Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
COVID-19
UK maak dalk inentings verpligtend

Daar is ’n moontlikheid dat almal wat volgende jaar by die Universiteit van Kaapstad (UK) wil studeer, asook alle dosente, verplig sal word om teen Covid-19 ingeënt te wees.

Die UK het Maandag in ’n skrywe aan studente gesê die moontlikheid word Vrydag op ’n senaatsvergadering bespreek. Sowat 130 professore en ander akademici van die UK steun die voorstel.

“Daar word voorgestel dat elke student, as ’n vereiste om volgende jaar te kan registreer, gevra sal word vir ’n bewys dat hulle ingeënt is,” lui die skrywe.

Alle personeellede sal ook kragtens die voorstel ingeënt moet wees.

Die UK het by navraag gesê dit is nog te vroeg om te sê of huidige studente ook verplig gaan word om die inenting te ontvang. Daar is wel aan Netwerk24 gesê die senaat sal “hierdie komplekse aangeleentheid na verwagting volledig bespreek”.

Gewoonlik word enige finale besluit oor ’n beleidskwessie deur die universiteitsraad geneem.

“Die standpunt van die senaat, indien dit ’n voorstel vir inentings steun, en die mening van verteenwoordigers van personeel en studente, sal aan die UK-raad voorgelê word,” het ’n woordvoerder by navraag gesê.

Daar word voorgestel dat elke student, as ’n vereiste om volgende jaar te kan registreer, gevra sal word vir ’n bewys dat hulle ingeënt is.

Die studenteraad (SR) het ’n vraelys aan studente gestuur ten einde te bepaal of verpligte inentings deur die meerderheid ondersteun of teengestaan word. Die SR sê in ’n verklaring hy sal die uitslag van die opname Vrydag aan die senaat voorlê.

“Ons het kennis geneem van die peiling wat deur die SR sowel as deur die vakbond vir werknemers gedoen word. Hulle is belangrike stemme in die besluitnemingsproses,” het die UK Dinsdag gesê.

Die Universiteit Stellenbosch (US) het ’n taakspan aangestel om ’n assessering te doen van die verskillende faktore en of die US ’n soortgelyke beleid sal instel.

Die taakspan is steeds besig met die assessering en dit is nog te vroeg om te sê wat die uitkoms sal wees, het ’n woordvoerder van die universiteit Dinsdag gesê.

“Dit bly ’n institusionele prioriteit vir die US dat alle personeel en studente ingeënt word – in die belang van gesondheid en veiligheid. Die US het sy eie Covid-19-inentingsentrum op 12 Augustus geopen by die Lentelus-sportklubhuis in Hammanshandweg, Stellenbosch. Almal wat 18 jaar en ouer is, kan daar ingeënt word,” sê die woordvoerder.

“Personeel en studente het baie goed gereageer op die oproepe om ingeënt te word. Byna 2 000 studente en 420 personeellede het reeds hul inentings by Lentelus ontvang, terwyl personeel en studente ook inentingsplekke elders gebruik.”

Inentings bly heeltemal vrywillig by die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK), sê Nashira Davids, woordvoerder.

“Die UWK het op 8 Junie ook ’n inentingsentrum geopen wat toegang bied tot inentings vir personeel, studente en hul ouers en eggenote bied,” sê sy.

Dit bly ’n institusionele prioriteit vir die US dat alle personeel en studente ingeënt word – in die belang van gesondheid en veiligheid.

“Tot dusver het 1 540 studente ’n enkeldosis ontvang en is 397 studente volledig ingeënt. Van die personeel het 871 ’n enkeldosis ontvang en is 814 volledig ingeënt. By die sentrum het 774 familielede van personeel en studente ’n enkeldosis ontvang en 507 is volledig ingeënt.”

Benewens die inentingsentrum word weeklikse inligting oor Covid-19 en inentings aan die UWK-gemeenskap gekommunikeer, sê Davids.

“Die UWK neem ook die entstof na gemeenskappe en werk op 28 en 29 September saam met die Wes-Kaapse departement van gesondheid aan ’n inentingsveldtog in Bellville en Fisantekraal.”

Meer oor:  Inenting  |  Uk  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.