Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Dís ’n plaas, dís ’n hoewe, dís ’n moord
En dís hoekom die syfers verskil

Die polisie het sy definisie van ’n “plaas” en “hoewe” en wat as ’n plaasmoord geklassifiseer kan word, verander – daarom verskil sy eie statistieke hieroor.

Dit was die verduideliking wat gegee is van die verskil in die plaasmoordstatistieke wat hy in Oktober verlede jaar aan die Menseregtekommissie (MRK) voorgelê het en dít wat in Februarie aan Beeld gestuur is.

Burger- en landbou-organisasies het heftig kapsie gemaak oor die teenstrydighede in die syfers.

Volgens die syfers wat lt.genl. Solomon Makgale, nasionale polisiewoordvoerder, per e-pos aan Beeld gestuur het, is 48 plaasmoorde in die 2013-’14-boekjaar gepleeg.

Lees ook: ​Swartwater-plaasmoord: ‘Niks kan Louis-John terugbring nie’ en Afgetrede dokter op plaas vermoor

Maar volgens syfers wat genl. Riah Phiyega, polisiehoof, in Oktober verlede jaar aan die MRK gegee het, is die syfer 58.

Makgale het by navraag verduidelik hulle het dié syfers volgens hul definisie van ’n plaasmoord uit die polisie se saak-administrasiestelsel gekry nadat die MRK ’n verslag daaroor gevra het. Dit is nie amptelike misdaadstatistieke nie.

Lees: ​Plaasmoord-syfers: 'Polisie tas mis'

“Mense moet eerstens verstaan ons tref nie in ons amptelike misdaadstatistieke onderskeid tussen soorte moord nie,” het Makgale gesê.

“Ons het die plaasmoordsyfers teësinnig gedeel omdat mense daarop aangedring het, maar ons het geweet dit sal verwarring veroorsaak.”

Hy het gesê hulle was juis besig om die polisie se strategie vir landelike beveiliging van stapel te stuur toe die syfers aan die MRK bekend gemaak is.

Toe sy as polisiehoof aangestel is, het Phiyega “besef die landelike gebiede kan nie met dieselfde sektorpolisiëringstrategie as dorpsgebiede beveilig word nie, want afstand is ’n probleem”. Sy het toe ’n landelike beveiligingsplan voorgestel.

“Toe ons begin het om die strategie in te stel, moes ons spesifiek kyk na die definisie van ’n plaas, hoewe en plaasmoord. Maar daar word voortdurend aan daardie definisie geskaaf en dís hoekom die syfers verskil.”

Hy het later gesê die definisie van ’n plaasmoord as misdaad het nie verander nie en dat hulle moorde wat byvoorbeeld gepleeg is in onmin tussen plaasinwoners nie meer daarby insluit nie.

“Die polisie moet kyk na hul navorsing en die manier waarop hulle statistieke insamel,” het Mienke Steytler, navorser en hoof van media van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV), gesê.

“Om sulke foute te begaan en aan joernaliste te stuur, is kommerwekkend.

“Hoe swak is hul statistieke oor byvoorbeeld moorde op vroue in landelike gebiede en plakkerskampe dan nie? Ons praat hier van mense se lewe.”

Steytler het gesê die polisie in New York maak elke week statistieke oor ernstige misdade, soos moorde, verkragtings en aanrandings, bekend en dat dit in Suid-Afrika ook so behoort te wees.

Makgale het gesê hulle gaan nie na die syfers kyk nie, maar gaan eerder op die instelling van die landelike beveiligingstrategie fokus.

Musa Zondi, woordvoerder van die departement van polisie, het vroeër vanjaar ná ’n vlaag van plaasmoorde gesê mense “moenie te obsessief raak” oor die landelike beveiligingstrategie nie. Dit is in elk geval deel van die polisie se taak om mense te beskerm.

“Die strategie is net ’n raamwerk om die kommunikasie tussen belanghebbendes te verbeter,” het hy gesê.

■ Makgale het nie op herhaalde navrae gereageer oor wat die definisie van ’n plaas, hoewe en plaasmoord in Oktober en in Februarie was nie.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.