Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
wildveeartse
Chirurgie red renosters só
Metaalkappie op wonde geplaas
Dr. Johan Marais in sy kantoor by Onderstepoort waar hy deesdae die meeste van sy tyd daaraan spandeer om renosters se gesigte deur middel van chirurgie te rekonstrueer. Foto: Brendan Croft

JOHANNESBURG. – Dit is ’n onbeskryflike emosionele gevoel wat ’n mens kry as jy langs ’n dier hurk wat 3 ton weeg, hy lééf nog en byna die helfte van sy gesig is weggekap. Só sê dr. Johan Marais, wildveearts en chirurg van Onderstepoort.

Marais en sy kollega, dr. Gerhard Steenkamp, ook van Onderstepoort, het sedert 2011 rekonstruksies gedoen op sowat 60 renosters wat landwyd slagoffers was van stropery.

Sowat 55 van dié renosters leef vandag nog. Baie van hulle word steeds behandel omdat dit in sommige gevalle tot 18 maande duur voor die dier “gesond” is.

Marais was verlede week een van die sprekers by Outraged South African Citizens Against Poaching (Oscap) se internasionale beraad oor die lewensvatbaarheid, al dan nie, van die oopstel van die handel in renosterhoring. Dit is by Onderstepoort gehou.

“As iemand drie jaar gelede vir my gesê het ek gaan in die toekoms rekonstruksie-operasies op renosters uitvoer, sou ek hulle nie geglo het nie.”

Wat hy en sy kollega die afgelope paar jaar gedoen het, kan in baie opsigte as baanbrekerswerk beskou word, omdat wildveeartse tot onlangs nog só min van die anatomie en fisiologie van renosters geweet het.

“Wildveeartse het hulle voorheen nie veel aan hierdie prehistoriese diere gesteur nie, maar skielik was die diere in die kollig omdat hulle met twee stukke goud op hul gesigte rondloop.

“Vandag weet ek en Gerhard heelwat meer van die dier se gesig, maar nog min van die res van sy lyf. Ons weet niks van die anatomie van hul bene nie. Nou weet ons darem al hoeveel antibiotika, pynstillers en verdowingsmiddels om vir hulle te gee,” vertel Marais.

“Ons ‘leen’ deesdae baie van dit wat ons weet van perde.” Marais sê sekere liggaamsdele van die renoster stem in ’n mate ooreen met dié van perde.

“Hierdie werk wat ons nou doen, moes al tien jaar gelede gedoen gewees het. Ek hoop nie die tyd loop uit vir renosters nie. Hulle word teen so ’n geweldige tempo – sowat drie per dag – gestroop.”

Die navorsers by Onderstepoort het dit intussen reggekry om driedimensionele beelde te maak van die renoster se kop om vas te stel hoe chirurgiese ingryping gedoen moet word om die diere se lewens te probeer red.

Die diere ervaar onbeskryflike pyn wanneer hul horings afgekap word. Die rekonstruktiewe operasie en wondbehandelings is ook vol uitdagings omdat die dier se vel so dik is.

Marais en Steenkamp het onlangs ’n metaalkappie ontwerp wat hulle as ’n deksel op die wond sit en vasskroef omdat die renosters die hegmateriaal wat vroeër gebruik is, afgeskuur het.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.