Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
‘Dierbare mense’ in Sophiatown aangeval, man (71) sterf

In die vroeë ure van Woensdagoggend is ’n bejaarde man en sy vrou in hul tuinwoonstel in Sophiatown deur twee mans aangeval. Die man het aan sy beserings beswyk.

Dit volg net ’n enkele dag nadat die misdaadstatistieke bekend gestel is en ’n styging in moordsyfers in Suid-Afrika getoon het.

Volgens ao. Thomas de Bruyn het die verdagtes toegang tot die woonstel gekry deur ’n venster wat oop was.

Die man, wat as die 71-jarige Gippie Roodt geïdentifiseer is, het op die toneel aan sy beserings beswyk terwyl sy vrou, Ailene (73), na ’n hospitaal gebring is en erg getraumatiseer is.

“Die man is vermoedelik gewurg en twee keer met ’n mes gesteek terwyl die vrou ook gewurg is. Die man se lyk is in sy bed aangetref en die vrou is nie ernstig beseer nie,” het De Bruyn gesê terwyl forensiese ondersoekers besig was om die toneel te fynkam op soek na vingerafdrukke.

Die verdagtes het met juwele, ’n televisiestel en ’n DVD-speler gevlug.

’n Saak van huisroof en moord is geopen.

Die verdagtes, vermoedelik twee bruin mans, is nog nie geïdentifiseer nie.

Die paartjie het in die erf van hul dogter, Marlene Britz, gewoon.

’n Buurman, wat net as mnr. Cronje bekend wil staan, het aan Netwerk24 gesê hy het wakker geword en ’n figuur in sy erf gewaar.

“Ek het op die persoon geskree en gevra wat hulle in ons erf soek waarna hulle oor ons muur gespring het,” het Cronje gesê.

“Ek kon nie enige gesigte uitken nie en ek het nie uitgegaan nie, want ek was bekommerd oor ons veiligheid.”

Die huis is omring met hoë mure. ’n Buurman se huis het kameras wat oor die huis se hek afkyk, maar net regstreeks uitsaai sonder om beeldmateriaal op te neem.

Dauw Steyn, voorsitter van die Sophiatown-gemeenskapspolisiëringsforum, meen misdaad in dié omgewing is nie van so aard dat dit hand uitruk nie, maar dat dit wel die tweede moordvoorval in minder as ’n maand in die omgewing is.

“Die grootste probleem wat ons in die omgewing ervaar, is dwelmhandel, maar nie moorde nie,” het Steyn gesê.

Hy het gesê dat ’n man sowat ’n maand gelede op straat in Sophiatown doodgesteek is.

Volgens Johan Pelzer, ’n buurman wat die paartjie al sedert 1981 ken, was hulle geliefde mense.

“Hulle was dierbare mense,” het Pelzer gesê.

Britz was nie beskikbaar vir kommentaar nie.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.