Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
UIT DIE ARGIEF
Die Westdene-busramp: 30 jaar later
Waar is mý kind?
Só het Beeld die oggend van 28 Maart 1985 berig met die opskrif: Waar is mý kind?
Só het Beeld die oggend van 28 Maart 1985 berig, onder die opskrif: Waar is mý kind?
Die siel van Triomf (Sophiatown), 'n woonbuurt net wes van die middestad van Johannesburg, is uitgeskeur deur die dood van 42 van sy jong inwoners in die grootste ramp van sy soort ter wêreld. Woensdagmiddag het die dood meer as een keer in &ea

Meer as veertig dood in busramp

"Waar is mý kind?"

Hierdie wanhoopskreet het gister by die Westdene-dam soos 'n refrein opgeklink. Skuins voor halftwee het 'n drama hom hier begin ontvou deurdat 'n verdiepingbus vol kinders van die Hoërskool Vorentoe op pad na Triomf van die pad in die dam gestort het.

Skaars 'n uur later, terwyl die lyke, gekleed in die maroen, wit en grys van die skool, een ná die ander voor duisende geskokte oë na die oppervlak gebring is, het Suid-Afrika geweet: die grootste kinderramp nog het die land getref.

Lees ook 

■ 30 jaar ná die Westdene-busramp: ‘Dit is elke jaar moeilik’

■ ​Lesers herleef Westdene-busramp: 'Ek onthou die bloedstollende gil'

■ ​Westdene-busramp: ’n Mens kan nooit weer dieselfde wees nie, sê prof. Nelus Niemandt

Met druktyd was minstens 42 kinders van die Hoërskool Vorentoe in Johannesburg dood. Deur die nag het duikers in die troebel water na nog lyke gesoek.

In die J.G. Strijdom-Hospitaal* is vanoggend vroeg nog om die lewe van 2 kinders geveg en 5 word behandel. Altesaam 27 is gisteraand ná behandeling ontslaan.

Afgryslike en hartroerende tonele het hulle afgespeel terwyl van die kinders gillend in veiligheid probeer kom het. Van die seuns wat daarin geslaag het om onder die water uit die bus te kom, het paniekbevange in die verkeerde rigting, weg van die wal, geswem en verdrink. 

Geharde polisiemanne en koerantmanne het gehuil terwyl 'n dramatiese redpoging aan die gang was om die oorlewendes te probeer red en kermende moeders die polisiemanne gesmeek het om uit te vind waar hul kinders is. "Sê my tog asseblief, meneer, waar is mý kind?" Talle mense, veral leerlinge van die skool, het op die toneel ineengestort en moes behandel word.

Laataand, met die bus van die dood uitgehaal, het 'n makabere gesig die duikers begroet. Die bus se flikkerligte het nog aan en af geflits. Die klokkie wat lui om aan te dui dat iemand by die volgende halte wil afklim, het geskril...

* Tans die Helen Joseph-hospitaal

Vier mobiele hyskrane het die rampbus ná ses uur uit die water gehys.
Duikers soek in die troebel water van die Westdene-dam.
Sê my tog asseblief, meneer, waar is mý kind?

'n Hulpfonds vir naasbestaandes van slagoffers en 'n komitee om begrafnisreëlings te koördineer, is reeds op versoek van min. Pik Botha, wat lid van die parlement vir Westdene is, in die lewe geroep.

Die bestuurder van die bus, mnr. W.P. Horn, was gisteraand laat nog in 'n bedenklike toestand, volgens 'n woordvoerder van die J.G. Strijdom-Hospitaal.

Die sterftesyfer sou aansienlik hoër gewees het as vier mans nie onverskrokke in die dam gespring en met hul kaal hande van die bus se ruite uitgebreek het nie. Hulle het verskeie kinders van 'n gewisse watergraf gered.​

Volgens die kinders wat lewend uit die bus gekom het, was daar algehele chaos toe die ongeluk gebeur. In hul paniek om uit te kom, het hulle mekaar vertrap en van die bus se banke wat gebreek het, het van die kinders teen die kop getref.

Smartlike tonele het hulle ook gisteraand by die J.G. Strijdom-Hospitaal en die lykhuis in Johannesburg afgespeel waar honderde ouers vreesbevange en duidelik erg gespanne sit en wag het om te hoor wat van hul kinders geword het. Moeders van die slagoffers het heeltemal histeries geword. 

