Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
COVID-19
Universiteite kan inentings verplig

Terwyl die debat heers oor die moontlikheid om tieners by die nasionale inentingsprogram teen Covid-19 in te sluit, oorweeg van die Wes-Kaap se grootste universiteite om inenting aanstaande jaar verpligtend te maak vir studente en personeel.

Dr. Nicholas Crisp, direkteur-generaal van die departement van gesondheid, het aan die hand van die Suid-Afrikaanse Gesondheidsproduktebeheerraad (Sahpra) se onlangse goedkeuring vir die noodgebruik van die Pfizer-entstof vir kinders van 12 jaar en ouer gesê die inenting van kinders kan dalk voor die einde van die jaar begin.

Foster Mohale, woordvoerder van dr. Joe Phaahla, minister van gesondheid, het gister gesê daar is geen “onmiddellike besluit” om mense jonger as 18 by die nasionale inentingsprogram in te sluit nie, maar “konsultasies is aan die gang”.

Intussen sal die Universiteit van Kaapstad (UK) se senaat Vrydag die moontlikheid bespreek om inenting as ’n toelatingsvereiste tot die universiteit te stel.

Luidens ’n omsendbrief wat die universiteit Maandag aan studente gestuur het, word voorgestel “dat elke student, as ’n vereiste om volgende jaar te kan registreer, gevra sal word vir ’n bewys dat hulle ingeënt is”.

Alle personeellede sal ook volgens die voorstel ingeënt moet wees.

Sowat 130 professore en ander akademici van die UK steun die voorstel. Die studenteraad sal ook Vrydag die uitslag van ’n meningspeiling onder studente oor verpligte inenting aan die senaat voorlê. Indien die senaat die voorstel steun, sal hy dit na die universiteitsraad verwys vir ’n finale besluit.

Die Universiteit Stellenbosch wag nog op die aanbeveling van ’n spesiale taakspan wat aangestel is om die kwessie te ondersoek alvorens hy sal besluit om ’n soortgelyke beleid in te stel al dan nie.

’n Woordvoerder van die universiteit sê “dit bly ’n institusionele prioriteit vir die US dat alle personeellede en studente ingeënt word – in die belang van gesondheid en veiligheid”.

Ten spyte van die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) se veldtog om sy personeel, studente, hul ouers en eggenote te laat inent, bly inentings aan dié universiteit vrywillig, sê Nashira Davids, die UWK se woordvoerder.

Onderwysvakbonde is van mening verpligte inenting vir leerlinge is nie haalbaar voordat volwassenes verplig word nie.

Basil Manuel, uitvoerende hoof van die onderwysersvakbond Naptosa, sê sonder die inenting sal leerlinge egter steeds moet beurte maak om skool by te woon en skoolsluitings sal ’n groot bedreiging bly.

Dit is belangrik om te voorkom dat skole aanhoudend toegemaak moet word. Jy wil ook nie hê jou kind moet siek word wanneer hy eindeksamen moet skryf en dit dan die volgende jaar sal moet oordoen nie.

Mugwena Maluleke, woordvoerder van die onderwysersvakbond Sadou, sê omdat ouers hul toestemming sal moet gee vir die inenting van hul kroos, moet die fokus eerder wees om hulle te oortuig om dit vrywillig te laat doen.

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), sê hulle sou die inenting van kinders ondersteun as die wetenskap dit voorskryf.

Prof. Mignon McCulloch van die Suid-Afrikaanse Pediatriese Vereniging sê meer ouer tieners het weens die Delta-variant van SARS-CoV-2 siek geword omdat hulle baie soos jong volwassenes daarop reageer.

Dr. Cloete Jansen van Vuuren, ’n spesialis in oordraagbare siektes, sê die rede waarom kinders ingeënt moet word, is om die kans op die oordrag van die koronavirus te verklein.

“Dit is belangrik om te voorkom dat skole aanhoudend toegemaak moet word.

“Jy wil ook nie hê jou kind moet siek word wanneer hy eindeksamen moet skryf en dit dan die volgende jaar sal moet oordoen nie.”

Dr. Angelique Coetzee, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging, verwag dat net kinders met onderliggende siektetoestande eers ingeënt sal word.

Volgens haar is dit steeds die geval dat gesonde kinders nie so erg siek word soos volwassenes nie omdat kinders ’n sterk natuurlike immuunrespons het.

“Entstowwe sal egter baie hulp bied aan kinders wat nierversaking, kanker of MIV/vigs het of ’n orgaanoorplanting ondergaan het,” het Coetzee bygevoeg.

Meer oor:  Koronavirus  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.