Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Dis ’n luggeveg!
Angola se nuwe vliegtuie kan ons Gripens ore aansit

Suid-Afrika kan sy dekade lange reputasie as heerser van die Suider-Afrikaanse lugruim verloor as hy nie ’n fyn oog hou op Angola en dié se kragtige nuwe vegvliegtuie nie.

In ’n tipiese dog fight (lug­geveg) sal die Suid-Afrikaanse vegvliegtuie egter nog die oorhand hê.

Angola kry eersdaags die eerste aflewering van Sukhoi-vegvliegtuie (Su-30) en sal teen volgende jaar volgens beplanning 12 daarvan hê.

Teen dié supersoniese reuse vertoon Suid-Afrika se Gripens effens lig in die broek.

“Die Sukhoi’s het ’n veel langer reikafstand. Boonop gaan Angola ook missiele koop wat tot buite sigafstand ’n teiken kan tref. Ongelukkig beperk verdedigingsbegrotingstekorte dat soortgelyke wapenstelsels vir die Gripens aangekoop kan word,” sê Helmoed-Römer Heitman, militêre kenner.

“Met die missiele, radars en die hoeveelheid tier in die tenk van die Sukhoi’s om vinnig weg te kom, sal dit beter wees om die Gripens eerder op die grond te hou.”

Angola se aankope van dié vliegtuie is deel van ’n multi­miljarddollar-moderniseringsplan vir sy weermag en word allerweë beskou as deel van dié land se ambisie om die eintlike grootbaas in Suider-Afrika te word eerder as Suid-Afrika.

Die Sukhoi’s is voorheen in die Indiese lugmag gebruik.

Kol. (afg.) Rama Iyer, voormalige vlieënier in die Indiese lugmag en daarna in die Suid-Afrikaanse lugmag, meen die nuwe militêre hardeware gaan nie ’n onmiddellike verskil maak aan die magsbalans in die streek nie.

“Angola se planne met die vliegtuie is egter ’n belangrike faktor om in gedagte te hou.

“Enige geo-politiese veranderings in alliansies in die streek kan natuurlik daarvoor sorg dat dinge vinnig verander,” sê Iyer.

Die Gripens het minder krag as die Sukhoi’s. Dít sal egter juis aan die Suid-Afrikaanse vlieëniers ’n voordeel gee as hulle in ’n luggeveg betrokke sou raak omdat die Gripens ratser is.

“In so ’n geveg is dit nie meer vliegtuig teen vliegtuig soos in die wêreldoorloë nie. ’n Vegvliegtuig is nou ’n stelsel bestaande uit die vlieënier, die vliegtuig, die radar en die wapenstelsels – ’n totale pakket.

“Ons weet te min van die Angolese vlieëniers se vernuf, hoe goed hulle tans opgelei word en wat presies die spesifikasies van die vliegtuie gaan wees om met volle sekerheid te sê,” sê Iyer.

Heitman stem saam dat die Gripen se kortafstand-missiele kan beteken dat die Sukhoi dalk net een in sy agterkant kan kry as hy gaan probeer wegkom.

Dít sal die einde van die Angolese vliegtuig wees.

Volgens Cobus Toerien, voormalige vegvlieënier en eskaderbevelvoerder van 2 Eskader wat tans die Gripens huisves, is daar ’n fyn lyn voor ’n land die lugoormag het.

“Die slaankrag van die Sukhoi is fenomenaal. As daar regtig die bedoeling van Angola sou ontstaan om Suid-Afrika se sleutelinstallasies te neutraliseer, is ons in die moeilikheid.

“Dié vliegtuig (weens sy lang reikafstand) kan byvoorbeeld oor die grens jaag en ons kragstasies flenters skiet.

“Of dit kan die lugmagbasis by Louis Trichardt aanval en die vliegtuie en aanloopbaan stukkend skiet. Dan beteken ons Gripens vir ons niks.”

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.