Die verdiepingbus het die reling van die brug binne die eerste derde van die brug getref en die dam in gejaag. Dit het 10 m van die wal af regoor die die middel van die brug in die middel gesink en in die modder vasgeval. 

Teen gisteraand kon nog nie verklaar word waarom die bus buite beheer geraak het nie. Die bus het weens 'n onverklaarbare rede skielik links geswenk. Die moontlikheid bestaan dat 'n motor teen die bus gebots het, maar dit kon nog nie bevestig word nie.

Duikspanne van die polisie en lede van die ambulansdiens se paramediese spanne was binne minute op die toneel. 'n Boot is sowat 'n halfuur ingespan om die duikers te help.

Hulle het gesterf

​Teen druktyd gisteraand was die amptelike dodesyfer in die Westdene-busramp 42. Die polisie het die volgende 36 name bekend gemaak (die ander moes nog uitgeken word):

■ Annetjie Blignaut (13)

■ Anna Botha (15)

■ Henriëtta Catharine Botha (16)

■ Denise Coetzee (16)

■ Linda du Plooy (14)

■ Reinette du Plooy (16) 

■ Hendrik Dreyer (13)

■ Francois du Toit (13)

■ Jacobus Els (14)

■ Karen Erasmus (16)

■ Fransina Fritz (14)

■ Adrianna Horn (16)

■ Anel Jacobs (16)

■ Lilanie Jooste (14)

■ Pieter Koen (17)

■ Clasina Kruger (16)

■ Marietjie Kruger (14)

■ Riaan Lira (14)

■ Madeleine Ludick (12)

■ Cornelius Mans (14)

■ Elmari Marshall (16)

■ Belinda McClachlan (14)

■ Rina Meyer (14)

■ Mary Anne Miles (16)

■ Annatjie Morris (14)

■ Albertus Ouwenkamp (13)

■ Betsie Pretorius (15)

■ Connie Pretorius (17)

■ Hester Reynders (15)

■ Thelma Rautenbach (15)

■ Charl Strydom (13)

■ Vinette Swanepoel (16)

■ Andries Swart (13)

■ Elsa van Heerden (17)

■ Petrus van der Westhuizen (13)

■ Deon Venter (17)

Die ouers van 'n st. 7-leerling, Annelie van Tonder, het bevestig dat sy ook dood is. By die J.G. Strijdom-Hospitaal is vasgestel Tanja Pieters, Jacqueline Hurwitz en Michael Baretta is laataand daar oorlede.

Oor Adri Kleynhans en Adrianne Helm was daar nog onsekerheid.

(Let wel: Hierdie is nie die finale lys nie.)

Die reddingspanne kon in daardie stadium nog van die kinders betyds in veiligheid bring.

Tientalle ambulanse, noodvoertuie en helikopters was ook gou op die toneel en die reddingspanne het voortgeveg om van die vasgekeerde kinders uit te haal. Honderde omstanders het in afgryse toegekyk hoe een lykie ná die ander na die oppervlak gebring word.

Dokters het op die toneel geveg om die lewens van kinders. Volgens een van die dokters moes die ramp hom binne sekondes afgespeel het, omdat toebroodjies en kougom nog in van die kinders se monde was.

'n Uur ná die ramp was die meeste beseerdes weggebring. Duikers het toe lyke uit die boonste vlak van die bus gehaal. Daarna is geprobeer om die bus uit te lig om nog lyke onderin die bus uit te kry. Die bus was toe nog in die slik en modder op die bodem van die dam vasgesuig.

In 'n stadium is apparaat onder die water gevat om die bus mee oop te sny. Sodoende is die res van die kinders uitgehaal. Eers gisteraand omtreeks sewe-uur is daarin geslaag om die bus uit die water te lig. Die bus is nie ernstig beskadig nie.

Die duikers se taak is baie bemoeilik deur die slik en modder in die water wat om die bus opgewarrel het. Die lyke van die kinders is eers deur die duikers op die dak van die bus gelê voordat dit met 'n draagbaar oor die sowat tien meter water na die kant getrek is.

In 'n stadium het die duikers die lyke van die kinders so vinnig uitgebring dat daar 'n tekort aan komberse ontstaan het om die gesigte mee toe te maak. Die honderde mense wat om die toneel ​saamgedrom het, het die afgryslike gesig in stilte aanskou.

