Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Dis ’n gek drankwet
Kort ná ‘oeps!’ met SEB wil departement die drinkers uitdroog
SABMiller se Castle Lager-bier is ’n borg van die Springbokke, die Proteas én Bafana Bafana. Foto: Getty
As die regering ons lewenstyl, wat ons reg is, wil bepaal, moet hulle ook na vetsug kyk . . .

Die departement van handel en nywerheid staan al weer aan die spits van ’n rits onbesonne voorgestelde wetswysigings.

Hierdie keer is die drankwet in dié departement se visier en die voorgestelde wysigings is genoeg om enigiemand dronk te slaan.

Soos reeds bekend is, wil die regering die bemarking van drank verbied – wat ook borgskappe deur drankprodusente insluit. Nou word daar beoog om restaurante of ander kleinhandelaars wat drank aan ’n dronk persoon verkoop het, aanspreeklik te hou as dieselfde persoon ’n ongeluk veroorsaak het.

Verder word daar ook gemik om die wettige drinkouderdom van 18 tot 21 te verhoog, om drankverkoopure te verkort en geen drankwinkels binne 500 m van skole, plekke van aanbidding of selfs woongebiede toe te laat nie.

Dié voorstelle kom kort op die hakke van die bohaai oor die departement se omstrede plan om die impak van breë bemagtiging van swart gemeenskappe op die bemagtigings­telkaart te verwater.

In ’n dramatiese ommeswaai het die departement op 15 Mei hierdie voorstel – wat skaars ’n week tevore ingedien is – teruggetrek.

Op 20 Mei het die departement ’n gespreksdokument oor drankbeleid in die Staatskoerant gepubliseer, wat verskeie ingrypende voorstelle bevat om die drankwet van 2003 te wysig.

Dr. Johannes Jordaan, hoofekonoom by Economic Modelling Solutions, sê hoewel drankmisbruik ’n groot probleem is, dra die drankbedryf heelwat waarde by tot die ekonomie.

“Navorsing het bevind dat die regstreekse impak van die drankbedryf op die Suid-Afrikaanse ekonomie in 2009 ongeveer R116 miljard (toe sowat 4% van die ekonomie) was en die bedryf het regstreeks 87 000 werkgeleenthede verskaf,” sê Jordaan.

“Die impak is baie groter as al die waardekettings van die drankbedryf bereken word.”

Hoë alkoholinname is egter verantwoordelik vir sowat 6% van Suid-Afrika se jaarlikse sterftes, volgens die nasionale besering- en sterftesyfers.

In 2008 was hoë alkoholvlakke teenwoordig in 61% van moorde en 56% van padsterftes.

Die departement se planne om drankadvertensies te verbied kan die bruto nasionale produk met tot R7 miljard laat krimp en ongeveer 12 000 werkgeleenthede verlore laat gaan, volgens navorsing deur Econo­metrix.

Tans is SABMiller se Castle Lager-bier ’n borg van die Springbokke, die Proteas én ­Bafana Bafana.

Jordaan sê studies verskil oor of advertensies wel tot hoër drankverbruik lei. “Na my mening word drankmisbruik baie meer deur sosiale norme en waardes beïnvloed as deur advertensies en regulasie.”

Jordaan glo die beste manier om drankmisbruik te verminder is om die huidige wetgewing ­beter toe te pas en te fokus op gebiede waar drankmisbruik algemeen is.

Leon Louw, uitvoerende hoof van die Vryemarkstigting, beskryf die voorgestelde wysigings in die Staatskoerant as “oppervlakkige onsin” en “paternalisties”.

“As die regering die verantwoordelikheid wil aanvaar om ons lewenstyl, wat ons reg is, te bepaal, moet hy ook na vetsug kyk, wat ook groot probleme skep,” sê Louw.

Hy meen ’n verbod op drankbemarking is ’n skending van verbruikersregte omdat dit inligting van verbruikers weerhou.

Louw sê dit is belaglik om restaurante vir dronkbestuurders aanspreeklik te hou.

“Gaan Pick n Pay aanspreeklik gehou word as iemand met ’n steakmes gesteek word?”

Die voorstelle oor die 500 m-reël en die verhoging van die drinkouderdom is volgens hom ewe onsinnig.

“Gaan die skoolseun wat 600 m op sy fiets moet ry om drank te koop ná 500 m omdraai? En hoekom is ’n 18-jarige volwasse genoeg om te stem, maar nie om te drink nie?” sê Louw.

Die verhoging van die drink-ouderdom in Amerika het net tot ’n klein daling gelei in die persentasie universiteitstudente wat drinkers is (van 81% tot 75%), volgens navorsing deur Ruth Engs en David Hanson van die Indiana-Universiteit in die VSA. Die persentasie swaar drinkers het egter onveranderd gebly, het hulle gevind.

Louw sê in Europa het die verkorting van drankverkoop­ure nie gewerk nie. “Mense het eenvoudig meer drank voor sluitingstyd gekoop,” sê hy.

Die departement se voorstel dat kuierplekke nie later as middernag drank mag verkoop nie, is billik, volgens Churchill Mrasi, president van die Suid-Afrikaanse vereniging van toerisme en gasvryheid (Saltha). Maar hy is ongelukkig oor die voorstel dat daar ná 18:00 op ’n Sondag nie meer drank bedien mag word nie.

Volgens Louw vergeet mense Suid-Afrika het tydens apartheid baie streng drankwetgewing gehad (in ’n stadium is swart mense selfs verbied om alkohol te koop). “Hierdie streng wetgewing is herroep omdat dit ondoeltreffend en teenproduktief was. Waarom probeer ons dit nou weer?”

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.