpoos te werk om mense se lewe te red waarvan ver meer as 90% nie ingeënt is nie.”

Meer oor:  Tafara Machiri  |  Mbombela  |  Inentings  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.