Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
‘Dis die mooiste plek’
Beeldhouer besoek sy Madiba-beeld op Naval Hill eerste keer
Kobus Hattingh by die Madiba-beeld op Naval Hill met ’n bronsreplika daarvan van 51 cm. Foto: Charl Devenish

KOBUS HATTINGH, beeldhouer van die 6,5 m hoë Nelson Mandela-bronsbeeld op Naval Hill, het Bloemfontein besoek om te kyk waar sy beeld staan.

Hattingh sê dit is die mooiste plek waar enige van sy werke al oor die wêreld heen staangemaak is.

“Die uitsig van die beeld oor Bloemfontein is asemrowend.”

Hattingh het Mandela persoonlik geken.

“Ek het ses besoeke aan sy huis in Houghton gebring toe ek besig was met die maak van ’n ander beeld.

“Só kon ek die mens Nelson Mandela beter leer ken. Ek het tot die besef gekom dat almal wat mooi dinge van hom sê, geensins oordryf het nie. Dis alles waar en nog baie meer. Sy insig asook hoe opreg nederig hy met gewone mense omgegaan het, sal my altyd bybly.”

Hattingh sê hy kon op 13 Desember 2012 met die onthulling van die Mandela-beeld op Naval Hill deur pres. Jacob Zuma, ongelukkig nie teenwoordig wees nie. Dit was weens swak gesondheid.

“Maar met my besoek aan Bloemfontein die afgelope week dink ek nou dit is die heel mooiste plek waar my werk al ooit gestaan het.”

Hattingh het ook ’n 51 cm-bronsreplika van die beeld gemaak.

Die doel was om ’n aandenking van die onthulling aan Zuma en ander hooggeplaastes te gee. Enkeles hiervan is nog vir versamelaars beskikbaar, sê Hattingh.

As beeldhouer is hy egter ook vir heelwat ander monumente en beelde in Suid-Afrika en in die buiteland verantwoordelik.

Die eerste amptelike 6 m hoë Mandela-beeld wat in Maart 2004 op Sandton Square onthul is, is ook sy skepping. Die naam van die plein is intussen na die Nelson Mandela Square verander.

Verder is daar onder meer ook beelde en monumente in Maponya Mall in Soweto, by die Suid-Afrikaanse ambassade in Engeland, by die Nelson Mandela-stigting in Houghton, in Amerika, Australië, Rusland en vele ander plekke.

Hattingh sê hy is onlangs ook aanbeveel en voorgestel aan mense van Suid-Amerika wat ’n beeldhouer nodig het om ’n groot beeld van Mandela te maak. Hulle wil dit in Santiago, die hoofstad van Chili, plaas.

Hattingh sê terwyl hy aan ’n beeld werk, boei dit hom al hoe meer totdat dit ’n deel van homself word vir die hele tyd wat hy daaraan werk.

“Dit raak so dat jy elke dag meer en meer wil doen om die vordering self te sien, te waardeer en te beleef.”

Hy sê dit is ’n wonderlike gevoel om van rou materiaal, waarin daar letterlik duisende vorms en beelde opgesluit lê, te begin werk. “Net jy alleen kan besluit hoe dit gaan lyk. Op dié manier kan jy iemand vir altyd verewig.”

Hy sê dit was ’n voorreg om vir meer as ’n jaar die Mandela-beeld op Naval Hill syne te noem.

Gewoonlik is dit net totdat die beeld onthul word. Dan moet hy daarvan afskeid neem.

“Met die maak van die Mandela-beeld op Naval Hill kon ek met die brons-gietproses in Nelspruit ’n paar keer besoek aflê om die vordering te besigtig, maar iets het nog gehaper voordat ek afskeid kon neem.

“Ek moes self kom kyk hoe dit op sy standplaas lyk.”

Hattingh sê hy kon in sy wildste drome nie ’n meer fantastiese uitsig vir die beeld voorstel nie.

“Die kombinasie van die huidige plasing, tesame met die geskiedenis en die posisie waar die beeld in die rigting kyk waar die ANC sy ontstaan gehad het, maak dit geweldig besonders.”

• Besoek www.kobushattingh. co.za vir meer inligting en foto’s van beelde wat Hattingh gemaak het.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.