Nadat al die lyke uit die bus gehaal is, het die duikers nog toue om die dak van die bus gespan in 'n poging om die bus uit die dam te lig. Gebreekte banke en skoolboeke het uit die bus gedryf soos dit uit die water gelig is.

Later die middag is toue in die water gespan om die duikers in hul soektog na nog lyke te help. Die dam is deur die nag deurgesoek met nette wat oor die bodem gesleep word.

Duikers van die polisie, brandweer, verkeersdepartement en 'n duikklub het mekaar deurentyd afgelos terwyl hulle 'n vasgestelde soekpatroon met behulp van dryfboeie in die modderige water gevolg het.

Volgens mnr. Koos Nel, een van die verkeersdepartement se twee duikers, sou hulle die dam deur die nag stelselmatig deursoek.

Mej. Marietjie Harmse, 'n aanvallige vrou van Boksburg, het omstreeks nege-uur opgedaag en haar hulp aangebied. Sy is 'n opgeleide duiker en hoewel sy met siekverlof is, het sy onmiddellik van Boksburg na die Westdene-dam gery om hulp aan te bied.

Verskeie nuuskieriges het tot laat teen die tydelike afskortings aan weerskante van die brug saamgedrom. 'n Swartkopvrou het teen die tralies geleun en hard gesnik. Sy wou of kon nie sê of van haar familie in die bus was nie.

Helde van die Westdene-busramp

Só het Huisgenoot oor Pieter Koen, een van die Westdene-busramp se helde, berig.

23 Maart 2005: Kind waarop enige ouer trots sou wees

Deur Jo-Ann Floris

Dit verbaas haar nie dat haar seun gesterf het terwyl hy besig was om ander mense te help nie.

Dis 20 jaar later en mev. Marie Koen, wat saam met haar man aan die Wes-Rand woon, het 'n glimlag en trots in haar stem as sy praat oor haar seun, Pieter.

Hy het gesterf terwyl hy probeer het om van sy skoolmaats uit die Westdene-dam te red oomblikke nadat hy uit die dam gered is.

"Een van die eerste mense wat hy na veiligheid gebring het, was sy niggie, Karin Theron. Ek weet nie wat uiteindelik gebeur het nie, of hy te moeg geraak het of iets anders nie. " 'n Mens wil nie meer daaroor bespiegel nie, want wie weet wat regtig gebeur het?"

Met die herdenking van dié tragedie onthou sy Pieter vir die seun wat hy was. "Altyd behulpsaam, sorgsaam. Hy was 'n langafstandatleet en 'n baie goeie swemmer. Hy het baie sportsoorte beoefen."

Luidens berigte destyds het Koen, toe 17 jaar oud, daardie noodlotsdag vyf kinders van 'n gewisse waterdood gered. Hy het 'n sesde keer ingeduik.

Dié keer het hy nie lewend na die oppervlak teruggekom het.

Koen is ná sy dood vereer met die Wolraad Woltemade-toekenning vir dapperheid.

Mev. Koen het destyds gesê vriende het haar getroos en gesê sy moenie bekommerd wees nie, omdat haar seun so 'n sterk swemmer was.

"Party het vir my gesê hy is veilig, want hulle het hom op die bus se dak gesien."

Sy het vertel hoe verlig sy was oor dié nuus, want toe kon sy na haar dogter, Ronél (toe 14 jaar), begin soek. Ronél het oorleef.

Nou nog praat mev. Koen met 'n glimlag oor Pieter, die "kind waarop enige ouer trots sou wees".

"Hy het my nie een dag se kommer gegee nie. Die Here het ons regtigwaar gedra deur alles, steeds.

"Ons kry ook nog baie steun van vriende en familie. Dié tyd van die jaar onthou mense maar altyd. Partykeer kom hier sommer net 'n SMS van 'n vriendin met 'n bemoedigende woordjie."

Die gesprek word onderbreek deur haar kleinkind wat ouma se aandag wil trek.

"Dis Xander Petrus Lukas. Hy het sy oom Pieter se name gekry," vertel sy.

En so laat dié kleuter hulle die verlede onthou, maar ook nuwe hoop kry in die toekoms.

Danie Theron, 'n leerling wat drie ander kinders gered en oorleef het, het later selfmoord gepleeg.

Hy het hom sowat vier jaar ná die ramp in sy kamer doodgeskiet - niemand weet hoekom nie. Hy is ook destyds ná die ramp vereer met die Woltemade-medalje.

■ Uit Beeld, twintig jaar ná die ramp.