Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
COVID-19
Transvaco-trein bring entstof na mense in Gqeberha

Transnet se Transvaco-trein, wat as ’n Covid-19-inentingsentrum bedryf word, het Dinsdag sy deure vir die inwoners in die Nelson Mandelabaai-metro geopen.

Nomakhosazana Meth, LUR vir gesondheid in die Oos-Kaap, by Transnet se Transvaco-trein in die Swartkops-treinstasie in Gqeberha, waar sy die media toegespreek het. Foto: Facebook/Oos-Kaapse gesondheidsdepartement

Net meer as 23% van die metro se bevolking van ouer as 18 jaar is reeds teen die virus ingeënt en die Oos-Kaapse gesondheidsdepartement is hoopvol dat die trein die inentings ’n hupstoot sal gee.

“Nie net sal dit help om soveel as moontlik mense in te ent nie, dit sal ook verligting bring vir ons hardwerkende gesondheidswerkers wat van die eerste dag af in die voorste linies teen virus veg,” het Nomakhosazana Meth, LUR vir gesondheid in die Oos-Kaap, Dinsdag by die verwelkoming van die trein op die Swartkops-treinstasie gesê.

Die Transvaco-trein sal soos die Transnet Phelophepa-gesondheidsorgtrein – wat die afgelope 25 jaar oor die land heen reis om basiese gesondheidsdienste te lewer – Transnet se spoornetwerk van sowat 31 000 km gebruik om Covid-19-entstof nader aan gemeenskappe, veral in afgeleë gebiede, te bring.

Ralph Mills, uitvoerende hoof van Transnet Engineering, sê die trein is spesiaal ontwerp om die regering se Covid-19-inentingsprogram te ondersteun en is binne drie maande by Transnet Engineering se lokomotieffabriek in Koedoespoort, Pretoria, gebou.

“Dit wys ons is daartoe verbind om die regering te ondersteun om uitdagings rondom die lewering van kritieke gesondheidsorg die hoof te bied. Ons benadering is om blywende verandering te bring deur langtermyn-vennootskappe te vestig,” sê hy.

Meth het haar dankbaarheid teenoor Transnet uitgespreek en Oos-Kapenaars opnuut aangemoedig om hulle vir die inenting aan te meld.

Meth het op die geleentheid gesê 42 pasiënte word vir Covid-19 in ’n staatshospitaal in Kariega (Uitenhage) behandel, van wie 39 nie ingeënt is nie.

“Ons moet benadruk dat die inenting jou daarteen beskerm om ernstig siek te word, gehospitaliseer te word of te sterf,” sê Meth.

Ondanks gure weer het Lusanda Robi hom Dinsdag by die Transvaco-trein in Swartkops aangemeld om ingeënt te word. Siboniso Nene, hoof van inentingsdiens op die trein, het die entstof toegedien. Foto: Lulama Zenzile

In die Oos-Kaap is 1,2 miljoen mense tot dusver ingeënt, van wie 943 670 volledig ingeënt is. Meth sê dit beteken een uit elke vyf mense in die provinsie is ten volle ingeënt.

Die provinsie het oor die afgelope drie weke ’n afname in infeksies gesien en teen Maandag 9 820 aktiewe gevalle gehad. Die Oos-Kaap se Covid-19-dodetal staan op 14 364.

Die Transvaco-trein sal ook Oos-Londen, Mdantsane, Qonce (King William’s Town) en Komani (Queenstown) aandoen, waarna dit die provinsie op 16 Desember sal verlaat.

Meer oor:  Gqeberha  |  Trein  |  Transvaco  |  Entstof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.